Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Ek’s die Vlakte’

Die Kaapse Vlakte is bykans net in die nuus weens geweld. Tog is dit ook ’n plek waar mense nog vir mekaar omgee, skryf Willem Fransman.

Willem Fransman

“Die Vlakte … dis eintlik ek. Maak nie saak hoeveel geweld en hoeveel stryd daar om oorlewing is nie. Daar is omgee vir mekaar se lief en leed. Die Vlakte … dink ek, is eintlik ek!”

Aan die woord is Peter Snyders, skrywer, digter, die arm man se filosoof! Sonder pretensie en sonder doekies omdraai.

Dis oor dié Vlaktes, Die Kaapse Vlaktes of Die Flêts wat ek hier skryf. My komvandaan. Dis ook die wêreld waarin ek opgegroei het. En wat definitief my karakter, sonder kunsmatigheid, help vorm het. Op die Vlaktes gaan dit oor die gewone man op straat, die Toms, Dicks en die Harrys.

Tog word daar voortdurend negatief na die Kaapse Vlakte verwys of geskryf. Maak maar enige koerant oop. Of skakel die televisie aan. Sodra daar oor die Vlakte gepraat word, is dit meer as 90% nuus wat jou hare laat rys! Tot so onlangs soos verlede Maandag (1 Mei) is 10 mense beseer en 5 dood in ’n verbyry-skietvoorval in Elsiesrivier!

Kinders van so jonk as agt maande word slagoffers van hul eie ouer(s). Die hande wat moet beskerm en koester en liefderyk streel, word nou die hande van ’n oortreder. Dis nuus wat jou laat gril net met die aanhoor daarvan. En moenie praat van die ongekende bendegeweld wat deel van die daaglikse bestaan geword het nie.

Geweld begin afstomp

Toegegee, dat ’n mens amper al gewoond geraak het daaraan en dat ’n mens begin afstomp. In Bokmakierie. Manenberg, Elsiesrivier en ook in ’n groot mate Mitchells Plain leef gemeenskappe in vrees. Wat kommerwekkend is, is dat die oortreders of bendelede aan gemeenskappe én die polisie bekend is! Maar uitlewer is min!

Dietrich Bonhoeffer, die Duitse teoloog, het op ’n keer opgemerk: “God se probleem was nie dat die Israeliete slawe in Egipte was nie, maar dat hulle slawerny as vanselfsprekend begin aanvaar het!” En dit is ook ons probleem op die Vlaktes. Dit, sê gedragswetenskaplikes egter, is net nog ’n manier om te toon dat die gemeenskappe te bang is om teen oortreders op te staan. Te bang vir viktimisasie of weerwraak.

Die werklose jeug en laerskoolkinders het ’n groot helde-verering vir die bendeleiers en hul leefwyse. Dis eintlik kommerwekkend en kan ’n verlammende invloed op gemeenskappe hê. Oor die berugte (beroemde!) Staggie-tweeling van Manenberg word die urban legend vertel dat hulle van tyd tot tyd deur die strate van Manenberg gery het en dan geld deur die motorvensters na die mense op straat gestrooi het! Jong seuns wou met alle geweld ook eendag bendebase word om dieselfde te kan doen!

Maar, as die nuwe minister van polisie, Fikile Mbalula, met al sy vertoon en kragdadigheid, sy sin kry, sal dit nooit weer gebeur nie: “Waar het jy gehoor bendelede deel geld uit asof dit ’n pensioen-uitbetaling is!”

Maar daar is ook liefde en omgee

Die Kaapse Vlakte en geweld is beslis sinoniem. En glo my, daar is selfs politici wat dit aanwend om op die pyn en lyding van ander politieke punte aan te teken!

Maar ondanks bogemelde, is daar tog nog gemeenskappe wat poog om kinders groot te maak en hulle te wys daar is ’n manier om uit die moeras van verval te kom.

Hoe dikwels verneem ons van ’n hele straat wat vir ’n behoeftige, dog talentvolle, meisie of seun ’n matriekafskeid uit hul eie sakke reël! Hoe soms kerrievetkoeke sommer deur die jaar verkoop word om vir skoolgeld én vir daardie kind se matriekafskeid te betaal!

Die onderwysers wat self in die township bly, gee sonder ekstra vergoeding vir die kinders met leerprobleme ná skool wiskundeklasse.

Warm sop en brood vir leë magies.

En dan die immergewilde omgee- of troos-tannies – anties! Dis die tannies wie se huise altyd vir behoeftige kinders in haar omgewing oopstaan. Hulle wat brood en warm sop vir leë magies het … en die neusies skoonvee as Mammie nog by die werk is.

Kyk maar net na die matriekuitslae van Vlakte-skole en hoe kinders uitblink. ’n Matrieksertifikaat is ’n manier om uit die spiraal van armoede te kom, want dis die paspoort tot tersiêre opleiding!

Ja, ondanks die onaangenaamhede en onsekerhede op die Kaapse Vlakte, verruil ek dit vir géén ander buurt nie!

Want die Vlakte … dít wéét ek, is eintlik ek!

* Bron: Die Burger: Vrydag 5 Mei 2017, bladsy 4.

* Fransman is voorsitter van die Afrikaanse Skrywersvereniging.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.