Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Elke daad tel nou as ons die aarde wil help red

Ons elektriese agterhek het dié week die gees gegee. Dit het net ’n paar droewige biepgeluide gegee en soos Martin Luther gesê het: “Hier staan ek, ek kan nie anders nie.”

Tony Weaver

So, ek het die boks oopgemaak en het op ’n menigte swart knopiespinnekoppe afgekom. My eerste gedagte was om hulle dood te maak, want hulle het ’n nare senuweegif. Ek het na die elektronika binne-in die boks gekyk en besef ek moet professionele hulp inroep.

Toe die tegnikus opdaag, het ek hom oor die spinnekoppe gewaarsku en voorgestel dat hy dit dalk eers skoonmaak voordat hy begin werk.

“Nee wat,” het hy gesê. “Ek sal óm hulle werk. Hulle is fantasties. Hulle keer dat miere en akkedisse – wat eintlik die hekke se motors verniel – nesmaak.”

Die vorige dag het die stoof se gas opgeraak. Ons het die silinders omgeruil en toe my vrou een van die plate aansteek, was daar ’n helse knal en die elektriese oond is ’n paar duim uit sy omhulsel geruk. ’n Angswekkende affêre. Die gasman is ontbied en sy diagnose was ’n foutiewe reguleerder. Hy het die oond uitgetrek om by die pype uit te kom en verskeie kakkerlakke het weggeskarrel.

“Ek moet maar ’n paar kakkerlaklokvalle daar agter insit voordat ons die oond terugskuif,” het ek gesê. “Nee,” het hy my tereggewys, “mense hou nie van kakkerlakke nie want hulle dink hulle is vuil, maar hulle eet al die stukkies afvalkos wat rondlê, wat andersins sou vrot en stink.”

Twee diep ekologielesse net daar, in een week, van tegnici wat ontbied is om van die moderne verbruikersgoedere waarop ons almal staatmaak te herstel.

Ek het daarna oor die twee voorvalle gepeins en gewonder of ons gesin van vier ’n leefstyl het wat ons bestaan op aarde eens naastenby verreken. Of ons op ’n manier lewe wat ’n verskil aan die klimaatkrisis kan maak. En of ons bydra tot of terugveg teen die ineenstorting van ekosisteme en biodiversiteit.

Alles gebruik elektrisiteit wat deur fossielbrandstowwe opgewek word en verskeie seldsame aardmetale wat stropers waarskynlik in die reënwoude van die Kongo myn.

So, ek het in my kop ’n lysie gemaak van ons huis: sonkrag-geiser, regmerk; reënwatertenks, regmerk; groentetuin, regmerk; komposhoop, regmerk; alle herbruikbare afval herwin, regmerk; inheemse tuin, grootliks ’n regmerk; aanvaar nie plastieksakke in supermarkte nie, regmerk; koop plaaslike produkte waar moontlik, regmerk; maak net vuur met uitheemse indringerplante in ons vuurherd, regmerk; swembad omskep in ’n natuurlike eko-dammetjie vol plante en natuurlewe, regmerk; geen rotgif, regmerk; en hoenders vir eiers en bemesting, regmerk.

Nie sleg nie. Maar toe het ek in ons huis rondgekyk: vier skootrekenaars, twee tafelrekenaars, ’n drukker, ’n hoëdefinisie-platskermtelevisie, ’n skottelgoedwasser, ’n wasmasjien, vier selfone, ’n mikrogolfoond, twee yskaste, ’n vrieskas, ’n stofsuier, vyf motors (toegegee, een is ’n Land Rover van 28 jaar oud wat net vir langafstandtoere gebruik word), ’n elektriese motorhek, ’n elektriese motorhuisdeur en ’n swembadpomp.

Alles gebruik elektrisiteit wat deur fossielbrandstowwe opgewek word en verskeie seldsame aardmetale wat stropers waarskynlik in die reënwoude van die Kongo myn.

Om bewaringsbewustheid te kweek kan sielkundig veeleisend wees, maar as die aarde ’n bestaanskrisis in die gesig staar wat die einde van lewe kan beteken, tel elke daad.

Meer oor:  Tony Weaver
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.