Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Elke vermoorde boer is in harte ’n monument
Charles Smith

Ná die onthulling van die beeld van “kommandant” Fidel Castro voor die Fidel Castro-gebou (eens die C.R. Swart-gebou) in Bloemfontein kan ’n mens vra: Wat is volgende? Beelde van die drie Guptas in Koningspark?

As Castro vereer word omdat ons volgens kameraad Ace Magashule, die premier wat soos die Kubaanse imbongi in Suid-Afrika optree, ons vryheid en demokrasie aan hom te danke het, moet die Guptas vereer word om hierdie vryheid binne vyf jaar te kaap.

Magashule se seun, Tshepiso (Gift) Magashule, het ruim voordeel uit die Guptas getrek en het ’n oop lyn na sy pa se kantoor bewerkstellig, het die ondersoekende span van amaBungane in die #GuptaLeaks-skandaal bewys. En toe betaal ons die Gupta-troue in Sun City met geld wat vir arm, swart boere in die Vrystaat bestem was.

Selfs kameraad Castro sal trots wees op hoe die Vrystaatse regering die armes rook in die naam van “vryheid” en “demokrasie”.

Ons het reeds ’n beeld vir staatskaping in die Vrystaat, waar die konsep uitgedink en geloods is, in die vorm van die Vrede-suiwelmaatskappy. Dié projek van R500 miljoen in die styl van sosialistiese staatsinmenging volgens die Russiese en Kubaanse model, het nie een beker melk vir ’n arm mens gelewer nie. Dis net die vet katte wat die room afslurp. Net soos die Gariep-visteelprojek wat ’n paar keer met Chinese geld oorbegin is, nie vir een vis vir ’n arme in die Suid-Vrystaat gesorg het nie.

Ace belowe om nóg ’n klompie beelde vir helde uit die vryheidstryd in die Vrystaat te bou. Dis alles goed en wel. Die ANC het egter reeds tientalle monumente vir hul lewende leiers opgerig in die vorm van vernielde dorpe sonder dienste en gebrekkige watervoorsiening in die platteland. Dalk moet hy in elkeen van die dorpe ’n Fidel Castro-beeld oprig sodat die miljoene armes en werkloses daarna kan staar as hulle honger is. Die beeld is bloot ’n poging om die moerige massas te troos terwyl Jacob Zuma die land plunder.

Die ANC het reeds tiental.le monumente vir hul lewende leiers opgerig in die vorm van vernielde dorpe sonder dienste

Terwyl kameraad Eisj om die Castro-beeld gedans het, het sy groot kritikus, Fikile Mbalula, die misdaadstatistieke onthul wat wys daar word elke dag 52 mense vermoor, 109 verkrag en 46 gekaap.

Elke dag word boere vermoor en aangeval. Die jong bestuurder Kyle Stols (22) is die jongste slagoffer in die Vrystaat. Maar daaroor sê die premier niks nie. Hy dans om ’n kommunis se beeld wat miljoene van sy eie mense uitgemoor en verarm het.

’n Monument word met elke vermoorde boer en onskuldige slagoffer soos Kyle wat vermoor en verkrag word, in ons harte gebou. Geen propaganda en stilswye sal dit kan omtrek nie, Ace. Castro as simbool vir tirannie sal vinnig deur die volk verwerp word. Net soos die korrupte ANC-leiers reeds verwerp word.

Meer oor:  Guptas  |  Monument  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.