Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Elite bewe oor Cyril op Loftus

Dat geen kind honger sal gaan slaap nie, dat elke skoolkind sal kan lees en dat elkeen wat werk soek ’n redelike kans het om dit te kry: die kerndoelwit wat pres. Cyril Ramaphosa in sy inhuldigingsrede uitgestippel het vir wanneer “ons vyftig jaar van demokrasie vier”.

Barnard Beukman

Wat gedoen moet word om dit bereik, het hy reeds die afgelope jaar of wat uitgestippel en dit vind byval.

Maar nie noodwendig by al die kamerade rondom hom nie. En dit is juis die ingeboude spanning wat een van die hooftemas van die Cyril-era gaan wees wat Saterdag 11:10 op Loftus Versfeld begin het, toe hy hand omhoog verklaar het: “So help my God”.

Midde die eenheidsfront en aanbieding van ’n hoogstaande inhuldigingsprogram, was die wete dat daar hoogdrama agter die skerms in die ANC afspeel – magspeletjies rondom die adjunkpresidentskap, die etiekkomitee en staatskapers eers op en toe af van die LP-lys (enkeles in elk geval).

Waar ek gesit het op die hoofpaviljoen – nie as mediaverteenwoordiger nie, maar as ’n genooide gas – was daar hooggeplaastes uit die private sektor, burgerlike samelewing, georganiseerde landbou, kerke en glanspersoonlikhede wat gewissel het van PJ Powers tot Dali Tambo. Maar ook heelwat hooggeplaastes wat senior poste in die staatsdiens en middelvlak- politieke poste beklee.

Onder laasgenoemde groep was daar ’n sigbaar beleefde reaksie op Ramaphosa, maar nie die borrelende geesdrif van die publiek op die oorkantse paviljoen nie. Uit druk en hoorbare gesprekke rondom maar ook met my – as ’n mens sedert 05:00 saam op ’n bus geklim het en al voor 06:00 op die paviljoen sit, ontstaan daar mos ’n saam-in-hierdie-ding-kameraderie met vreemdelinge – blyk daar onrustigheid onder die magselite oor hul toekoms en poste.

Hulle voel groot veranderinge aan en weet nie wat dit vir elkeen persoonlik inhou nie.

Hulle voel groot veranderinge aan en weet nie wat dit vir elkeen persoonlik inhou nie. Skielik is die gewone koningmakers, invloedrykes en loopbaanbemagtigers self onseker of op pad uit.

Hulle weet nie hoe om Ramaphosa te lees nie en die onsekerheid maak hulle bang. In die Zuma-era was daar gevestigde maniere om te sorg dat jy deur toegang tot die regte kontakte op ’n manier kon oorleef en selfs vorder. Hoe gaan dit nou werk?

Miskien het Ramaphosa juis vir hulle ’n boodskap gehad toe hy van gedragsprotokol afgewyk het.

Terwyl hy begelei van marsjerende generaals op die veld geloop het om die militêre wag te inspekteer, het hy gewuif vir die juigende paviljoene elke keer as hy daar naby verbystap. En die reaksie was oorweldigend. Die “massas”, soos een persoon naby my in eg sosialistiese tradisie na hulle verwys het, hou baie van Cyril en in die BBP-afskorting is dit duidelik gesien.

Die “massas” het ook gedragsprotokol verbreek toe hulle die aflê van die ampseed met ’n gejuig onderbreek het toe die volgende woord gespreek is: “Ek, Matamela Cyril Ramaphosa”.

En hoewel die “massas” soos gewoonlik maar sit en gesels ten tyde van sy toespraak, was dit insiggewend op watter oomblikke hulle wel met applous gereageer het. Veral wanneer hy gepraat het van wegbeweeg van die era van die korruptes.

Dit was ’n puik en besielende seremonie. Ramaphosa het die selfverrykers uitoorlê tot in die amp. Nou is die vraag hoe hy hulle gaan uitoorlê om met direkte steun van die nasie te oorleef en hul bronne só te kanaliseer dat geen kind honger gaan slaap nie, elke skoolkind sal kan lees en elkeen ’n redelike kans op werk het.

En wie, ook van die rubriek se lesers, gestuur voel om te help. Want alleen sal hy dit nie regkry nie. En dit is ons almal se toekoms.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.