Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ek’s bevrees ek gaan nie vanjaar gr. 7 slaag nie
Bun Booyens

Die skole se September-toetsreeks is aan die gang en ek worstel saam met my seun deur die gr. 7-handleidings.

Laat ek met die deur in die huis val (nie die eerste keer oor hierdie saak nie): Ek kan nie glo dat ons skole se leerplanne steeds so vaal en vaag en so dikwels feitelik verkeerd is nie.

Ek het pas my derde uitbarsting van die middag agter die blad en is summier van my pligte as tutor onthef. Gaaf, maar ek kan dit eenvoudig nie laat verbygaan nie as die skrywer(s) van die handleiding vir ekonomiese en bestuurswetenskappe op bl. 113 sê volhoubare ontwikkeling “beteken besighede wat ’n wins maak, moet onderhou word”.

Ek het pas my derde uitbarsting van die middag agter die blad en is summier van my pligte as tutor onthef.

Nee, nee, nogmaals nee. Trouens, dié gevolgtrekking belig juis die groot struikelblok onderweg na volhoubaarheid, want wanneer wins op sigself die maatstaf word . . . kom ons laat dit eerder daar.

Die probleem lê waarskynlik al een bladsy vroeër, waar die skrywers oënskynlik die betekenis van “volgehoue” en “volhoubare” met mekaar verwar. Doodskoot. Volhoubare werks- geleen­thede, beweer die skrywers voorts, “is werk wat altyd gedoen moet word”. Wel, sterkte vir Suid-Afrika as dít die fondament is waarop ons die ekonomie gaan bou.

Dit bly vir my ook vreemd dat ons “leervakke” eenvoudig nie kan of wil losbreek uit die struktuur van 30, 40 jaar gelede nie: Drie kenmerke hiervan en sewe eienskappe daarvan; ses oorsake van dit en vier gevolge van dat. In die eksamen moet kinders dan daardie spesifieke vier of ses dinge afrits, anders kry hulle nie punte nie.

Ses oorsake van die Groot Trek, vier gevolge van die Eerste Wêreldoorlog en daar lê die ding?

Langs my lê die ekonomiehandleiding, tans oop by die “Uitdagings van stedelike armoede”. Daar is ses, blyk dit: migrasie, infrastruktuur, behuising en . . . gaap. Geen punte dus vir ’n kind uit ’n arm buurt wat byvoorbeeld misdaad, bendegeweld, kindermishandeling of dwelmhandel regstreeks as “uitdagings” moet trotseer nie?

Moet ’n mens maar aanvaar dís hoe ons kurrikulumspesialiste die wêreld beskou? Ses oorsake van die Groot Trek, vier gevolge van die Eerste Wêreldoorlog en daar lê die ding?

Is daar nie in die geledere van die direkteurs en leerplankenners darem ’n paar mense wat ’n rooi pen wil gryp om hierdie vreugdelose tekste van ’n kant af te vat, die feitefoute reg te maak en die vae frases duideliker te stel nie?

Dis nie moeilik nie en behoort nie lank te vat nie. Begin dalk deur bloot ál die woorde in hierdie ekonomieboek wat met “-ing” eindig, te onderstreep. Hier op bl. 111, byvoorbeeld, lê voorsiening, bestryding, ontwikkeling en ondersteuning soos padblokkades in die teks.

Werkwoorde is die enjins van sinne – ook in skoolhandleidings. En regtigwaar, die boeke wat ek vandeesweek onder oë gehad het, is skuldig aan een van die grootste massaslagting van werkwoorde sedert die eerste telefoongids.

Maak ’n plan, asseblief, want soos dit nou lyk, gaan ek nie gr. 7 slaag nie.

Meer oor:  Bun Booyens  |  Ekonomie  |  Graad Sewe  |  Tutor  |  Onderwys  |  Onderrig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.