Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
En daar staan Cyril steeds
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Daily Sun

In alle billikheid en balans: Dit is al telkens hier duidelik gestel dat die ANC – wat deur pres. Cyril­ Ramaphosa self tot hoofbeskuldigde verklaar is – nie op enige geloofwaardige standpunt teen korrupsie kan aanspraak maak nie. In elk geval nie terwyl die organisasie se hoofverdagte in staatskaping los rondloop nie. En daar is Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal, toe aangekeer vir sy dag in die hof.

Dit terwyl Jacob Zuma, die groot indoena van staatskaping, soos ’n vis in ’n dreinerende dam voor die Zondo-kommissie spartel.

Ook saam met sowat 100 prominente politici, amptenare, sakelui, geregsdienaars en meer wat reeds in die laaste paar maande aangekeer is, gee dit beslis geloofwaardigheid aan die vervolgingsgesag se vasberadenheid om deur te druk en skoon te maak. Ook beslis aan Ramaphosa se volgehoue prioritisering van die stryd teen korrupsie – ongeag wie in die spervuur beland.

Magashule se uitdagende en kwalik bedekte dreigende houding buite die hof gee dalk ’n blik aan Jan en alleman waarmee Ramaphosa sedert Nasrec-2017 opgeskeep sit. Dit bly komplekse magspolitiek.

Die ANC val steeds te veel rond oor wie wanneer uit poste geskors moet word.

Maar vir nou gaan die geloofwaardigheid wat Ramaphosa daardeur wen, nie noodwendig gedeel word deur die steeds grootliks misdaadorganisasie wat hy lei nie. Die ANC val steeds te veel rond oor wie wanneer uit poste geskors moet word en voer ’n ernstige diskoers oor die beskerming van misdaadverdagtes en krygshere in openbare poste. Dus, terwyl Magashule daar bly sit, deel sy kamerade steeds die stank.

Hoewel munisipale tussenverkiesings ’n relatiewe aanduider is, sou dit ook politieke druk op Ramaphosa verlig het dat die ANC heel skaf­lik vertoon het in die mini-verkiesing van 95 betwiste wyke.

As die ANC dit kan regkry in ’n tyd met die meeste rioolbesmette strate en grootste woonbuurtvullishope in die land se geskiedenis, skep dit vir nou ’n taamlike vooruitsig dat daar inkoop op die Cyril-beloftes eerder as alternatiewe is.

Dit maak die Ace-bende se soveelste “Skop-Cyril-uit”-plannetjies net al hoe meer onhaalbaar. (Uit die kringe wat Ramaphosa se val al hoeveel keer die afgelope twee jaar voorspel het, word die Ace-reflekse selfs nou ’n “revolusie” genoem. Nee wat. Hoogs hoogs oordrewe.) Wat nie beteken dat daar nie steeds potensiaal vir binnegevegte sonder enige handskoene is nie.

Ná al die storm en drang van die Covid-19-inperkings staan Rama­phosa op ’n baie beter plek as vele van sy ampsgenote van gerekende lande, soos Brittanje, Ierland, Duitsland en veral die magtige Amerika. Emosionele oorreaksie op ’n rookverbod wat verslap sou word en toe nie is nie, was die katalisator vir ’n nasionale uitbarsting. Wat met reg momentum gegee is deur vrot kommunikasie en uitvoering, asook die groot skok van die groot Covid-19-rooftog deur die ANC.

Die ekonomiese skade is oral op die planeet en die veel erger gevolge van “skaf alle inperkings af” is reeds sigbaar in van die genoemde lande. Of hier nou uit onkunde ’n soort kudde-immuniteit ontstaan het, of die vinnige inperkings gehelp het, of die handhawing van die regte beperkings soos die verbod op massabyeenkomste die deurslag gee en of ons ’n grootskaalse tweede vlaag gaan afweer of nie – vir nou kom Ramaphosa ook nie te sleg anderkant uit nie en kon hy verslappings aankondig, terwyl ander plekke weer moes inperk.

Ekonomiese hulpmaatreëls lyk vir sommige waarnemers meer na die inpomp van geld in die reeds mislukte swartbemagtigingsideologie.

Ekonomiese hulpmaatreëls lyk vir sommige waarnemers meer na die inpomp van geld in die reeds mislukte swartbemagtigingsideologie. Indien werkverskaffingsprogramme in isolasie plaasvind en nie gekoppel word aan ware ekonomiese groeiprojekte nie, gaan dit op ’n dag verby wees as die geld op is.

Die bykans stilstand met die toepas van ekonomiese groeiplanne en die ideologiese obsessie met die SAL oortuig nie eens Lesetja Kganyago, goewerneur van die Reserwebank, of Tito Mboweni, minister van finansies, nie. Hoekom moet dit dan vir ons?

Te midde van ernstige twyfel of die regering enigsins in staat is om ’n soort ontwikkelingstaat te lei, het Ramaphosa onlangs in die parlement volgehou: “Dit is deur konsensusbou tussen die regering, die sakewêreld, arbeid en die burgerlike gemeenskap dat ons ’n gemeenskaplike program kon ontwikkel en die­selfde gees van samewerking en vennootskap moet ons op die pad vorentoe lei”.

Barnard Beukman

Tyd sal leer wat dit beteken.

Die angel is vir eers (let wel vir eers) uit die beslaglegging op grond sonder vergoeding getrek met die beskikbaarstelling van 700 000 ha se onderbenutte staatsgrond vir herverdeling, hoewel vreemd en ongelukkig tans nie deur eienaarskap nie.

Die prioritisering van landelike veiligheid het ná harde werk deur sommige in die ANC op die kabinet se agenda beland en is so goedgekeur saam met ’n uitdruklike veroordeling van plaasmoorde sonder enige kwalifisering in die kabinet se verklaring van 21 Oktober.

Is dit dalk toe wel ’n geval van twee treë vorentoe elke keer en soms net een terug met Ramaphosa? Hy is steeds staande.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Presidentskap  |  Ekonomie  |  Politiek  |  Hulp  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.