Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Elke mens het raaisels wat hy nie verstaan nie
Annelie Botes

Van aard is ek nie ’n swartgallige suurpruim nie; om, soos die idioom sê, “met ’n laatperske-gesig rond te loop” nie.

Soos enige mens kry ek ook my dale van doodskadu en tye van onbeholpe rigtingloosheid. Maar ek weier om op die ashoop neer te sak en my swere met ’n potskerf te krap terwyl die vlieë daaroor loop. En dan te verwag iemand anders moet langes my kom wagstaan om die vlieë weg te waai.

Dis in my aard om antwoorde te soek. Oplossings. Werkbare uitweë. As dit behels ek moet my stem dik maak, of my hande uitsteek en iets dóén, of die spieël binnetoe draai en kyk of die fout nie almiskie by myself ontstaan nie, dan skram ek nie daarvan weg nie.

Een ding waarvoor ek egter meer en meer wegskram, is om daadwerklik te dink oor al die geneuktes wat in ons land aangaan. Elke land, gemeenskap en huishouding het sy toffies en taaisels. Maar wanneer daardie haakplekke en slaggate nimmereindigend en sonder antwoord of oplossing blyk te wees, raak dit soos gomwebbe tussen jou vingers. Dis asof jy jou greep verloor en geen idee het watter kant toe sal die regte kant wees nie.

In die laaste paar weke het ek so ’n gomweb-insinking beleef. Dis afgeskop deur die vandalisme in Klipplaat se NG kerk. Miskien het dit my so hewig geraak omdat ek nog my lewe lank ’n hegte band met kerkorrels het.

As iemand koperpype of sekerheidsheinings of dreindeksels steel, kan ek dit nog effentjies verstaan. Maar ’n statige, stoere kerk se orrelpype?

Die kopprentjie van hoe enige mens wat náástenby regdenkend is en so min soos ’n kwart­persent respek besit, met opset ’n kerkdeur kan afbreek en die dekade oue orrelpype uitruk en plattrap om vir skrootyster te verkoop, is te veel vir my. Ek verstáán dit glad nie. Nog minder het ek ’n antwoord.

As iemand koperpype of sekerheidsheinings of dreindeksels steel, kan ek dit nog effentjies verstaan. Maar ’n statige, stoere kerk se orrelpype? Nee, dis bokant my begrip.

Voordat die ding van die orrelpype kon stil raak in my, is daar die voorbladberig en foto van hoe ’n koedoe met honde moeg gejaag word. Dan begin die langsame gruwel om die grasieuse dier met pype dood te slaan, en sy vlees uit te sny terwyl hy nog lewe.

Al probeer ek totdat ek 144 jaar oud is, sal ek dit nimmermeer verstaan. As daar tydens ongetemperde protesoptogte winkelvensters uitgeslaan en motors aan die brand gesteek word, kan ek dit ook effentjies verstaan. Maar ’n koedoe met pype doodslaan en lewend slag?

Êrens langs die lewenspad moes ek ’n sielkundige polsslag gemis het, want niks, niks, niks in my kan dit verstaan nie. En al dink en grawe ek dat die rook by my kroontjie uitspiraal, sal ek geen oplossing vir die raaisel vind nie.

Dalk is die beste raad vir myself: Moenie probeer verstaan nie; aanvaar jy is te dom vir die meetkundesom.

Pak eerder ’n witklipaltaar by die see. Neem jou bekfluitjie saam en gee in jou kop die orrelpype en die koedoe ’n waardige begrafnis.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Diefstal  |  Menswees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.