Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Erken dit nou maar: SA is mislukte staat

Dit het dalk tyd geword dat ons erken Suid-Afrika is ’n mislukte staat, skryf Danny Titus.

Werkers betoog teen Eskom enkele jare gelede in Pietermaritzburg. Foto: Argief

Ons nuwe jaar, 2020, klink so mooi. Ons wil so graag die land suksesvol sien vorentoe gaan.

Soveel Suid-Afrikaners dink ons leef steeds in die tydperk van versoening van oudpres. Nelson Mandela. Talle landgenote jubel nog oor die oorwinning van pres. Cyril Ramaphosa oor die faksie van oudpres. Jacob Zuma by die ANC se Nasrec-konferensie.

En tog is die Mandela-era lank reeds in die vergetelheid en die Zuma-faksie is allesbehalwe stil.

Trouens, volgens ’n groep ANC-veterane is die faksie daarvoor verantwoordelik dat die president sy buitelandse besoeke soos dié aan Davos afgestel het om die uitdagings van die Zuma-volgelinge op die tuisfront die hoof te bied. Dit lyk asof die ekonomiese groei van die land en die herstel van openbare ondernemings glad nie op hul agenda is nie. Die groot fokus is om Ramaphosa se leierskap teen te gaan.

Met sulke ondermyning in die magtige heersende party word die land lamgelê – soveel so dat die greintjie optimisme wat die Ramaphosa-leierskap geskep het, uitgedroog en weggeskud is.

Vir my is dit tyd om ’n stappie terug te gee, realisties te wees en te aanvaar dat Suid-Afrika ’n mislukte staat is.

Die staatsdiens is só opgeblaas dat afdankings ’n ekonomiese werklikheid geword het. Maar nee, die vakbonde skop vas en wil hierdie mense beskerm.

Wat anders kan ’n mens oor ons land kwytraak?

Dis tog nie iets wat ons in die verre verskiet moet verwag nie. Ons mislukte staat is lank reeds met ons. Eskom, Prasa en die verbrokkelende openbare ondernemings is met ons om te bly.

Die derduisende staatsamptenare wat rustig vreet in die staatstrog met hul salarisse en daarmee saam hul besighede wat ongestoord sake doen met dieselfde staat, is die jongste skok wat ons getref het.

Hoe gaan dié blatante misdadigheid aangepak word? Met watter mentaliteit gaan jy daagliks werk toe om só te gaan steel van jou werkgewer? Dis maar net in die departement van openbare werke.

Wat gebeur in ander departemente?

Die staatsdiens is só opgeblaas dat afdankings ’n ekonomiese werklikheid geword het. Maar nee, die vakbonde skop vas en wil hierdie mense beskerm.

Hoe kan ons dag in en dag uit mooi broodjies bly bak oor die onbevoegdhede van ons staat? Die onbevoegdhede word lank reeds erken; dit terwyl die land oorloop van bevoegde landgenote wat nie “blacks in general” en “Africans in particular” is nie.

Wanneer gaan dié waansin ophou?

Danny Titus

’n Vriendin werk vir jare by ’n vooraanstaande universiteit. Kom kyk wat daar aangaan, vertel sy.

Ons hoor van minister Fikile Mbalula dat Prasa oorloop van gebreke, maar ‘Ek het ’n plan’, verkondig hy. ‘Toets my daarvolgens,’ vra hy.

En as dit platval? Wat maak ons met jou? Jou lojaliteit is nie by die land nie, maar by die ANC. Die versplinterde ANC wat baantjies vir maatjies oophou. Die ANC wat die Ramaphosa-leierskap doelbewus ondermyn.

’n Hele boek vol getuienis met die titel van Gangster State is al lank in die openbaar en die hoofverdagte loop breëbors in die land rond as sekretaris-generaal van die ANC – onaantasbaar, sonder dat enige vinger na hom gewys kan word.

Die ANC se Integriteitskommissie kom haal so nou en dan vars lug en raak dan weer weg. Die nasionale vervolgingsgesag, so hoor ons, werk hard agter die skerms en die Zondo-kommissie ploeter voort.

Ag nee wat, kom ons hou op met die mooi broodjies, die mooi spietse en kom ons erken Suid-Afrika is ’n mislukte staat wat net nie werk nie.

Miskien sal ons dan meer realisties na ons probleme kan kyk.

* Dr. Titus is ’n onafhanklike kommentator. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.