Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ek wil ook tjil en visvang en net whatever sê
Charles Smith

Ek is omtrent omgeboul toe my 20-jarige dogter my in ’n koffieplek ’n “boomer” noem. “’n Wat?” Ek ken die term “baby boomer”, maar wat is ’n “boomer”?

Dit is toe sy haar selfoon uithaal en my na Urban Dictionary verwys en sê “dit is ’n ouer generasie wat heeltyd kla oor jonger generasies”. En dit is wat ek is. Finish en klaar.

Ja well no fine, sê ek. Maar sorrie, ek verskil van jou. Boomers is die generasie ná die Tweede Wêreldoorlog wat stinkryk geword het en vere voel vir die aarde. Hulle het paleise en sewe bote. Dis mense soos Donald Trump, en ek is hul grootste vyand. So, hoe kom jy hierby uit?

Al wat ek gedoen het, was om na ’n paartjie langs ons te wys. Die kêrel dra ’n verspotte tennis-truitjie oor ’n pienk hemp wat nonchalant opgetrek is en die meisie dra ’n modieuse rompie. Albei met duur sneakers. Te koel.

“Beslis nie Bloemfonteiners nie. Dalk Kapenaars,” sê ek.

“Jy ís ’n boomer. Jy lewer net kritiek op ons. Hulle is koel,” kap sy.

“Die modegier is tog belaglik. Kyk, dít is nou ’n Bloemfonteinse paartjie,” sê ek en wys na ’n kêrel met jeans en vellies.

Ek sukkel om millennials te verstaan. Hulle dra hul angs en selfbeheptheid saam soos hul waterkanne wat aldag in die hand is. Hulle val maklik vir sektes.

“Sien, jy is ’n boomer. Jy kla oor ons,” maak sy my stil. Dit stem my tot diepe bepeinsing.

Jip, ek is afwysend oor jonger generasies. Ek sukkel om millennials te verstaan. Hulle dra hul angs en selfbeheptheid saam soos hul waterkanne wat aldag in die hand is. Hulle sal ineenstort as hulle nie avo’s en volroom-jogurt in Woolies kry nie. Hulle val maklik vir sektes.

Generasie Z is meer blymoedig. Hulle is wêreldlinge en min gespin met politiek of die krisis in Mosambiek. Hulle sal van marshmallows of toast leef, dis om te ewe. Tradisies is só yesterday, maar hulle luister na ons 80’s-musiek.

En ja, ek is ’n grombeer. Die NP-generasie met sy Broederbond en kerkpolitiek en Christelik Nasionale onderwys het ons opgedonner. Niemand luister meer na ons stories oor die Grensoorlog en oorlewing in ’n koshuis in die tagtigs nie. Oor wat de heng sal ek en die knaap met die tennis-truitjie gesels, al verdien hy oor ’n jaar as ’n kwak per maand meer as ek in ’n jaar?

Ja, ons Rambo-generasie se braais is wild en ons musiek wilder. Ons struggle met kerk en owerhede, terwyl hulle tjil en hul pop luister en die lewe deur selfies waarneem.

Ek het twee jaar in die army en die Bosoorlog gemaak, maar sou nie soos my dogter in matriek self ’n jaar as au pair in Europa kon beplan nie. Ek beny hulle hul siening dat die lewe koel is, of hulle nou met Aussies trou of in Korea onnies word. Hulle praat verskeie tale met gemak, terwyl my tong vashaak op Vrystaatse Engels.

Ja, ons Rambo-generasie se braais is wild en ons musiek wilder. Ons struggle met kerk en owerhede, terwyl hulle tjil en hul pop luister en die lewe deur selfies waarneem.

Whatever, is hul motto, terwyl ons agter elke bos iemand wil sien wat sy naam gat maak.

Ek wil ook só word. Ek wil tjil en visvang en whatever sê vir strooi. Dis tyd om die R4-geweer in die Bos te los. Maar die jimmele hoor my, ek luister nie K-pop nie en eet nie noedels nie. Ek weet ook daar is ’n gat en ’n sekte agter elke bos, Kind. En dit is nie ’n boomer wat dit sê nie.

Meer oor:  Charles Smith  |  Army  |  Millenials  |  Boomer  |  Musiek  |  Grombeer  |  Bosoorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.