Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
En wat van die Rwandas onder ons eie neuse?

Die afgelope naweek het ek en Stellenbosse kollegas deelgeneem aan die herdenking van die menseslagting in Rwanda 25 jaar gelede. Eerskomende naweek herdenk en vier ons die 25ste verjaardag van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK). En op 27 April vier ons die 25ste verjaardag van demokratiese Suid-Afrika.

In die Bybel word mense opgeroep om te onthou, te herdenk, te treur, te vier. In ’n kultuur van “keeping up with the Joneses” blyk die bou van ’n kultuur van onthou ’n sterk morele appèl te wees. Ons onthou ter wille van die hede en die toekoms.

Ons onthou dus nie met die doel om aan die verlede verkneg te wees, om dit te verromantiseer of om dit te gebruik om ’n slagoffer-, verwyt- en sogenaamde “entitlement”-kultuur te kweek nie. Onthou het meer edel en konstruktiewe oogmerke.

Ons onthou Rwanda om by hernuwing sosiale simpatie, empatie en interpatie te betoon met ’n land wat die ergste pyn en lyding denkbaar ervaar het.

Op 7 April 1994, presies ’n week voor die stigting van die VGK, het die menseslagting in Rwanda begin.

Hierdie solidariteit met geliefdes van Rwanda ’n kwarteeu later word juis versterk as ons onthou hoe die wêreld, ons inkluis, nie aandag geskenk het aan die wreedheid en menseslagting onder ons neuse nie.

Op 7 April 1994, presies ’n week voor die stigting van die VGK, het die menseslagting in Rwanda begin, vir ongeveer 100 dae geduur en die uitwissing van digby ’n miljoen mense meegebring.

Terwyl dit op ons vasteland gebeur het, het ons die hereniging van kerke gevier, en het ons eufories deelgeneem aan die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika. Ons het skynbaar nie geweet nie.

Tydens die vieringe van die VGK en demokratiese Suid-Afrika se verjaardae moet Rwanda onthou word, en moet ons vra watter tragedies speel dalk onder ons neuse af, in ons land en elders, waaraan ons nie aandag skenk en prioriteit verleen nie.

Die wreedheid waarmee vreemdelingehaat gepaardgaan, proteste in ons woonbuurte vir basiese lewensmiddele wat nou al byna genormaliseer is, die vraatsugtige roof van staatsbates terwyl sovele landgenote honger ly, die reël­matige doodmaak van selfs minderjarige kinders in bendegeweld, die toenemende polarisasie tussen kleurgroepe plaaslik en interna-sionaal – dít is alles Rwandas, tragedies wat onder ons neuse afspeel.

Onthou roep op tot viering van die mooi dinge, tot treur oor die lelike dinge, en tot die verbeelding van en verbintenis tot ’n nuwe toekoms. In die Belhar-belydenis wat die VGK aan die wêreld skenk, is dit ’n toekoms van sosiale solidariteit en sosiale kohesie oor allerlei grense heen, van versoening- en geregtigheidsoekende eenheid.

  • Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Nico Koopman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.