Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Engelse donkies en die World Cup

Hy het genoeg gehad van die pasafgelope ‘World Cup’, maar onthou nog ’n rugbywedstryd uit sy jongdae tussen twee dorpspanne op die platteland, sê Johan van Wyk.

Die aanbidders van die rugbygod sal sekerlik die aapstuipe of die papperellekoors kry, maar ek het nou genoeg gehad van die “World Cup”, soos Afrikaanse mense van die Wêreldbekertoernooi in Japan praat.

Vir die volle duur van die spektakel het ek die woord “Wêreldbeker” selde gehoor.

Selfs uit die bedorwe bekkies van my rugbyspelende kleinseuns wat kwalik “yes” en “no” en Coke kan sê, was dit “World Cup”. Hoewel dit my grief, verbaas dit my nie, dis dan hoe hulle ouers praat!

Wys jou weer hoe Engels besig is om ons soos vloedwater in te neem. En hoe Afrikaanse mense met die geringste aansporing, gatoorkop slaan. Ook dit verbaas my nie. Ons weet mos dat Afrikaanse mense Afrikaans se eie, grootste vyand is. En dat baie, indien nie die meeste nie, eenvoudig te lui is om hulle moedertaal suiwer en keurig te uiter. Hulle kry dit nie eers reg om die “World Cup” die Wêreldbeker te noem nie.

Oor Afrikaans voel ek inderdaad al meer soos die lafhartige “joiner” wat in ’n perdestal op ’n afgebrande plaas weggekruip het tydens die Engelse (se) Oorlog. Ja, dis wat ek die Boere Oorlog noem, omdat die Engelse dit uit gierige meerderwaardigheid begin het, nie die boer nie.

Toe hy in die halfdonkerstal op ’n hooihark trap en die se steel hom teen die voorkop moker het hy, menende dat hy deur die Engelse aangeval word, benoud uitgeroep: “I gives over !” Het jy dit al oorgekom ? ’n Hooihark se lang steel kan jou katswink slaan.

Wat my betref, verdien Afrikaans dus om te verdwyn. Hopelik sonder ’n pynlike, gestadige dood. ’n Kort skande is altyd beter as ’n lang verdriet.

Ek gaan ook nie my kop langer daaroor breek nie. Ek het genoeg bekommernisse oor my kinders en kleinkinders se onsekere toekoms in Suid-Afrika om ook nog daaroor wakker te lê.

Ek is nie juis ’n rugbykyker nie en dink ek het kort ná ou Jan van Riebeeck op 6 April 1652 voet aan wal gesit het laas ’n rugbywedstryd bygewoon. Omdat dit so ’n geweldige indruk op my ontvanklike jong gees gemaak het, veel meer as die “World Cup”, onthou ek dit steeds.

Die “game”, soos Afrikaanse mense praat, was ’n wedstryd tussen Malmesbury en Darling se tweedes of derdes op Darling se klipharde grondveld met witgekalkte grenslyne. My swaer, wyle Bill Sadie, het op die rype ouderdom van 43 op vleuel vir Malmesbury opgedraf. En ná die wedstryd vol skrape en kneusplekke afgedraf.

Die toeskouers was in karre en bakkies om die veld en ek en my suster, Jossie Sadie, was in ’n 1956 Chev. Toe Malmesbury ’n oorstootdrie in beseringstyd druk, het die toeskouers, soos nou tydens die “World Cup”, op hulle toeters gedruk. Ná die “game” het ons ’n bottel vyfjaaroud KWV in die Chev se kattebak oopgemaak om Malmesbury se oorwinning te vier.

Johan van Wyk

Darling was toe nog ’n “one horse town” in die westelike Boland, wat sedertdien, gelukkig, nie juis groter geword het nie. Toe ek laas daar was. het ek drie bakkies, ’n melklorrie en die klassieke motorfietse van ’n klompie geesdriftige ou ballies van die Cape Town Veteran Motorcycle Association in die hoofstraat getel.

En, ’n donkiekar. Kompleet met ou, vuil olie wat liggies drup uit die “diff” van die ou motoronderstel waarop dit gebou is. Ek het effens bewoë geraak, want ’n mens sien nie meer eintlik donkiekarre in die Boland nie. Ek het met sulke donkiekarre grootgeword.

Ongelukkig kon ek nie die twee donkies se name kry nie. Was dit dalk “Custard” en “Jellie”, soos die name van twee karperde in Lokkie van Zyl se boek, Velddrif se stories, oor die besondere mense van die Weskus, haar hartswêreld? Perde en donkies dra van die mooiste, beskrywendste name in Afrikaans en Engels.

Ek sal nooit weer ’n bakkie jellie met vla op ’n kerkbasaar eet sonder om aan hulle te dink nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.