Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
En so wag die mense steeds op hul kaptein
Dana Snyman

Dit kan nie so aangaan nie, sê Basie. Dis tyd dat ons Afrikaners saamstaan. Genoeg is nou genoeg.

Kyk net hoe word ons boere op hul plase vermoor, sê hy. Kyk wat word van Afrikaans. Oral word ons uitgeskuif. Nêrens stel hulle meer ’n Afrikaner aan nie. Die ANC, die EFF – die hele spul soek ons nie hier nie.

’n Mens kan ook nie meer die DA vertrou nie. Jy kon darem nog altyd vir hulle stem, maar kyk wat het nou weer by daai skool gebeur. Hulle vat jou wraggies die EFF se kant.

Die DA hou nie regtig van ons nie. Hulle gebruik ons net om vir hulle te stem.

Oor die Vryheidsfront wil hy nie eens praat nie, sê Basie. Kruip nou by die bruin mense. Belaglik!

Solidariteit en AfriForum doen hul bes. Hulle probeer ten minste die slaggate in die paaie toegooi. Maar gaan ou Flip en ou Kallie nie op die ou end maar net weer voor die ANC kruip nie?

Nes generaal Jannie Smuts destyds voor die Engelse gekruip het. Daar is nou vir jou ’n volksveraaier as daar ooit een was: Smuts. Kyk net wat het hy met Jopie Fourie gedoen.

Mense gaan so te kere oor ou generaal De La Rey, maar hy was ook maar ’n opportunis.

Mense gaan so te kere oor ou generaal De La Rey, maar hy was ook maar ’n opportunis. Hy het die rebelle in 1914 in die steek gelaat. Die beste van hulle almal bly maar ou generaal De Wet. Ons het weer ’n De Wet nodig.

Of iemand soos Eugène Terre’Blanche wat geweet het hoe om ons mense op te sweep. Nie dat hy ooit ’n AWB was nie, sê Basie. Terre’Blanche het te veel gedrink en van sy perd afgeval.

’n Mens kon ook nie regtig vir oom Jaap Marais stem nie. Oom Jaap met sy budjies.

PW was seker ’n goeie leier, maar PW was ’n regte ou korrelkop. PW moes nooit toegelaat het dat die KP van die NP af wegbreek nie. Dis waar ons probleme begin het, want in ‘91 toe ons almal nee in FW se referendum moes stem, toe stem die meeste mos ja.

Die probleem is: Ons het nie leiers nie. Wat het van Kortbroek geword? En waar is Constand Viljoen?

FW het ons uitverkoop. Agterbaks. Tipies Dopper. Nie dat die klomp in die NG Kerk beter is nie. Die liberaliste het die NG Kerk oorgeneem. Ons moet terugkeer na God toe. Ons het nou eintlik vir Verwoerd nodig.

Die probleem is: Ons het nie leiers nie. Wat het van Kortbroek geword? En waar is Constand Viljoen? Dis net jammer oom Angus is Engels, hy sou ons kon gelei het.

Miskien moet Steve Hofmeyr tog maar ’n politieke party stig. Steve kom darem vir die Afrikaner op. Maar Steve is nie ’n politikus nie.

Steve laat hom aan Piet Retief dink, sê Basie. Steve het mos saam met Zuma gebraai, nes Retief saam met Din­gaan. En kyk wat het met Retief-hulle gebeur.

Die Voortrekkers het in elk geval ’n fout gemaak, hulle moes nooit Natal en Transvaal toe getrek het nie. Hulle moes Suidwes toe getrek het. Nou sit ons met die probleme.

Ons sal moet saamstaan. Dis nou of nooit. Ons het nie meer ’n keuse nie.

Hoekom kon die Afrikaner nog nooit saamstaan nie? Hy verstaan dit nie, sê Basie.

Meer oor:  Dana Snyman  |  Afrikaners  |  Leiers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.