Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
En toe . . . het die alledaagse net verdwyn
Annemarie van der Walt

Die kinderstemme kom teen laatmiddag oor die dun herfslug: opgewonde, skril met elke nou en dan ’n benoude gilletjie.

Ek stap na die agterwerf om beter te kan hoor waaroor die bohaai is en staan dan wie weet hoe lank en afluister: “En toe . . . en toe . . .”

Dit is die lekkerste manier van speel: “En toe sink die skip en moet ek jou red . . .” Of: “En toe breek ek my been en moet jy my dra . . .” En een wat ons kleintyd oor en oor gespeel het: “En toe kom die Rooi Indiane en ontvoer my . . .”

Dit is altyd drama op groot skaal, en jy is nooit net ’n gewone mens nie maar ’n soldaat, ’n speurder of ’n cowboy; Robin Hood of die meisie van Avignon.

Terwyl ek na die kinders luister wat ek nie kan sien nie, onthou ek soveel. Daar was speletjies wat dae lank aangehou het en jy soveel keer van karakter verwissel het dat jy naderhand soos ’n struikrower voortstorm terwyl jy eintlik ’n prinses moet wees.

Dis gewoonlik ook net daar waar die speletjie in die hek duik: “Jy kán dít nié dóén níe! Ek gaan huis toe.”

Die bome in die tuin was niks minder as woude nie, elke swembad was ’n oseaan.

Ek onthou ook die speelklere: Daar was dié geërf van tannies, ander van vorige jare se skooloperettes, nog ’n klomp waarvan die herkoms ’n geheimenis was. Lakens was mantels, teenette sluiers en handdoeke vlerke of tulbande.

Of hoe brand jou boude as jou rok opskuif...

En is ’n mens ooit weer so bewus van jou lyf soos toe?

Jy voel weer die velle agter jou knieë knyp terwyl jy koponderstebo aan ’n speelraam hang. Of hoe brand jou boude as jou rok opskuif wanneer jy teen ’n sonwarm glyplank afgly en hoe jou nek ruk as jy ’n opgewende swaai laat
terugtol.

Jy weet ook presies hoe om jou as’t ware op te vou op ’n rak in die klerekas met donkerkamertjie, hoe plat jy jouself moet maak onder die syselbos tydens wegkruipertjie en hoe hol jy jou rug moet trek om nie raak getouch te word nie.

Die kere wat bravade die oorhand gekry het oor gesonde verstand – as daar ooit so iets was – is soos braille op jou lyf wat jy later onder jou vingers nalees: Die letsel op jou knie toe die kaskar om ’n blinde draai omgeslaan het, die treinspoortjie op jou voorkop van gly op ’n ghoen teen ’n bedpoot vas, en die riffie op jou hand toe jy deur ’n doringbos geploeg het.

Mettertyd vervaag die littekens. Al die speelplekke is soveel kleiner wanneer jy dit wel weer besoek. Het ons regtig ’n hele dorp gehad onder die wasgoeddraad, met plek genoeg vir drie fietse en ’n rooi trapkar wat om en om ry?

Die spelende kinders word ingeroep huis toe, dit raak stil.

En toe doen ek iets wat ek al lankal wou: Ek klim in die avokadoboom, sukkelrig, gaan sit in ’n mik en neurie die wysie van Die meisie van Avignon.

Meer oor:  Kinders  |  Rubriek  |  Speel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.