Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Emosie en rede oor bewaring nie goeie bedmaats
Tony Weaver

Dit is amper onafwendbaar. Elke drie jaar verskerp kampvegters vir diereregte, wat téén jag is, die retoriek oor trofeejag met geborgde artikels oor waarom jagters kwansuis boosaardig is.

Die kampvegters vír jag – gesteun deur wetenskaplikes en natuurlewebestuurders – skryf weer artikels oor waarom jag onontbeerlik vir bewaring in Afrika is.

Waarom elke drie jaar? Want dit is wanneer die konvensie oor internasionale handel in bedreigde spesies (Cites) vergader om sy handelsreëls te oorweeg.

Die konvensie vergader weer volgende maand in Genève, Switserland. Die mees omstrede voorstel op die tafel is dié deur Botswana, Namibië en Zimbabwe om beperkte handel in olifantprodukte toe te laat. Jag is deel van al drie dié lande se bewaringsbenadering en is die tuiste van sowat 237 000 olifante.

Belangrik is ’n klousule in die voorstel wat lui: “Die opbrengs van die handel sal uitsluitlik gebruik word vir die bewaring van olifante en gemeenskapsbewaring en vir ontwikkelingsprogramme binne of aangrensend tot die gebiede waar die olifante hou.” Te midde hiervan is ’n olifant met die naam Voortrekker in Namibië gejag. Dit was ’n ernstige blaps deur Namibië om in dié sensitiewe stadium in die aanloop tot Cites ’n jagpermit uit te reik vir ’n bul wat vir diereregte-aktiviste sentimentele (en propagandistiese) waarde het. Die aktiviste het die blaps as ’n geleentheid aangegryp en onder meer ’n yslike veldtog op sosiale media begin. Geborgde artikels het ook die lig gesien.

Om enige dier ’n naam te gee het op geen manier sy bewaringstatus verander nie.

Namibië se reaksie was aggressief, dog in die kol. Om enige dier ’n naam te gee het op geen manier sy bewaringstatus verander nie: “Hulle (kritici) kan nie in die toekoms inkyk om te sien waar Namibië in die komende dekades moet wees nie. Hulle kyk eerder individueel na elke olifant. Dit is nie ’n bewarings-biologiese benadering nie, maar ’n korttermyn-diereregte-benadering, wat teenproduktief vir langtermyn-bewaring is.”

Om name te gee aan individuele diere, wat altyd “ikonies” word as hulle gejag is, is nuttig vir diereregte-aktiviste. Maar al sê die aktiviste ook wat, daar was niks unieks aan Voortrekker nie, behalwe dat hy ’n stel goeie tande en ’n naam gehad het, en dat hy voorheen van jag gered is deur ’n veldtog wat genoeg geld gespaar het om sy jagpermit te koop.

Namibië het ongeveer 22 000 olifante, teenoor sowat 7 000 in 1995. Die helfte hiervan is nié in nasionale parke nie, maar in gemeenskaplike areas waar die bevolking daagliks in stryd met die diere lewe.

Hulle trek wesenlike voordeel uit die land se gemeenskapsbewaringsprogram (CBNRM). Die program, wat oor dekades heen met groot sorg deur ’n handjievol toegewyde professionele mense in die wildbedryf opgebou is, het gesorg dat Namibië se natuurlewe ook buite sy nasionale parke gedy.

’n Beslissende deel van die program is om deur jag geld vir gemeenskapsbewaring in te samel. Tog is baie van die bohaai rondom Voortrekker in die vorm van regstreekse aanvalle op die CBNRM. Wat ’n kortsigtige benadering. Verwag maar dat die geraas en die geborgde artikels gaan toeneem namate Cites nader kom.

Hier is my pleidooi aan natuurlewe-owerhede: Asseblief, moenie enige verdere jagpermitte vir diere met troeteldiername soos “Skylion”, “Cedric” of “Groottand” in die aanloop tot Cites uitreik nie.

Meer oor:  Tony Weaver  |  Olifante  |  Bewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.