Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ek’s so lus vir Rennies, ek eet sommer kitskos
Heinz Mödler

Diepgebraai vir smaak. Bo-op die hoender ’n ruim skep smeulende rissiesous. O ja, en ’n verdwaalde slaaiblaar om die kankerwolf weg te hou. Hierdie radioaktiewe kombinasie word tussen twee sagte broodrolletjies gekoester.

Nadat jy in die ry gestaan het (ja, daar is altyd ’n tou), betaal jy en eet by die klein ronde tafeltjie buite. Saam met jou keuse word ook aartappelskyfies en ’n Coke (die oorspronklike ene) bedien.

Hierdie noenmaal word daagliks deur miljoene mense verorber. Sonder komplikasies.

My bestelling was heerlik. Maar nie sonder komplikasies nie. Binne ’n uur het ’n onbekende draaisensasie in my binneste begin opwel.

Die diagnose was nie dadelik duidelik nie, maar toe ’n blerts suur opskiet om my sagte verhemelte te ets, toe weet ek: sooibrand.

Só erg dat ek met gemak ’n koeëlronde gat deur ’n ruit kon spoeg. Die pH van my maag het ’n vlak bereik buite die raamwerk van wat enige toonaangewende fisiologiehandboek aanbied.

Die maag se pH ná ’n maaltyd is gewoonlik baie laag. Die maagselle wat nie net suur nie maar ook ensieme afskei, skep hierdie medium om voedselvertering te inisieer voordat absorpsie in die dunderm plaasvind.

Wanneer jy sooibrand kry, beteken dit nie noodwendig jy het ’n maagseer nie.

Gelukkig is die maag bestand teen suur, en die gasheer meestal onbewus van wat daar aangaan ná ’n maaltyd.

Indien jy ’n maagseer het, is dit egter ’n ander saak. Nou is die beskermende slymvlies van die maag beskadig en kan die suurinhoud die res van die maag begin erodeer.

Wanneer jy sooibrand kry, beteken dit nie noodwendig jy het ’n maagseer nie.

’n Algemene rede vir sooibrand is omdat die klep tussen die slukderm en die maag (die kardiale klep) nie meer optimaal funksioneer nie.

Hierdie klep moet sluit wanneer die maag saamtrek om te verhoed dat suur en ander voedselreste weer in die slukderm beland.

Wanneer die klep nie meer in die buik geleë is nie – waar dit anatomies hoort – maar opskuif om in die borskasholte te eindig, sluit die klep nie meer nie en het jy ’n mantelvliesbreuk wat jou gaan teister.

Ná maaltye gaan jou ete teruggestoot word in jou slukderm (refluks) en word jy die persoon wat ná elke ete ’n Rennie gryp.

Simptome raak naderhand so erg dat selfs een Rennie jou sooibrand gee en jy minstens ’n handvol moet kou om verligting te kry. Daar is natuurlik heelwat ander medisyne beskikbaar om jou sooibrand te verminder, maar ongelukkig verlig medikasie net simptome en kan dit niks aan die breuk self doen nie.

Die maklikste opsie om die breuk te pak is om te gaan vir chirurgie. ’n Behendige chirurg kan deur ’n knoopsgat die defek reduseer en weer in die korrekte anatomiese posisie fikseer.

Die moeiliker opsie is om gewig te verloor. Vakansievetjies is geneig om breuke te veroorsaak, en ongewenste simptome kan dramaties verbeter indien nommer 1 op jou Nuwejaarsvoornemens-lysie “gewigsverlies” is.

Intussen is dit raadsaam om kitskosse te vermy en eerder jou geld te gebruik om nóg Rennies te koop.

  • Dr. Mödler is ’n medikus, skrywer en kunstenaar van Kaapstad.
Meer oor:  Heinz Mödler  |  Maagvlies  |  Kitskos  |  Rennies  |  Maagseer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.