Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
En wie gaan EFF se tande trek?
Henry Jeffreys

Dit is geen geheim dat die EFF in ’n fel stryd teen die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, gewikkel is nie.

Krap jy egter net ’n bietjie dieper, raak dit duidelik dat die party en sy leier, Julius Malema, se eintlike teiken pres. Cyril Ramaphosa is. Die EFF beskuldig die president daarvan dat hy Gordhan beskerm en hom toelaat om die ekonomie “uit te verkoop” aan “witmonopolie-kapitaliste”.

Die EFF dreig om môreaand se staatsrede te ontwrig indien Ramaphosa nie vir Gordhan afdank nie. Rama­phosa kan nie gesien word dat hy swig voor afpersing nie – en dis waarop die EFF se eise neerkom.

Dit is onwaarskynlik dat hy aan die EFF se eise sal toegee, wat beteken die parlementêre jaar gaan op ’n onstuimige noot begin. Voer die EFF sy dreigemente uit, kan dit met redelike sekerheid voorspel word dat die parlement vanjaar nie sy werk sal kan doen nie.

Die twis tussen die EFF en Gordhan het ’n lang aanloop. Dit kan teruggespoor word na die tyd toe Gordhan nog die kommissaris van die Inkomstediens was en hy die sogenaamde “rogue unit” – ’n interne intelligensie-eenheid – op die been gebring het.

Die OB het Ramaphosa gelas om Gordhan te dissiplineer, maar hy het dit tot nou geïgnoreer.

Sowel die inspekteur van intelligensie as die openbare beskermer (OB) het bevind die vestiging van die eenheid was onregmatig. Die OB het Ramaphosa gelas om Gordhan te dissiplineer, maar hy het dit tot nou geïgnoreer en is tans in ’n hofstryd daaroor gewikkel.

Dit is moeilik om ’n uitweg te sien in die stryd tussen Gordhan en die EFF, of altans, tussen die EFF en Ramaphosa.

Die parlement het by monde van die speaker, Thandi Modise, te kenne gegee dat geen spesiale reëlings getref word om die EFF se verklaarde protes môreaand teen te werk nie.

Daar is net een punt op die agenda en dit is die president se staatsrede, het sy verlede week verklaar. Gegewe wat ons reeds weet waartoe die EFF in staat is, klink dit onwys en kortsigtig.

Wat eintlik nodig is, is dat Ramaphosa en die parlement met Malema en die EFF in gesprek tree om die situasie te probeer beredder.

Dit lyk egter of Malema en die EFF hul hakke diep ingeskop het en nie te vinde sal wees vir enige onderhandeling nie. Dit is asof hulle ’n “Doen soos ons eis, óf . . .”-benadering het.

Ramaphosa se probleem is dat hy nie op die ANC kan staatmaak om hom met sy Gordhan-tameletjie te help nie. Die minister is nie gewild in die regerende party nie, en baie ANC-kamerade sal maar alte graag eerder anderpad kyk as om tot Ramaphosa se redding te kom.

Die druk op Gordhan sal in die volgende dae toeneem.

Die druk op Gordhan gaan in die volgende dae toeneem. Baie meen hy behoort die “eerbare” ding te doen en te bedank. Dit sal ’n groot klip uit die pad van Ramaphosa rol, maar terselfdertyd die EFF ’n groot oorwinning gee, wat die party in sy kwaad sal sterk.

Die EFF is reeds die tweede grootste parlementêre opposisieparty in die land, en die verwagting is dat hy in die nabye toekoms die DA as leidende opposisieparty kan verbysteek. ’n Oorwinning vir die EFF in sy stryd teen Gordhan en Ramaphosa kan net sy posisie versterk en die DA verswak.

’n Nederlaag vir Ramaphosa sal sy posisie in die ANC verswak en sy vooruitsigte om in sy pos as staatshoof aan te bly verder in gedrang bring.

Hoe ’n mens ook al daarna kyk, kan daar min twyfel wees oor wat die spel is wat die EFF speel. Die party se optrede is opportunisties, ondemokraties en ondermynend van die einste demokrasie waaroor hy graag hoog opgee dat hy daarvoor omgee.

Die parlement moet môreaand ferm optree en verseker dat Suid-Afrikaners die geleentheid kry om na Ramaphosa te luister. Dit is ons reg.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Eff  |  Magspel  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.