Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ekonomie kan groei op vlak 3

Maandag se TV-boodskap deur pres. Cyril Ramaphosa het toe nie veel om die lyf gehad nie.

Die aankondiging wat die meeste aandag gekry het, is die “sluiting” van grensposte tussen Suid-Afrika en sy buurlande. Dit sal geen noemenswaardige verskil aan in- en uitvoerhandel maak nie, aangesien vragvervoer wel toegelaat word.

Nie Suid-Afrika of sy buurlande kan bekostig om grense vir vragvervoer te sluit nie, aangesien die ekonomieë van verskeie lidlande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG­) met mekaar vervleg is.

Vier van Suid-Afrika se 12 grootste uitvoerbestemmings is in Afrika (Bo­tswana, Mosambiek, Namibië en Zimbabwe). Afrika verteenwoordig meer as ’n kwart van Suid-Afrika se uitvoer (edelmetale uitgesluit) en dis dubbel soveel­ as uitvoer na China. Tussen Januarie en November verlede jaar het die SAOG-lande R256 miljard tot Suid-Afrika se uitvoerverdienste bygedra.

Nóg belangriker vir die SAOG-streek is die feit dat 20% van dié uitvoer deur kos verteenwoordig word. Geen ander land in Afrika geniet dieselfde mate van surplus-kosproduksie as Suid-Afrika nie. Die verskeidenheid van kosprodukte wat deur Suid-Afrikaanse landbouers aan markte oor die wêreld heen gelewer word, is ook weergaloos op ’n vasteland waar private eiendomsreg nie genoegsaam beskerm en aangemoedig word nie.

Maandag se gewysigde vlak 3-inperking is min of meer onveranderd van dié wat kort ná Kersfees aangekondig is.

Maandag se gewysigde vlak 3-inperking is min of meer onveranderd van dié wat kort ná Kersfees aangekondig is. Ramaphosa het nietemin ’n guns aan die ekonomie bewys deur die onsekerheid van moontlike erger maatreëls uit die weg te ruim. Covid-19 gaan nie binne die volgende paar maande verdwyn nie en hospitale se vermoë om die tweede vlaag te kan hanteer moet voorop gestel word. Hoewel daar uiteraard simpatie vir die drankbedryf bestaan (veral aan die aanbodkant, waar mense hul werk kan verloor), staan dit ook vas dat talle Suid-Afrikaners nie alkoholgebruik verantwoordelik benader nie.

Die oorgrote meerderheid van volwasse landsburgers wat wéét wanneer om die prop terug te sit, asook die hele waardeketting van die drankbedryf, is steeds vasgevang in die spervuur van die voortgesette verbod op die verkoop en verspreiding van alkohol. Dit is wel tydelik en sal bes moontlik binne enkele weke ná die tweede vlaag se piek tersyde gestel word.

Wat die voortsetting van die res van die gewysigde vlak 3-maatreëls betref, het Suid-Afrika nogal lig daarvan afgekom, veral teen die agtergrond van veel strenger inperkings in ander lande.

Buiten die drankbedryf, restaurante en die toerismewaardeketting, is die ekonomiese herstel in bykans alle ander bedryfstakke op koers, soos pas deur November se statistieke oor die vervaardigingsbedryf bevestig is. Die verkope van vervaardigde produkte was in November byna 2% hoër as dieselfde maand in 2019 (teen heersende pryse).

Verder het die waarde van Suid-Afrika se mineraalverkope in Oktober vir die derde agtereenvolgende maand ’n nuwe rekordhoogtepunt bereik. Dié syfer het tussen Augustus en Oktober meer as R185 miljard bedra, 26% hoër as in dieselfde drie maande van 2019.

Die gesloer met bestellings vir Covid-19-entstof is tekenend van die voort­gesette onbeholpenheid van sommige instellings in die regering. Kaderontplooiing moet so vinnig moontlik uit die ANC-woordeskat verdwyn en met die aanstelling van mense met gepaste kwalifikasies en ondervinding vervang word. Verleentheid én lewens kan daardeur gespaar word.

  • Dr. Botha is ’n ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsgroep.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.