Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
En hoe gaan dít reggestel word?

In 1979 het prof. Jakes Gerwel die eerste “gekleurde” geword wat ’n doktorsgraad in Afrikaans behaal het.

Heindrich Wyngaard

In sy proefskrif het hy, aan die hand van romans wat tussen 1875 en 1948 gepubliseer is, ’n ondersoek “na Afrikaners se literêr-verwoorde konsepsies van ‘gekleurdes’ ” gedoen.

Hy het dié “konsepsies” breedweg in drie kategorieë geplaas: “Jollie hotnot”, “Ek het maar net saam met die baas gekom” en “Die Kleurlinge is nog kinders”. Selfs nou behoort dit verpligte leesstof te wees vir enigeen wat ’n opregte belangstelling in (en belang by) die “kleurverhoudingstruktuur” van die Afrikaanse samelewing het.

’n Studie oor hedendaagse “konsepsies van ‘gekleurdes’ ” in die Afrikaanse letterkunde behoort insiggewend te wys. Maar dit behoort nie net die uitbeelding van bruin (of swart) deur die wit skrywer, denker of akademikus te wees wat onder die vergrootglas geplaas word nie.

Omgekeerd vereis die ervarings van die sogenaamde “gekleurde” in tradisioneel Afrikaner-omgewings (hetsy die letterkunde, vermaakwêreld, tersiêre instellings en sportwêreld) ook aandag.

Hierdie intellektuele uitdaging (of verpligting) sluit aan by die “Overlook­ed”-inisiatief wat The New York Times verlede jaar van stapel gestuur het by wyse van ’n reeks artikels oor die lewe en nalatenskap van mense oor wie die koerant sedert 1851 nagelaat het om huldeblyke te plaas.

Hy het dié “konsepsies” breedweg in drie kategorieë geplaas: “Jollie hotnot”, “Ek het maar net saam met die baas gekom” en “Die Kleurlinge is nog kinders”.

Ongetwyfeld bestaan daar só ’n behoefte in die (Suid-)Afrikaanse gemeenskap, en ’n mens wonder watter (Suid-)Afrikaanse koerant of media-organisasie met ’n soortgelyke projek die dapperheid aan die dag sal lê. Of berus die onus daarvoor óók op ’n burgerlike organisasie of dalk vernaamlik op ’n opvoedkundige instelling?

Die bedoeling is nie om vinger te wys nie, want elkeen van ons het skuld hieraan, sowel hoofstroom- of wit onkunde as “swart Afrikaanse” onwilligheid om vir redes van hul eie dié soort kwessies op die agenda te plaas.

Ten spyte daarvan word goeie dade tóg gepleeg en regstelling van historiese wandade (wanvoorstellings) vind wél plaas, soos die Universiteit Stellenbosch se hernoeming van die H.B. Thom-teater na die Adam Small-teater, “boetedoening” vir die “Slag van Andringa-straat” en die eregrade wat jaarliks aan ’n verskeidenheid verdienstelike kandidate toegeken word.

Word hulle in die geharwar van deesdae se uitdagings “oorgesien” en “misgekyk”?

Maar word daar op die kampus of selfs in lesingsale (sigbaar, hoorbaar) erkenning aan die ervarings van die eerste kohort bruin Maties in die laat 1970’s gegee?

Word hulle in die geharwar van deesdae se uitdagings “oorgesien” en “misgekyk”? Is hulle gereduseer tot die koerantberig wat Amanda Botha op 1 Februarie 1978 in die Afrikaanse pers geskryf het onder die opskrif “Eerste bruin Maties begin”?

Die jaar daarna het Gerwel in sy proefskrif wegbeweeg van die konven­sionele gebruik om die literêre teks te sien “as ’n geïsoleerde verskynsel wat in ’n literêre kunsmuseum vir die nageslag ’n plek toegeken moet word”.

Ewe so moet daar nou wegbeweeg word van die konvensionele gebruik om die hedendaagse ervarings van “gekleurdes” in die Afrikaanse leef- en denkwêreld as geïsoleerde verskynsels te beskou, wat slegs maar vér in die toekoms aan die nageslag oorvertel sal word. Ons moet nóú reeds daaroor praat en wedersydse begrip kweek, en veral ook dink hoe om die ervaring anders, béter vir die nageslag te maak.

Wyngaard lei môre om 14:00 in die Woordfees se Boeketent ’n gesprek (“Hot noot”) oor bruin en swart belewenisse van die Afrikaanse leef- en denkwêreld. Die paneel is Jeremy Veary, Mercy Kannemeyer, Astrid de Vos en Hein Gerwel.

Meer oor:  Jakes Gerwel  |  Heindrich Wyngaard  |  Rassisme  |  Letterkunde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.