Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Elke keer swaar om Karoo te moet groet

Behalwe om die Lotto te wen is baie stadsbewoners se grootste begeerte waarskynlik om iewers op die platteland ’n stukkie grond te besit om heen te vlug as die betonoerwoud jou keel toedruk.

So duur soos grond geword het, is dit min beskore. Nie dat baie hulle daardeur laat afskrik nie. Naweke en vakansietye draf die Land Cruisers op ’n streep op die N1 en N2 noordwaarts Karoo toe.

Ek vermoed aansienlike dele van die Klein- en Groot-Karoo behoort reeds aan Kapenaars. Daar is klaarblyklik steeds baie mense met baie geld in geknelde Suid-Afrika – rommelstatus ten spyt.

Wintertyd is dit ’n hele uittog met spanne vriende om te gaan jag. Ná ’n week of wat draf die Land Cruisers terug met vrieskaste vol vars vleis en biltong en droëwors.

Maar duur grond. Ek het effens lighoofdig geword toe ek in ’n advertensie lees dat jy ’n kaal lappie grond van 275 ha as deel van ’n versnipperde wildplaas in die Tankwa-Karoo tussen Ceres en Calvinia vir R525 000 kan koop.

Daar is klaarblyklik steeds baie mense met baie geld in geknelde Suid-Afrika.

Dit is amper R2 000 per ha. In die 1920’s en 30’s sou niemand dit geglo het nie. Die Tankwa-Karoo, destyds bekend as die Ceres-Karoo, is toe beskou as ’n dorre, godverlate klipwoestyn. Staatsgrond is aan verarmde, grondlose Afrikaanse trekboere teen ’n halfkroon (25c) per morg verhuur en later teen tien sjielings (R1) per morg verkoop.

Die meeste het hul lewe lank daar ’n karige sukkelbestaan gevoer. Hul spore van swaarkry lê in die murasies van platdakkleihuise en eensame grafte onder hopies klippe in die nou gewilde Tankwa Karoo Nasionale Park.

Nie dat ek boere verkwalik nie. As dit pap reën, moet jy skep. Soos wanneer jy in droogtetyd met ’n lorrievrag brandmaer ou ooie, wat langs die pad suurstof en ’n bloedoortapping moes kry, by die vendusiekrale kom en uitgeslape ’n spekulant vra om die prys so bietjie op te jaag. Vanmiddag ry jy huis toe met ’n vet tjek. Maar nie altyd nie. Jare gelede soek ek ’n mak ryperd vir my tienerseun. Toe ’n pragtige skimmel by die weeklikse vendusie aan ’n halter die ring binnegelei word, weet ek ek wil hom hê. Sy baas verseker my die perd is “hondmak”. Toe die spekulante my klaar opgejaag het, betaal ek vir dié perd wat ’n nuwe Chev-bakkie in die ou dae gekos het. Maar ek is hoogs in my skik. Totdat ons op die plaas kom.

Toe hy van die lorrie moet afklim, loop hy die traliehek flenters. Toe ons die toom oor sy kop trek, ruk hy dit aan stukke. Toe ons die saal opsit, maak hy sy rug krom en skop die staldeur uit sy kosyn. Gelukkig het die weer hom later doodgeslaan.

Maar hoe swaar is dit nie om elke keer wanneer jy moet terug stad toe van die Karoo afskeid te neem nie. In Sutherland het ek verlede week eers gaan lê nadat die maan laatnag oor pienk stokrose dowwer geraak het.

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Goeiemôre
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.