Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
En die grootste is . . . die liefde
Laetus O.K. Lategan

Met Valentynsdag verby, is daar seker baie verliefdes wat Paulus se woorde kan nasê dat die liefde die grootste van alles is. Selfs groter as geloof en hoop (1 Kor. 13:13).

En as jy ’n geestelike gawe in die gemeente wil beoefen, beoefen die liefde. Dit is die “uitnemende” weg (1 Kor 12:31).

Daar is seker diegene wat skepties staan oor die fees van die liefde. Óf oor persoonlike teleurstellings óf omdat dit as ’n dag vir die handel beskou word.

Dit is jammer as die liefde nie meer met die diep sin van menslike bestaan geassosieer word nie. Maar ’n liefdes-verhouding kan maklik ’n gewoonte word. Mense aanvaar mekaar gou as vanselfsprekend. Verhoudings word nie genoegsaam “gediens” nie.

Ons hoor al hoe minder die liefdesgebod (Matt. 22: 34-40) van die kansel af. In ’n tyd waarin persoonlike geloof in God kwyn, word dit moeilik om ongekwalifiseerd ja op “God bo alles” te bely. Die verhoudings met die naaste is ook nie wat dit moet wees nie. Ons sê mos graag wat die ander ver-keerd doen. Afstand word dan makliker as uitreik.

Wat dus baie nodig is, ongeag die datum vir die jaar, is om weer oor die liefde en verhoudings na te dink.

Wat dus baie nodig is, ongeag die datum vir die jaar, is om weer oor die liefde en verhoudings na te dink.

’n Bybelse riglyn is nie afwesig nie.

Ek lees graag Hooglied omdat dit my laat bloos. Die boek Hooglied besing in beeldryke taal die begeerte en hunke-ring na die ander persoon. Erotiese bewondering word nie stil gehou nie. Maar ook nie die duursaamheid van die verhouding nie. (Lees onder meer Hoogl. 4 en verder.) Die begeerte om bymekaar te wees, is nie net vir ’n vervlietende moment nie, maar oorspan tyd en ouderdom. Ek wil altyd by jou wees. Dit is juis hierdie verbin-tenis wat dikwels onder beleg kom as die liefde afkoel. Dit is goed as geliefdes mekaar vergewe; dit is jammer as geliefdes mekaar begin miskyk. Êrens staan in my notaboekie oor Hooglied aangeteken: “Moenie die begeerte na mekaar verloor nie.”

Die Hooglied-skrywer is nie klaar nie. Onthou, sê sy, dat liefde nie ’n prys het nie. Haar opmerking bly vars: Al wil iemand vir die liefde al die rykdom in sy huis betaal, hy sal daaroor uitgelag word.” (Hoogl. 8:7b).

Dink ons nog so oor die liefde? Of is Hooglied ook maar gerangeer net soos ons liefdesverhoudings?

Die liefde is natuurlik nie net die erotiese hunkering van een mens na die ander nie. Daar is ook die naaste-liefde wat nie vergeet mag word nie. Dit is ’n eiesoortige verhouding, nie van mindere waarde as die liefde tussen twee mense nie, maar anders.

Die teenoorgestelde van die liefde is nie haat nie, maar onbetrokkenheid.

Hierdie andersheid vra nie minder lojaliteit en integriteit nie. Dit dring ook aan om mekaar te ontmoet en van betekenis te wees in bepaalde omstandighede. Hier gaan dit om ruimte vir mekaar te skep deur wedersydse ondersteuning. Hier geld Paulus se advies oor die konstruk-tiewe bydraes in mekaar se lewe. Ek dink dit is veral die advies oor die boekhou van die kwaad wat ter harte geneem kan word (1 Kor. 13:5).

Die slotsom is dat ongeag die soort verhouding die liefde ten diepste gaan oor barmhartigheid teenoor mekaar.

Die teenoorgestelde van die liefde is nie haat nie, maar onbetrokkenheid.

’n Vrolike geleentheid soos Valen-tynsdag het my weer herinner aan die duursame verhouding met ’n geliefde, maar ook die volgehoue noodsaaklik-heid van naasteliefde.

As jy jouself nie genoegsaam aan jou geliefde verbind het nie, gaan doen dit.

As daar iemand is wat jy met jou briewe, boodskappe, woorde of dade geboelie het, is dit gepas om die saak reg te stel. Moenie uitstel nie. Doen dit vandag nog.

Betoon liefde en beoefen dit.

Dit is die uitnemende weg!

  • Prof. Lategan is senior direkteur: navorsingsontwikkeling en nagraadse studies aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie, Vrystaat (SUT).


Meer oor:  Godsdiens  |  Geloof  |  Liefde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.