Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
En toe sê Johan Heyns dit reël vir reël na . . .

In elke groter storie is daar byna altyd kleiner stories wat inmekaarpas – soos Russiese poppies. Daaraan het ek gedink toe ek verneem het van ’n beplande vollengte dokumentêr oor die vermoorde teoloog Johan Heyns.

So, dan die kleiner storie: In 1982 besoek ek saam met ’n domineevriend die NG Kerk-sinode in Pretoria. Onder meer beleef ons hoe ’n stemprosedure oor ’n kerklik-politieke saak gemanipuleer word.

Dit het my diep gegrief en uit ontsteltenis én woede het ek in die sinodesaal ’n onthutsende vers geskryf, getiteld “Prosedure”: “Die Sinode was in camera / oor eenheidskerk / en die politiek van Ottawa / toe iemand hierdie nota bring: / Hier buite wag ’n man / wat sê hy kom van Nasaret. / Hy vra of hy / ook ’n spreekbeurt het. / O God, is Jesus hier / skrik / vra / die Breë Moderatuur . . . / Broers kom ons volg die reël: / die Regskommissie sal besluit /oor die man wat buite staan / se lidmaatskap en geldigheid.”

O God, is Jesus hier / skrik / vra / die Breë Moderatuur . . .

Die aand laat bel Heyns my en sê hy het gehoor van die vers en wil hê ek moet dit oor die telefoon voorlees sodat hy dit met ’n paar vriende kan deel, onder wie die teoloë Willie Jonker en Dirk Hattingh.

Ek sê die vers is ’n bietjie rof op die oor. Kan ek dit nie maar vir hom bring nie. “Nee, asseblief lees dit vir my voor, dan herhaal ek dit sodat almal hier kan hoor.”

Ek lees die vers reël vir reël en hy sê dit reël vir reël na.

Ek lees die vers reël vir reël en hy sê dit reël vir reël na. Ek huiwer effens by die skellende “O God, is Jesus hier”, maar hy sê dit na asof dit so hoort. Vandag nog hoor ek in my binneoor hoe hy die reëls in sy eiesoortige redenerende stemtoon nasê. Agterna bedank hy my en sê die kerk het nou nuwe stemme nodig.

Ek het die vers met enkele vriende en familie gedeel en toe daarvan vergeet. In Januarie 1983 verskyn die vers in die joernalis Coenie Slabber se Rapport-rubriek Kyk Wat Gebeur met kommentaar oor die “veelbewoë sinode” daarby.

En kyk wat het tóé gebeur! Daar was koerantbriewe wat die sinodale besluite opnuut gekasty het, maar ook wat dit geloof het.

Een briefskrywer (’n hoë sinodale amptenaar) het die vers gekritiseer oor “feitefoute, valshede en wanvoorstellings”. So asof ’n satiriese gedig en ’n verslaggewende berig dieselfde ding is.

En verder dat die gedig se “man wat buite staan” sinspeel op Allan Boesak wat die sinode wou toespreek.

Die trant van sy brief was eintlik ’n bisarre verdediging van sinodale godsdienstigheid, korrektheid en biddende onkreukbaarheid; vergesel van innuendo’s oor my bedenklike motiewe as ’n “benede die peil Afrikaner-geleerde”.

Wat by hom verbygegaan het, was ’n digter­like kreet oor onreg in ons toenmalige kerklik-politieke bestel.

Toe Heyns in 1986 tot moderator van die NG Kerk verkies is, het hy as dapper voordenker met nog groter erns die kerk gelei om apartheid te veroordeel.

En daarvoor het hy met sy lewe geboet in 1994.

Meer oor:  Johan Heyns  |  Wilhelm Jordaan  |  Kerk  |  Mening  |  Sinode  |  God
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.