Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ek’s glad nie jammer ek het toe ja gestem nie
Dana Snyman

Op ’n dag, nogal lank gelede, praat ek met oorlede Pa oor die foon. “Jong, Seun,” sê hy. “Ek’t nou ’n oulike tuinjong gekry. Sy naam is Zero.”

’n Week of wat later gaan kuier ek by Pa op Ventersdorp en ontmoet hierdie Zero, ’n maer man in ’n blou oorpak. Dis ’n sokker-ding, verduidelik hy toe ek hom oor sy naam vra. Hy was ’n doelwagter en sy teenstanders kon glo zero doele teen hom aanteken.

Pa was toe hoofkapelaan van die AWB. Tuinmaak was sy enigste ontspanning en hy het twee of drie keer ’n week hulp nodig gehad.

Dit moes in 1992 gewees het, dalk 1993. Ventersdorp was ’n dorp vol vrees en woede, baie meer as nou. Oral mans in kakieklere. Oral oorlogspraatjies.

Toe kom die oorlog: In Maart 1994 beveel Eugène Terre’ Blanche sy manne om Bophutha­tswana binne te val om die bewind van pres. Lucas Mangope teen die ANC te beskerm.

“Hier kom ’n staatsgreep, Seun,” sê Pa toe ek hom bel. “Ons sal nie toelaat dat die ANC die land vat nie.”

En op Ventersdorp koop Pa sowat R800 se ingelegde beet, tuna en Toppers om voorbereid te wees vir die anargie wat op pad is.

Die volgende dag stel ’n Bophuthatswana-polisieman drie gewonde AWB-vegters in ’n straat naby Mmabatho tereg langs die poeierblou Mercedes waarmee hulle slagveld toe is.

Geweld. Oral geweld. In Boipatong vermoor Inkatha-­ondersteuners een nag 45 mense. Op King William’s Town storm Apla-lede met AK-47’s by die gholfklub in en skiet vier mense dood.

En op Ventersdorp koop Pa sowat R800 se ingelegde beet, tuna en Toppers om voorbereid te wees vir die anargie wat op pad is.

Maar op 27 April 1994 staan ’n lang, vreedsame stemry buite Ventersdorp se stadsaal. Laatmiddag braai ek en Pa vleis en eet die eerste van vele bottels ingelegde beet.

Kort daarna gaan drink Madiba, ons nuwe president, op Orania by tannie Betsie Verwoerd tee, en Pa en Zero begin saam fuchsias kweek.

Pa noem Zero nie meer Zero nie, merk ek op ’n dag. Hy noem hom nou Johannes, die naam in sy nuwe ID-boek: Johannes Kgete Bogosi.

Later begin Pa en Zero wat nou Johannes is soggens saam koffie by die kombuistafel drink. Hulle kla saam oor die treurige, korrupte munisipaliteit en rook saam Royals-sigarette wat Johannes vir hulle by die Pakistani op die hoek gaan koop.

Stadig leef Pa en Johannes die ou Suid-Afrika uit hul lewe uit. En toe ons Pa in April 2012 begrawe, help Johannes sy kis graf toe dra.

Nou, in 2018, is daar weer oral geweld en vrees en woede, en soveel mense sê hulle is jammer hulle het in 1992 se referendum ja gestem vir ’n onderhandelde politieke skikking in die land.

Hoe sou dit gewees het as die meeste nee gestem het? Ek weet nie.

Net die hier en nou maak regtig vir my saak. Ek bly glo ál pad die toekoms in is Pa en Johannes en soveel ander soos hulle se pad.

Ek is nie jammer ek het ja gestem nie.

Meer oor:  Dana Snyman  |  Anargie  |  Politiek  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.