Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Elmarie Dercksen: Geloof, geweld en jou rol daarin

Ons eie nuus het genoeg om ons mee besig te hou – dit is immers munisipale verkiesingsjaar. Maar niemand kon help om, behalwe die alomteenwoordige stryd om die Wit Huis, die Amerikaanse nuus op te merk nie . . . die kontras is skaars onder die oppervlak, en die ironie eintlik oop en bloot: Die roudiens van Muhammad Ali, waar soveel verskillende groepe en godsdienste hul respek vir mekaar uitspreek en bevestig. En dae later die grootste massamoord met ’n vuurwapen wat die VSA nog gesien het. En selfs die voorheen onwilliges koppel dit aan ekstreme godsdienstigheid.

Almal is geskok, die hele wêreld. Die hedendaagse aanspraak dat godsdienste (ja, verskeie, ook ons Christelike) primitief is en geweld bevorder, lyk skielik aantreklik. Ten spyte van gematigdes van albei kante (daar is primêr twee kante – Christene en Moslems) wat aanhou vrede preek, lyk dit vir die buitestander of daar iets inherent gevaarliks in godsdiens is, iets wat enige mens oor die rand kan stuur en irrasioneel laat optree.

My eie vrae hieroor het my al laat delf, en laat afkom op ons eeu se mees vooraanstaande student van wêreldgodsdienste. Karen Armstrong het ’n storie van haar eie: eers non, toe vrou en ma, en die hele tyd ’n toegewyde akademikus, ’n stem om mee rekening te hou in die dialoog tussen godsdienste. Ek erken ek is bevooroordeeld omdat sy ’n Christen is en ek met groter gemak haar werk bewonder om daardie rede. Maar haar invloed kan nie onderskat word nie.

In haar boek Fields of Blood: Religion and the History of Violence (The Bodley Head, 2014) bewys sy met oortuigende argumente dat die ware redes vir oorlog en geweld in ons verlede weinig te doen het met godsdiens, en veel meer met geld. Die ontwikkeling van boerdery en handel skep ’n gemeenskap gegrond op die bou van welvaart. En die begeerte na welvaart is meer dikwels die motiveerder vir aggressie. Hierdie boek is ’n effektiewe korrektief op die wyd aanvaarde idee dat geloof en geweld verweef is.

Maar ek kan ook nie ontken dat godsdiens in die verlede misbruik is om mense te mobiliseer tot geweld nie, selfs al is die eerlike motiewe daarvoor ver daarvan verwyder. Godsdiens het ’n invloed op kultuur, en as jou kultuur die andere haat, het manipuleerders seker altyd ’n kans om mense se denke en optrede radikaal te beïnvloed. Maar dit is eerder menslikheid as godsdienstigheid wat mense laat oorgaan tot geweld. Lyk vir my of ons graag die goddelike wil blameer vir menslike keuses.

Laat ons vra: Wat sal jou laat geweld gebruik? Nee eerlik . . . wat maak jou kwaad? Wat sal jou laat baklei? Jou kinders se veiligheid? En nie net fisies veg nie, maar met woorde wond . . . ’n Bedreiging van jou leefstyl of wat jy in glo? Elke mens het iets waarvoor hulle sal staan en veg, selfs die vredemakers onder ons. En dit moet seker so wees.

’n Jong man kry ’n masjiengeweer en skiet mense in ’n nagklub dood. En hoewel ondersoekbeamptes nog grou om motiewe te ontbloot, verklap die daad reeds baie van wie die skieter was. Jesus het kwaad geword dat mense uitgebuit word: Hy vleg ’n sweep en verwyder handelaars uit die tempel, nie omdat Hy ’n probleem het met handel dryf nie, maar met uitbuiting deur die geldwisselaars, en die gepaardgaande toegangsvereistes tot die tempel, wat die armes en geringes benadeel het. Dit verklap wie Hy is.

Ons kyk nuus, verlang na vrede, simpatiseer met die slagoffers. Ons kyk nuus, word selde bly, soms hartseer en sekerlik ook kwaad.

Vraag is: waarvoor?

Meer oor:  Geloof  |  Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.