Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ek wens ek kon daar wees om Lufuno te beskerm

Sy wens sy was daar toe Lufuno Mavhungu geboelie is, skryf Louise Karsten. Sy wens sy kon haar teen die boelie beskerm en sy wens sy kon probeer het om die kinders wat alles dopgehou het laat verstaan het dat dit nie ’n prestasie is om ’n boelie te wees nie.

Ek wou nie die video kyk waarin die 15-jarige Lufuno Mavhungu, ’n skoolmeisie van Limpopo, herhaaldelik deur ’n medeleerling deur die gesig geklap word nie.

Maar ek het dit gekyk, want dit is wat in ons skole gebeur.

Lufuno was ’n tengerige meisie en sy lyk weerloos terwyl sy haarself teenoor die boelie, wat sigbaar groter as sy is, probeer uitdruk. Sy kry egter nie kans nie en word verskeie keer deur haar gesig geklap.

Sy klap nie een keer terug nie.

Dit gebeur ten aanskoue van jillende medeleerlinge wat lag en gil en die gebeure op hul selfone afneem. Vir ’n oomblik lyk dit asof die paparazzi op die toneel is. Niemand help Lufuno nie. Sy staan ook met haar rug teen wat lyk soos ’n muur en kan nêrens heen vlug nie.

Lufuno het later haar eie lewe geneem.

Lufuno is nie geboelie nie. Sy is aangerand, en op ’n tegniese punt is daar dalk selfs meriete daarin om te sê dat sy ernstig aangerand is.

Ek onthou een van my goeie vriendinne op skool se ma het haar eenkeer deur die gesig geklap.

My vriendin was ontsettend ontsteld daaroor. Sy was so geskok, sy kon nie eens daaroor huil nie. Ek onthou net haar gesig was wasbleek en terwyl sy my daarvan vertel het, kon ek sien hoe droog haar mond was.

Ek dink nie daar kan iets meer vernederend en persoonlik afbrekend wees as om deur jou gesig geklap te word nie. Jou oë is by jou gesig. Jou gesig is waar jy vier van jou sintuie gebruik. Dit maak jou so weerloos as jy in jou gesig geklap word.

Dit het in my ‘spogskool’ gebeur

Lufuno Mavhunga

Dit was beslis nie die eerste keer dat so iets met Lufuno gebeur het nie. Sy is voor dit al deur die meisie geboelie, en wie weet deur wie nog. Gewoonlik het ’n boelie ook mos lafhartige aanhangers.

Dit is seker daarom dat Lufuno die boelie op WhatsApp moes blok.

Die woord “spogskool” het in die opskrif van die berig oor Lufuno verskyn. Kommentare van lesers het gevra hoe dit dan ’n spogskool genoem kan word as sulke dinge daar gebeur.

Ek was ook in ’n spogskool, ’n skool wat beskou word as een van die beste hoërskole in die ooste van Pretoria.

Ek onthou dat daar gedurende my skoolloopbaan ook sulke voorvalle was. Dit was wel nie so erg soos dít wat met Lufuno gebeur het nie, tog was dit erg vir die kinders wat geboelie is.

Ek onthou selfs tot vandag toe nog die name van die twee meisies wat by een spesifieke geveg betrokke was. Ek onthou hoe almal pouse na die vierkant gehardloop het en hoe hulle twee mekaar aangegluur het.

Dit was twee mooi meisies. By die denkbeeldige bokskryt het almal van ons geweet wie die boelie is en wie die slagoffer.

Al die kinders het ’n kring om hulle gevorm terwyl die seuns en meisies geskree het: “Barney! Barney!” Ek weet nie hoekom almal daardie woord geskree het nie, maar dit is wat die kinders geskree het wanneer leerlinge mekaar wou slaan.

Ek onthou die slagoffer was ’n baie mooi meisie. Sy het altyd met ’n oogpotlood vir haar ’n moesie op haar ken gedruk, kompleet soos Cindy Crawford. Ons almal het geweet dit was nie ’n regte moesie nie.

As ek reg onthou, was dit ook een van die dinge waaroor die boelie haar gespot het. Ek onthou die boelie het in ’n stadium haar vinger natgelek en die “moesie” van die slagoffer se ken weggevee . . .

Angs op kamera vasgelê

Terug na Lufuno. Wat met haar gebeur het, gebeur in baie skole – elke dag. Dit gebeur in skole wat nie goeie skole is nie én in goeie skole.

Al hoekom ons vandag meer daarvan bewus is, is omdat kinders nou selfone het en hulle die gebeure op kamera kan vasvang.

Hoekom wil kinders dit op selfone vasvang? Dit is so goed soos om aandadig aan ’n misdaad te wees. Jy het nie geslaan nie, maar jy het gekyk en niks gedoen nie.

Ek dink die selfone het bygedra tot Lufuno se verdere vernedering – die feit dat haar oomblik van absolute angs op kamera vasgevang is.

Almal wat daarna kyk, kan haar oomblik van hel oor en oor beleef. Almal kan kyk hoe niemand haar help nie.

Is dit nie ironies dat almal die geboelie veroordeel, maar dat daar nou groepe op sosiale media gestig is wat Lufuno se boelie ook boelie nie?

Ek wens ek was daar toe dit met Lufuno gebeur het. Ek wens ek kon saam met haar by die skool wees en haar teen die boelie beskerm. Ek wens ek kon teen die boelie opstaan en die res van die kinders laat probeer verstaan dat dit nié ’n prestasie is om ’n boelie te wees nie.

Ek kan ook nie dink dat die boelie goed kan voel oor haarself nie. Ek dink haar hart pyn.

Is dit nie ironies dat almal die geboelie veroordeel, maar dat daar nou groepe op sosiale media gestig is wat Lufuno se boelie ook boelie nie?

En terwyl ons samelewing deurtrek is van maatskaplik-ekonomiese probleme, van kinders wat emosioneel verarm is, kinders wat geslaan word en geboelie word, kibbel mense weer oor of God ’n man of ’n vrou is.

Eerlikwaar? Wie gee om?

• Karsten is ’n skrywer en joernalis wat langs die Tuinroete bly. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Louise Karsten  |  Limpopo  |  Pretoria  |  Skole  |  Selfone  |  Boelies  |  Lufuno  |  Sosiale Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.