Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Elke mens het ’n sleutel in sy voorskootsak
Annelie Botes

In Women Who Run with the Wolves lê Clarissa Pinkola Estés die storie uit van Vasalisa, die wyse dogtertjie. Toe Vasalisa nog klein was, is haar moeder dood. Net voor sy haar laaste asem uitblaas, gee sy vir Vasalisa ’n poppie en sê sy moet dit altyd in haar voorskootsak bêre, want die poppie dra die sleutels tot al die lewe se raaisels en deure. As sy by ’n vurk in die pad kom, moet sy vir die poppie die roete vra.

Die poppie sál weet.

Met die soveelste herlees van hierdie storie is ek geïnspireer om iets nuuts aan te pak met my kraletjiesrygery: Sleutelringe. Daar is niks unieks aan sleutelringe nie. Maar terwyl ek dit skep, soek ek na antwoorde op die raaisels van die mensdom, en van my eie lewe. En gesels in my kop intiem met die persoon vir wie ek dit as geskenk wil gee. Want ook hy of sy het kwellende raaisels.

Kort voor Kersfees maak ek vir ons pophuisvoordeur ’n kralestring om aan die bestaande ring te hang. Blou, glaskleur, silwer.

Die gryse bring tee, en klapperkoekies wat hy self gebak het, waar ek kruisbeen op die bed sit. Toe ek die string aan die ring wil inryg, sê hy ek moet wag, hy het ’n nostalgiese sleutelring in sy waenhuis wat ek kan gebruik. As ek wil. En hy neem die flonkerende stringetjie saam waenhuis toe.

Ek wonder wat Vasalisa se poppie sal sê as ek haar sou vra hoe ons land oor nóg 30 jaar sal lyk.

Daar het hy my in trane. Want die sleutelring, met ’n enkele koperplaatjie waarop 9908 gegraveer is, bêre hy sedert 1990 toe Bedford se handsentrale geoutomatiseer het. Sommer as herinnering aan vervloë dae toe die sentrale nog die rugmurg van ’n dorp was.

In sy Telkom-kantoor in Bedford was ’n houtbord teen die muur, met hakies waaraan elke telefoonhokkie in die dorp se unieke sleutel gehang het. Die duplikate was aan ’n bos sleutels in sy werkbakkie. Die kode 9908 was die hokkie by die treinstasie s’n. Bedford se stasie was op die Port Elizabeth-Oos-Londen-roete. Passasierstreine het elke dag geloop en die hokkie is gereeld gebruik.

Maar tye verander en passasierstreine het skaars geraak. Die dag toe hy die hokkie op die stasie moes verwyder, het hy die ringetjie met die 9908-koperplaatjie in die boksie met sy mansjetknope gebêre. Onwetend dat die stasie 30 jaar later tot niet sou wees. En dat die hokkie se sleutelring in 2020 aan ons voordeur in Port Elizabeth sou hang.

Ek wonder wat Vasalisa se poppie sal sê as ek haar sou vra hoe ons land oor nóg 30 jaar sal lyk. Dalk, net dalk, kry Cyril Ramaphosa die treine terug op die spore. Of dalk het hy vergeet daar is so ’n waarheidspoppie in sy voorskootsak.

Die Amerikaanse digter Anthony Liccione skryf: “Baie mense besef nie dat hulle nog altyd die sleutel in hul sak gehad het nie, so baie sterf by die geslote deur en steek nooit hul hand diep in om dit uit te haal nie.”

Miskien moet ek my volgende sleutelhouer vir Ramaphosa maak. En met hóm oor antwoorde gesels.

Meer oor:  Annelie Botes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.