Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
En watter Demokraat kan Trump troef?

Dis nog meer as anderhalf jaar voor die volgende Amerikaanse presidentsverkiesing, maar die politiek in dié land word al klaar daardeur oorheers.

Aan Republikeinse kant lyk dit onwaarskynlik dat pres. Donald Trump deur enigeen van sy partygenote as presidentskandidaat uit­gedaag sal word. En ás só iemand sy opwagting maak, is die kans dat hy Trump kan uitknikker êrens tussen 0,1% en 0,2%.

Aanvaar dit maar: Trump sal aanstaande jaar in November opnuut die Republikeinse Party se kandidaat wees. Of hy die verkiesing gaan wen, is ’n ander vraag.

Neem in ag dat Trump, streng gesproke, eintlik nié 2016 se verkiesing gewen het nie. Hy het byna 3 miljoen stemme minder as Hillary Clinton gekry.

Maar goed, kragtens die Amerikaanse verkiesingstelsel sit hy in die Withuis. Volgens talle akademiese ont­ledings van 2016 se stemgedrag was een van die belangrikste redes waarom Trump in sleutel­state (veral in die Midde-Weste) gewen het, die feit dat Clinton so ’n swak kandidaat was.

Clinton se oorduidelike magsug en haar problematiese verlede het talle kiesers, veral onder swart mense en Latyns-Amerikaners, afgeskrik. Dít is waarom die identiteit van aanstaande jaar se Demokratiese kandidaat van deurslaggewende belang gaan wees.

Trump het in die afgelope twee jaar daarin geslaag om sy populistiese agenda en persoonlikheid op die Republikeinse Party te stempel.

Trump het in die afgelope twee jaar daarin geslaag om sy populistiese agenda en persoonlikheid op die Republikeinse Party te stempel.

Daarteenoor lê die veld by die Demokrate volkome oop. En die openbare gesprek dáár word deur ’n ideologiese kakofonie oorheers.

Enersyds is daar ’n figuur soos Joe Biden, visepresident onder Barack Obama, stewig in die politieke sentrum. Sy nadeel is dat hy al 78 jaar oud is, wat sommige mense kan afskrik.

Andersyds is daar heelparty behoorlik linkse politici soos sen. Bernie Sanders, wat egter ook al oud is. En die jong Beto O’Rourke wat, ondanks sy linkse oortuigings, die Republikeine in verlede jaar se Senaatsverkiesing in Texas baie groot laat skrik het deur so amper die aartskonserwatiewe sen. Ted Cruz te klop.

As die Demokrate ’n swaargewig in die veld stoot, een wat bowendien nie alte links is nie, kan hy Trump klop. Trump se hardekwas­houding, en die feit dat sy ekonomiese beleid min vir die armes en baie vir die rykes beteken het, kan beteken dat hy aanstaande jaar sy koffers sal moet pak en uit die Withuis padgee.

Enige egte voorspelling sou in dié stadium egter volstrek voorbarig wees. Baie gaan afhang van die vraag of die spesiale ondersoeker Robert Mueller ’n sameswering tussen Trump, sy verkiesingsveldtog en Rusland kan onthul wat bedoel was om die verkiesing in Trump se guns te swaai.

Dít is ver van seker. Dus kyk almal met spanning na wie die Demokratiese kandidaat gaan wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.