Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Era van Zumaïsme verby
Max du Preez

Die daarstelling van ’n parallelle misdaadstaat onder Jacob Zuma het verstommend ver gevorder, maar daar was nooit ’n kans dat dit volledig sou kon slaag nie. Dit is nou besig om skouspelagtig in duie te stort.

Dié ambisieuse projek sou nooit van die grond af gekom het as dit nie was vir die sentrale rolle wat Zuma en sy voorste rottweiler, David Mahlobo, gespeel het nie.

En dit was juis hul misrekening met die aard van die Suid-Afrikaanse samelewing wat die fatale swakplek was.

Zuma en Mahlobo se ander flater was om beheer oor die drie Gupta-broers te verloor – of eerder, om in ruil vir wavragte vol geld hulle toe te laat om Suid-Afrika soos hul private spazawinkel te behandel.

Zuma se aandeel is relatief maklik om te verstaan. Hy is in sy wese ’n Zoeloe-tradisionalis wat as ongeletterde 20-jarige vir tien jaar Robbeneiland toe is en daarna meestal as MK-soldaat in Mosambiek en Zambië gelewe het tot sy terugkeer in 1990.

Hy is meer Afrika-sterkman as demokraat; hy verstaan brute mag en het nooit vrede gemaak met die feit dat Suid-Afrika ’n konstitusionele demokrasie is waar die reg die oppergesag is nie.

Sy ervaringswêreld is die tradi­sionele etniese gemeenskappe en die intelligensie-omgewing.

Uit sy verhouding met Schabir Shaik en ander ryk weldoeners kom ons agter dat hy sukkel om te verstaan hoekom dit oneties is om gunste vir donasies uit te deel – hy’s dan die chief en dis dan die Afrika-manier.

Mahlobo, seun van ’n Zoeloe-hoofman van die Piet Retief-omgewing, was ’n staatsamptenaar in Mpumalanga toe Zuma hom in 2012 uit die bloute tot die ANC se nasionale uitvoerende komitee laat verkies en minder as twee jaar later as minister van staatsveiligheid aangestel het.

Mahlobo het mettertyd as Zuma se de facto-premier ontpop en het hom in alle vlakke van regering begin inmeng.

Mahlobo het mettertyd as Zuma se de facto-premier ontpop en het hom in alle vlakke van regering begin inmeng.

Hy was die laaste drie jaar gereeld in Moskou en het ’n spesiale verhouding met pres. Wladimir Poe­tin en sy senior veiligheidsmense, wat hom ook deeglik in die kuns van dezinformatsiya, kompromat en ander Russiese vuil truuks onderrig het.

Hy was byvoorbeeld die meesterbrein agter die diskreditering van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se ondersoekeenheid wat tot die oorname deur Zuma-lojalis Tom Moyane gelei het.

Maar Zuma en Mahlobo het hulle totaal met die sofistikasie en moderniteit van die swart stedelike middelklas en elite misreken; dat Suid-Afrika ’n oop gemeenskap in die ware sin van die woord geword het; dat die Grondwet se waarborge van vrye spraak en regsoewereiniteit deur die burgers geïnternaliseer is.

Nóg Zuma nóg Mahlobo was deel van die UDF in die 1980’s en het nie daarvan kennis geneem dat dié breë nasionale beweging ’n gans ander politieke etos as die geslote, militêre kultuur van die ANC-in-ballingskap had nie.

Mahlobo se Moskou-leermeesters het waarskynlik ook gedink wat in Rusland werk, moet hier ook werk.

Zuma het ná sy Polokwane-sege in 2007 dié wat hom help wen het ore aangesit en met vrees en manipulasie regeer. Die ANC-leierskorps het vir jare lank toegelaat dat hy met moord wegkom.

Maar uiteindelik was Zuma net té kru, sy ondermyning van die ekonomie té dodelik en sy staatskapingsmaters té blatant.

’n Onafhanklike regbank, toegewyde ondersoekende joernaliste en ’n opbruising van aktivisme uit die burgerlike samelewing en die ANC self het gesorg dat Zuma se doppie behoorlik geklink is.

En al sou sy voorkeurkandidaat, Nkosazana Dlamini-Zuma, oor twee weke as nuwe ANC-leier aangewys word, is die era van Zumaïsme en staatskaping oor en verby.

Suid-Afrikaners is basies ordentlike, trotse mense – en demokrate.

Meer oor:  David Mahlobo  |  Jaco Zuma  |  Robbeneiland  |  Rubriek  |  ’Anc-Leierskapsverkiesing  |  Menings  |  Korrupsie  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.