
Elmarie Dercksen
Diversiteit is deel van ons werklikheid. Vyftig jaar gelede kon mense bewusteloos pleit: Die regering het die ware feite verdoesel, mense moes noodgedwonge stilbly as hulle verskil van die hoofstroom, en homogeniteit was maklik geloofbaar. Ons was almal eenders.
Maar die laaste paar dekades het ons geleer dat die verskille tussen mense gevier moet word, dat dit nie vir ons ’n bedreiging is nie. Elke persoon het steeds net een kruisie om te trek. En aanvaarding en toleransie word vereis om ons nuwe reënboogland te laat werk.
Die menswetenskappe leer ons baie hieroor, en die politiek kan ons begelei in medemenslikheid tot op ’n sekere punt. Maar politieke korrektheid is nie altyd naasteliefde nie (oppas vir die verwarring), en politieke korrektheid neem ons net in ’n sekere mate in andere se leefwêreld in, dan retireer die meeste van ons tot veilig binne ons gemaksone.
Op die ou end is party van ons gemaklik met grense oorsteek, gemaklik met mense wat anders is as ons, en party nie. En die gemaksone dikteer die meeste van die tyd ons ervarings. Die meeste mense verwag dat hul kerk ’n gemaksone sal wees. Die gemeenskap van gelowiges is immers ’n plek van liefde, ’n plek waar die meeste mense soos ek sal dink en wees. Wat ’n wrede ontnugtering wanneer hulle agterkom dat mense ook in die kerk van mekaar verskil. In watter mate taal en kultuur deel is van kerkwees, het selfs genootskappe laat groei of kwyn. Ons moes besef die kerk is nie ’n kultuurorganisasie nie, en ons kernbesigheid is nie die behoud van ons eie nie, maar die verkondiging van die Evangelie.
Boonop ontdek mense dat die diversiteit strek tot by ons opinies, waardes, lewensbeskouing. Vir baie mense is dit seer. Dit voel of die kerklike debatte nie ophou nie, dis soos Phelps-medaljes, die een ná die ander. Daar is sake wat uitskiet waaroor mense vir jare nie gepraat het nie, en nou skielik het hulle so ’n sterk opinie dat hulle die kerk verlaat waarmee hulle nie saamstem nie.
Is dit verkeerd om van mekaar te verskil? Is dit sonde, ’n teken dat die Heilige Gees ons verlaat het? Ek dink nie so nie. Gaan lees Handelinge, Galasiërs, Korintiërs. Hier is verhale en inhoud van groot woordstryde, vraagstukke en lang besprekings – en dit tussen gelowiges! Natuurlik sou dit aaklig wees, en naasteliefde by die deur uitvee, as ons tot die dood toe met mekaar sou stry oor die hoogte van die kerkklok of die kleur van die pastorie se heining. As ek die tekste en hul konteks reg verstaan, is dit gelowiges se plig om oor die kernsake van die Evangelie aan te hou praat totdat hulle mekaar vind. Daarom moet ons aanhou praat, en dit met naasteliefde doen: Ons moet mekaar vashou in die gesprekke oor kerkeenheid, gay gelowiges, deur al die appelle, ure se vergaderings en honderde e-posse en verslae.
Maar dink net vir ’n oomblik wat ons lewe vandag sou vertoon sonder die Geesgeleide kompromie van Handelinge 15: Die plusteken agter die genade van Christus; die besnydenis en die wet van Moses net so sentraal in ons verstaan van God as die kruis en opstanding van Christus.
Laat ons aanhou praat, selfs al is ons kerklike gemaksones lankal dood en begrawe. Want so in die diversiteit ontdek ons gewoonlik die kleinste gemene faktor is ons geloof in Jesus, en dit bind ons aan mekaar, of ons nou wil of nie. En ons ontdek dat sekere mense nie meer verdienstelik is vir God se genade as ander nie.
Selfs al is dit ongemaklike ontdekkings, is dit die moeite werd.