Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Eko-angs’ oor toekoms van aarde neem toe
Elise Tempelhoff

Navorsing oor klimaatsverandering het tot dusver hoofsaaklik gefokus op weersomstandighede en hoe dit die mens fisiek raak: gesondheidsprobleme, verlies aan lewens, besittings, infrastruktuur, die verandering van die geografie en noodwendige die gepaardgaande uitsterwing van spesies.

Navorsing word ook gedoen oor voedselskaarste weens droogtes, brande en oorstromings, asook menslike migrasie wat vir die eerste keer in Desember by die klimaatberaad in Pole erken is as onder meer klimaatverwant.

Maar hoe beleef en ervaar ons as mense hierdie veranderinge op ’n sielkundige vlak?

’n Groep sielkundiges van die American Psychological Association in samewerking met omgewingswetenskaplikes van Climate for Health en die nieregeringsorganisasie eco-America het in 2014 met navorsing begin oor die sielkundige uitwerking van klimaatsverandering op mense.

Hulle het verlede jaar in die verslag “Mental Health and Our Changing Climate: Impacts, Implications and Guidance” tot die gevolgtrekking gekom dat angs oor die toekoms van die aarde aan die toeneem is: “Ons kan met sekerheid sê al hoe meer mense ervaar stres en is bekommerd oor die potensiële impak van klimaatsverandering.”

Die navorsing wys dat tussen 25% en 50% van mense wat aan uiterste weersomstandighede blootgestel is, aan posttraumatiese stres ly

Dié groep navorsers, wat hulself in die Vereniging van Bekommerde Wetenskaplikes georganiseer het, sê hulle het voorlopig ooreengekom om daarna as eko-angs of ekologiese verdriet te verwys.

Vir baie mense is dit deel van hul daaglikse lewe. Die navorsing wys dat tussen 25% en 50% van mense wat aan uiterste weersomstandighede blootgestel is, aan posttraumatiese stres ly. Dink maar op eie bodem aan die hittegolwe wat ons die laaste tyd ervaar het, die droogtes, die waterskaarste in die Wes-Kaap en brande in die Suid-Kaap.

In Kalifornië is mense heeltyd op hul hoede vir brande, terwyl dié wat aan die Amerikaanse ooskus woon, gedurig op die uitkyk vir orkane is.

Mense begin al hoe meer besef klimaatsverandering is nie meer ’n bedreiging wat in die verre toekoms lê nie.

Die skrywers sê mense begin al hoe meer besef klimaatsverandering is nie meer ’n bedreiging wat in die verre toekoms lê nie.

Simptome van eko-angs sluit in ’n gevoel van selfverwyt, hulpeloosheid, depressie, woede-uitbarstings, verwarring en obsessiewe gedrag. Die sielkundiges stel voor dat mense soveel moontlik inligting oor klimaatsverandering moet inwin. Só bemagtig mense hulself en raak veerkragtig.

Niemand is van klimaatsverandering gevrywaar nie, daarom moet sosiale strukture en netwerke van vriende en familie versterk word. Raak betrokke by gemeenskapsaktiwiteite – dit dien as buffer teen “eko-angs vir die onbekende”. En baie belangrik, hou jou koolstofvoetspoor so klein as moontlik. Jy kan kompos maak, jou afval herwin, jou dieet aanpas deur minder vleis en meer plantgebaseerde voedsel te eet. Jy kan fietsry winkel toe. Probeer bure, vriende en familie inspireer om dieselfde te doen. Hou jouself fisiek gesond deur gereeld oefening te doen. Dít kweek optimisme.

En onthou: Vrees voed vrees.T

empelhoff is ’n omgewingspesialis-joernalis.

Meer oor:  Elise Tempelhoff  |  Omgewingsbewaring  |  Vrees  |  Aarde  |  Toekoms
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.