Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
En daar flous Johnny toe ons én die stelsel

Ek verlang deesdae verskriklik baie na ou Johnny. Sy naam was eintlik Jan, maar nadat hy die platteland vir ’n wyle verlaat en ’n paar jaar in die stad gewoon het, wou hy glad nie meer Jan genoem word nie.

“Wie is jou Jan?! My naam is Johnny,” sou hy jou regbring as jy hom per ongeluk op sy plaasnaam genoem het.

Hy was een van daardie karakters wat enige geselskap wat net nie op dreef kon kom nie, met sy pittige sêgoed kon opkikker. Nie net was hy een vir poetse bak nie, maar sy blote teenwoordigheid het almal aangesteek.

In sy stap het hy ’n uitsonderlike huppel gehad. En dan het hy nog boonop gebrei ook.

En nou moet ek ook byvoeg dat spekskiet deel van sy mondering was. Meeste van sy sêgoed het ons maar met ’n stewige knippie sout gevat.

Naweke het hy altyd ’n klinknaelbroek en Tiger-tekkies gedra. Die soort wat jy bykans elke naweek met Shu-Shine ’n facelift moes gee. Sy denimbroek het altyd onder sy stuitjie gehang, en dan het dit gelyk asof sy agterstewe vir jou glimlag.

Van twee dinge het Johnny baie gehou – sy dop en sy stop.

Van twee dinge het Johnny baie gehou – sy dop en sy stop. En dit nogal in ’n tyd toe aaptwak streng verbode was. Johnny was al meer as een keer opgesluit nadat hy met sy geliefde rookgoed betrap is.

Die gewraakte bloedhonde van die apartheidsjare kon dit uit die diepste hoekies van sy liggaam uitsnuffel.

Bedags het Johnny tieptrokke gery vir ’n maatskappy wat sand en klip vervoer het. Wanneer hy oor naweke met sy pelle ’n dop gesteek het, sou hy die volgende dag bewe nes ’n ou Massey Ferguson-trekker op ’n sinkplaatpad – babelaas in die hoogste graad!

Omdat Johnny altyd met ’n sterk drinksessie klontjies gekry het, het sy drinkebroers altyd growwe sout byderhand gehou. Wanneer sy arms en mond begin styftrek, sou een sommer so ’n handpalm vol sout verby sy mond trek. Dan was hy binne ’n japtrap weer reg.

Hoewel sy vriende hom dikwels gespot het dat hy met sy oorlede pa se rybewys bestuur, het ek dit nooit ernstig opgeneem nie. Totdat hy die tydelike met die ewige verwissel het.

Dit blyk toe later dat Johnny mooi sy oorlede pa se identiteit en rybewys oorgeneem het.

Dis toe die familie sy begrafnispolisgeld probeer opeis dat die neukery begin. Nêrens kon sy van met ’n Jan of Johnny verbind word nie.

Dit blyk toe later dat Johnny onder die feilbare stelsel van die destydse persoonskaarte van die apartheidsregering mooi sy oorlede pa se identiteit en rybewys oorgeneem het. Hy het immers op ’n druppel nes hy gelyk.

Eers ná vele beëdigde verklarings en ’n suster wat gedreig het om hom in die lykshuis ’n taai klap te gaan gee, is die logistieke probleme rondom hom uitgepluis.

Ek het Johnny se begrafnis behartig. Op sy gesig was ’n ondeunde glimlag. So amper uit genoegdoening dat hy vele van ons jare lank so geflous het.

Meer oor:  Nolan Venter  |  Id  |  Rybewys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.