Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
En nou Oupa, wat sê jy nou van weerlig?

Klein Wimpie rol rusteloos in sy bed rond. Die slaap ontwyk hom. Die hoë straatlig naby hulle huis gooi spookagtige skaduwees oor die mure van sy kamer. In die voorhuis hoor hy die groot muurhorlosie 12 slae slaan. Dis sowaar al middernag.

Die lig uit een van die ander vertrekke skyn in ’n skrefie onder sy kamerdeur in. Hy trek die kombers wat van hom afgegly het weer oor hom. Sy ma het so anderhalfuur gelede kom inloer of hy nog rustig slaap. Sy het saggies na hom geroep, maar hy het gemaak of hy vas slaap. Hy wil nie hê dat sy haar nog onnodig oor hom ook nog bekommer nie. Dinge is klaar so moeilik vir haar.

In sy geestesoog sien hy sy ma se rooigehuilde oë. Nie net hare nie, maar vele pare oë, en dit is wat hom nou uit die slaap hou. Dinge het hierdie week vinnig gebeur, dalk té vinnig en veel vir sy brein om te verwerk.

Eers was dit sy ouma wat uit die bloute met ’n ambulans hier by die huis weggeneem is. Sy het doodstil op die draagbaar gelê en almal het gehuil. Dit was net ná sesuur die aand. Sy het die vorige dag nog werk toe gegaan en het soos gewoonlik vir hom iets saamgebring.

Sy ma het aan die ambulansmanne iets van kortasem genoem. Hy ken daardie gevoel. Hy moet by sy skool se atletiekbyeenkomste vir ’n tyd lank ná ’n naelloop hygend gaan staan om sy asem terug te kry. Hy kan nou nog nie glo dat sy ouma dood is nie.

Sal ’n god wat ’n voorstander van liefde is in een week een gesin só in rou dompel?

Maar gister was die dag wat sy lus vir die lewe finaal weggeruk het. Sy oupa het skielik ook gesterf. Hy was glad nie weer dieselfde ná Ouma se dood vroeër nie.

Hy dink aan die muurprent in die voorhuis waarop in groot letters staan: “God is liefde”. Weet hierdie God werklik ooit van liefde? dink hy by homself. Sal ’n god wat ’n voorstander van liefde is in een week een gesin só in rou dompel? Hulle is almal nou wees – sy ma, sowel as haar broer en suster, en natuurlik ook hy. Alles binne die bestek van ’n paar dae.

Hy trek die rugbybal waarmee hy altyd in die bed kruip nader en druk dit styf teen sy bors vas. Oupa het dit nog met sy laaste verjaardag vir hom gekoop. ’n Sportbyeenkoms waaraan hy deelgeneem het, het sy oupa nóóit misgeloop nie. En Oupa het vas geglo dat hy eendag Springbok sou word.

Dis ’n gebroke Wimpie wat die Saterdag in sy woonbuurt se begraafplaas aan sy ma se swart rokspante vasklou. Die masker om sy mond versmoor hom. Die mense staan ver uitmekaar, amper asof hulle vir mekaar bang is. Selfs die predikant lyk nie op sy gemak waar hy voor die diep, oop graf staan nie.

Nadat sy oupa se kis in dieselfde gat bo-op dié van sy ouma neergelaat is, kom iets wat Oupa dikwels aan hom gesê het in sy gedagtes op: “Weerlig slaan nooit twee keer op dieselfde plek nie.” En nou Oupa, wat sê jy nou? sêvra hy in sy gebroke kinderhart.

Meer oor:  Nolan Venter  |  Geloof  |  God  |  Weerlig  |  Dood  |  Oupa  |  Ouma  |  Afsterwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.