Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Elke (hawelose) hond het sy eie storie

My dogtertjie word een van die dae ’n jaar oud. Ja, dinge het nogal verander vandat ek ma geword het.

Ek moet sê ons is van die gelukkiges – sy is ’n goeie slaper. Ek dink dis omdat sy so snoesig tussen ons lê. Daarby slaap sy al amper-amper dwarsdeur die nag . . .

Dis vir my die lekkerste van lekker om haar warm lyfie teen myne te voel. Al woel sy my soms van die bed af. Maar ek gee nie om nie. Ek kan nie meer my lewe sonder die ou lyfie voorstel nie.

Die potty training gaan ook goed. Ons glo aan positiewe aanmoediging. Lyfstraf is uit. Sy het nog net ses keer in die huis gepiepie, en twee keer gedrollie. Ek’s baie trots op haar.

Op ons viervoetige wollerige meisiekind. Onse Lilly.

Ek leer baie by haar. By hierdie kleine wese. Met haar sielvolle bruin oë.

Nêrens in daardie oë is oordeel te bespeur nie. Sy aanvaar my nes ek is. Selfs op my minder goeie dae.

En wanneer ek te veel op my foon is, krap sy saggies aan my met haar poot. “Mamma, los daardie ding!” En ek weet sy is reg.

Júis op daardie dae . . . Sy het ’n sesde sintuig wat my verstom.

En wanneer ek te veel op my foon is, krap sy saggies aan my met haar poot. “Mamma, los daardie ding!” En ek weet sy is reg.

Sy leer my om in die oomblik te leef. Sy leer my om meer aan die wêreld rondom my aandag te gee.

Sy leer my om vir die klein dinge in die lewe dankbaar te wees. Sy leer my onselfsugtigheid.

Daarom het ek besluit om as vrywilliger by ’n welsynsorganisasie vir diere te begin werk.

Die maklikste (en gerieflikste) is om geld of ander noodsaaklikhede aan ’n behoeftige organisasie te skenk.

En tot dusver is dit wat ek gedoen het. Maar om jou tyd op te gee en werklik betrokke te raak, is ’n heel ander storie.

Want ja, ek is bang. Want ja, dan sien ek die wérklike werklikheid. En dis nie mooi of maklik nie.

Maar ek kan nie langer wegkyk nie. Of die maklike opsie neem nie. Lilly se onskuldige, emosievolle, wyse oë herinner my elke dag daaraan.

Dis my eerste dag by die organisasie en ek stap na agter.

Honde wat teen die drade opspring. Honde agter tralies. En my hart breek in stukke.

Elkeen het ’n storie. En elkeen het ’n naam. Waar gaan ek begin?

Daar is meer as 100 honde.

En elkeen het ’n storie. En elkeen het ’n naam. Waar gaan ek begin?

Om hulle net aandag te gee, was die antwoord. Met stappies . . . Hulle waardeer dit meer as wat jy besef.

En so was daar net tyd om vyf te neem vir individuele stappies. Vir Bolo, Kleintjie, Zoro, Hannah en X-Man.

En dadelik was ek bitter bekommerd oor Bolo. Hy haat die hokke die meeste van almal. En verloor gewig as gevolg daarvan.

Hoe de hel gaan hy oorleef? Sonder liefde, aandag en vryheid wat ’n onskuldige soos hy verdien?

Maar sy naam is Bolo. ’n Weggooikind.

En hy het ’n storie.

Soos ons almal . . .

(Word vervolg.)

  • Louw is ’n bekroonde aktrise.
Meer oor:  By
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.