Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
En wie land nou onder die bus?

Jacob Zuma, voorheen handeldrywend as Nommer Een, het vroeër vanjaar gekla dat hy sy “sokkies en hoede moet verkwansel om sy regskoste te delg”.

Sonder enige binnekennis oor die mark vir tweedehandse sokkies en hoede, kan Dawie stellig verklaar dat Zuma ná gister met nóg groter probleme sit. Dít is nadat die hooggeregshof in Pietermaritzburg gister Zuma se aansoek dat die strafsaak teen hom permanent gestaak moet word, met koste van die hand gewys het.

Dawie

Na alle verwagting sal hy dus volgende week reeds moet verskyn op aanklagte van bedrog, korrupsie, geldwassery en swendelary wat onder meer betrekking het op die omstrede wapen­transaksie van 1999.

Vir iemand wat gesê het hy wil graag sy dag in die hof hê, het Zuma nogal ’n beduidende hoeveelheid tyd en geld bestee om uit die hof te bly. Sowat 16 jaar lank gooi hy al jakkalsdraaie om die gereg te pypkan.

Sou dit dan nie vir hom, gegewe sy onwrikbare geloof in sy eie onskuld, makliker en goedkoper gewees het om eenvoudig van meet af aan sy eie onskuld bo alle redelike twyfel in die hof te gaan bewys nie?

Zuma het natuurlik nie net die stryd teen vervolging in die howe geveg nie. Deel van sy strategie sedert hy in 2009 president geword het, was om volskaalse verwoesting te saai by wets­toepas- sers soos die nasionale vervolgingsgesag (NVG), die Valke, en selfs by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Om die waarheid te sê, hy het selfs verwoesting in sy eie party gesaai om homself so onaantasbaar as moontlik te hou.

En natuurlik was dit vir hom moontlik om verwoesting op sulke groot skaal te saai omdat landsbelang – en selfs ANC-belang – vir hom eenvoudig niks beteken het nie. Vir Nommer Een was Nommer Een se belange deurentyd nommer een.

Maar hoe dit ook al sy – die dinge raak nou lekker warm vir Zuma, want dit is mos nie meer sy skoothondjie, adv. Shaun Abrahams, wat aan die hoof van die NVG staan nie.

As Dawie hom goeie (en gratis) raad kan gee: Hou maar liewer jou geld vir die strafsaak, want jy gaan nog elke liewe sent nodig kry.

Na wat Dawie verneem, het adv. Shamila Batohi en haar span hul sake mooi agtermekaar.

Terloops, Abrahams se onwilligheid om Zuma te vervolg, selfs nadat die hooggeregshof gesê het dit behoort te gebeur, is moontlik die eerste op­getekende geval van ’n rot wat ’n sinkende skip te hulp probeer snel.

Maar terug na Zuma: Die vraag wat dít alles opper, is wat sy volgende skuif gaan wees as hy met die rug teen die muur is. Dawie se antwoord is baie eenvoudig: Hy gaan sy eertydse meelopers een vir een onder die bus gooi in ’n poging om uit die tronk te bly.

’n Vorige keer dat hy met die rug teen die muur was, was in 2016 oor Nkandla. In die konstitusionele hof het hy ewe skielik ’n U-draai gegooi en erken dat die openbare beskermer se bevindings oor die kwessie wel bindend is en hy bereid is om ’n gedeelte van die geld terug te betaal.

Hiermee het hy ’n klomp lojaliste in sy binnekring, op wie hy vroeër gesteun het om die teendeel te beweer, summier uitverkoop.

Ook in sy getuienis voor die Zondo-kommissie het Zuma geskimp dat daar ’n paar diknekke is wat maar goed bekommerd moet wees as hy te ver gedryf word. Vermoedelik is daar ’n paar van sy eertydse tjommies wat dalk nou snags in ’n angssweet rondrol.

En indien Zuma dalk van voorneme is om weer appèl aan te teken, gaan hy dalk meer as ’n paar ou sokkies en hoede bymekaar moet skraap vir die regs­rekening.

As Dawie hom goeie (en gratis) raad kan gee: Hou maar liewer jou geld vir die strafsaak, want jy gaan nog elke liewe sent nodig kry.

Meer oor:  Regskoste  |  Dawie  |  Jacob Zuma  |  Uit My Politieke Pen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.