Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Elke klein politieke party benodig ’n krisis

’n Sosio-ekonomiese krisis word allerweë vir Suid-Afrika in die naweë van die Covid-19-pandemie voorspel. Sal dit die krisis wees wat ’n klein party soos die EFF oor vyf jaar in staat kan stel om sy politieke spiere te bult? vra Pieter Labuschagne.

Mense staan tou vir kospakkies by ’n skool in Olievenhoutbosch. Foto: Felix Dlangamandla

Daar word dikwels gesê dat elke staat ’n vyand nodig het om sy onderdane te laat saamstaan.

Dié beginsel geld, met ’n klein aanpassing, sekerlik ook in die politiek: Elke klein party het ’n krisis of katastrofe bitter nodig om in ’n kort tydjie baie vinnig te groei.

Die kritieke vraag in Suid-Afrika is of die dubbele krisis van beurtkrag en die Covid-19-pandemie juis was waarop ’n klein party soos die EFF gehoop het om drastiese groei te bewerkstellig sodat hy die ANC se politieke oorheersing kan uitdaag?

Die steun vir politieke partye in Suid-Afrika het sedert 1994 ’n meer evolusionêre as revolusionêre trajek gevolg.

Die dinamiek van verskuiwende steun sal oor die volgende 12 tot 24 maande gesien word sodra die volle impak van beurtkrag en Covid-19 op die ekonomie gevoel word.

Partye in SA groei eerder evolusionêr as revolusionêr

Die steun vir politieke partye in Suid-Afrika het sedert 1994 ’n meer evolusionêre as revolusionêre trajek gevolg.

Daarmee word bedoel dat die steun of verlies aan steun vir die vernaamste partye meer geleidelik as drasties was.

Watter politieke party in Suid-Afrika gaan die meeste politieke munt uit die Covid-19-krisis slaan? Foto: Getty Images

As ’n mens byvoorbeeld na steun vir die ANC kyk sedert die eerste demokratiese verkiesing in 1994, sien jy dat dit hoofsaaklik binne ’n gematige band van 10% tot 12% beweeg het. Die persentasie steun vir die ANC (met die jaar van die verkiesing in hakies) het só gelyk: 62,6% (1994), 66,4% (1999), 69,6% (2004), 65,9% (2009), 62,1% (2014) en 57,5% (2019).

Die steun van die een verkiesing tot die volgende het nooit met meer as 5% gewissel nie.

Steun vir die DA het wel drasties toegeneem van 1,7% in 1994, toe dit nog die Demokratiese Party was, tot 9,6% in 1999 en 12,37% in 2004.

Die styging kan hoofsaaklik toegeskryf word daaraan dat die Nasionale Party se ondersteuners ’n nuwe politieke tuiste gesoek het nadat dié party ontbind het.

Die verwagting is dat die EFF sekerlik die ekonomiese agteruitgang in die verkiesing van 2024 die beste sal uitbuit.

In die verkiesing van 2009 het die DA se steun tot 16,6% gestyg. Daarna het dit heelwat geklim tot 22,2% (2014) voordat dit in 2019 tot 20,7% afgeplat het.

Kyk ’n mens na die DA se steun sedert dit in 2009 gekonsolideer het, was sy steunvlakke ook binne ’n band van 10%.

Die EFF se steun het ook sterk evolusionêre kenmerke getoon: 6,3% (2014) en 10,7% (2019). Die verwagting is dat die EFF sekerlik die ekonomiese agteruitgang in die verkiesing van 2024 die beste sal uitbuit en sy steunvlakke tot tussen 12% en 15% sal uitbrei.

Dit blyk dus duidelik dat die invloed van politieke en sosio-ekonomiese woelinge op die steun van partye binne gematigde perke was en nie buite bande van meer as tussen 10 en 12% beweeg het nie.

Die Nazi-party in Duitsland

Ondersteuners van die Nazi’s in de 1930’s. Foto: Getty Images

Vir ’n interessante voorbeeld van ’n klein politieke party wat danksy ’n krisis ’n groot politieke faktor geword het, hoef ’n mens nie verder te kyk as die Nazi-party in Duitsland in die 1920’s en 1930’s nie.

Voor en tydens die verkiesing van 1928 in Duitsland het die Nazi’s ’n krisis beleef. Dit was ’n klein party met minimale groei.

Die Nazi’s het gehoop dat meer mense in 1928 vir hom ná intensiewe propaganda en intimidasie sal stem.

Maar Duitsland se ekonomiese posisie het teen dié tyd heelwat verbeter ná die verwoestende invloed wat die Eerste Wêreldoorlog daarop gehad het. Die meeste laer- en middelklas-Duitsers se sosio-ekonomiese omstandighede was aan die verbeter en dit het relatief goed met hulle gegaan.

Min van hulle was dus aangetrokke tot ’n klein party met ’n radikale rasse- en sosialistiese ideologie.

Die uitslag van die verkiesing van 1928 was egter ’n groot teleurstelling vir die Nazi’s. Hulle het die steun van 100 000 kiesers sedert die laaste verkiesing verloor en kon nasionaal slegs steun van 2,6% steun monster. Dit het beteken dat die Nazi’s net 15 setels in die Reichstag van 500 lede kon kry.

Die Nazi’s se sosio-ekonomiese retoriek, wat voorheen geen indruk op die samelewing gemaak het nie, het nou byval gevind.

Die reddingsboei vir die Nazi’s was ’n krisis – die ineenstorting van die Amerikaanse effektebeurs in 1929. Dit het tot gevolg gehad dat Amerikaanse beleggings en lenings onttrek is en die Duitse ekonomie het in duie gestort.

Die ekonomiese krisis het onder meer tot ’n vervroegde verkiesing in 1930 gelei. Die werkloosheidsyfer het tot 30% gestyg, terwyl die meeste ryk mense in die hoë middel- en welvarende klasse se beleggings weens die geweldige hoë inflasiekoers waardeloos geword het.

Die Nazi’s se sosio-ekonomiese retoriek, wat voorheen geen indruk op die samelewing gemaak het nie, het nou byval gevind. Hul steun het van ongeveer 1,7 miljoen stemme tot 6,5 miljoen toegeneem en die getal verteenwoordigers in die Reichstag van 15 tot 107 wat hulle die grootste opposisieparty gemaak het.

Skaars drie jaar later het Adolf Hitler, die Nazi’s se leier, kanselier van Duitsland geword. Nog ’n krisis, die afbrand van die Reichstag, het Hitler die geleentheid gegee om burgerlike vryhede in te perk en om die sterk Kommunistiese Party te onderdruk nadat die skuld vir die afbrand van die parlementsgebou op ’n Joodse kommunis gepak is.

In die verkiesing van 1933 het die Nazi’s se steun tot 44% gestyg en kort daarna het Hitler die politieke toneel in Duitsland heeltemal oorheers.

Die EFF en die krisis in Suid-Afrika

Julius Malema se EFF kan dalk politieke baat by die Covid-19-krisis vind. Foto: Getty Images

Die vraag is of die redelike drastiese inkrimping van die Suid-Afrikaanse ekonomie, geskat op ongeveer 10% van die bruto binnelandse produk (BBP), ook ’n soortgelyke katalisator vir verandering sal wees.

Die invloed op die ekonomie van groot uitgawes om die sosio-ekonomiese krisis en die lot van die armes te verbeter sal ook later merkbaar wees.

Waarheen gaan die geskatte sowat 1 miljoen nuwe werklose mense hulle wend om van hul frustrasies ontslae te raak en, dalk nog belangriker, waar gaan hulle hul kruisies trek?

Die ANC sal ongetwyfeld die meeste skuld vir die ekonomiese probleme kry en sy steun kan daarom in 2024 selfs tot onder die drempel van 50% daal.

Gefrustreerde en werklose mense sal eerder aanklank vind by die EFF se sosialistiese en nasionaliseringsdrome.

Ontevredenes sal hulle beslis nie tot die DA wend nie. Dié party word deur baie slegs as die politieke tuiste van wit en bruin mense beskou en die meeste van sy ondersteuners is lede van die middel- en hoër klasse.

Gefrustreerde en werklose mense sal eerder aanklank vind by die EFF se sosialistiese en nasionaliseringsdrome. Die EFF, wat tot dusver met die Covid-19-pandemie redelik stil en op die agtergrond is, bly die party wat die krisis rondom die virus die beste kan uitbuit.

Dalk is die gevolge van beurtkrag en Covid-19 die krisis wat van die EFF ’n baie groter politieke rolspeler sal maak – een wat selfs oor vyf jaar in die amptelike opposisiebanke sal inskuif.

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Eff  |  Adolf Hitler  |  Julius Malema  |  Ekonomie  |  Covid-19-Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.