Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Erken ons eie ‘anti-syzygie’
Alida Kok
Alida Kok

Die Skotte gebruik ’n term om die dubbele en verdeelde Skotse psige te verduidelik: die “Kaledoniese anti-syzygie” – wat inspirasie kan bied vir die erkenning van ons eie “Afrikaanse anti-syzygie”.

“Syzygie” verwys na ’n “noue unie of band tussen dele”. Daarteenoor beskryf “anti-syzygie” botsende polariteite in een entiteit.

Die Skotte meen dat hul persoonlikheid as ’n nasie ’n unieke gespletenheid het wat botsende polariteite in hul na­sionale psige skep. Dié dubbele psige bestaan, aangesien die Skotte ’n nasie is wat eintlik nie ’n behoorlike nasie is nie. Skotland is al 300 jaar in ’n unie met Engeland en die behoud van ’n nasionale Skotse identiteit midde-in eeue lange politieke oorheersing deur Engeland het ’n gespletenheid tot gevolg gehad.

Die dubbele Skotse psige vind uitdrukking in samelewingspole, soos die hooglande en laaglande, Katolisisme en Protestantisme en Skotsheid en Britsheid. Polêre “stemme” is ook teenwoordig in Skotse literatuur wat uitdrukking vind in fiktiewe identiteite wat ’n weerspieëling van die Skotse ervaring is. Hier is Robert Louis Stevenson se The Strange Case of Dr. Jekyll and Mr. Hyde ’n voorbeeld. In Hugh MacDiarmid se poësie is die twee botsende stemme van die Skot ook teenwoordig: een stem wat homself daaraan oorgee om ’n passiewe slagoffer te wees en ’n ander revolusionêre stem wat positiewe verandering wil teweegbring.

Die Skotte se onvermoë om met ’n meerderheid ten gunste van Skotse onafhanklikheid in ’n referendum te stem, word toegeskryf aan hul “anti-syzygie.

Die Skotte se onvermoë om met ’n meerderheid ten gunste van Skotse onafhanklikheid in ’n referendum te stem, word toegeskryf aan hul “anti-syzygie”: die een stem wil in ’n unie met Engeland bly en die ander stem wil onafhanklikheid verkry.

Afrikaanses het, soos die Skotte, ’n dubbele en verdeelde psige. Ons samelewingspole is die stad en platteland, republikeinse noorde en koloniale suide, binneland en kus, Standaardafrikaans en Kaaps en Afrikaner en Kapenaar.

Vandeesmaand se viering van die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) as die eerste amptelike poging om Afrikaans as taal te vestig, het weer die spanning tussen die twee dele van ons psige na die voorgrond gebring. Aan die een kant is die stigting van die GRA en die momentum wat dit gebied het om Afrikaans te standaardiseer gevier. Aan die ander kant is daar ’n afkeer van dié viering, aangesien dié gebeurtenis nie verteenwoordigend van, byvoorbeeld, Nathan Tran­traal, Young van Riebeek, Lynthia Ju­lius, SIEP, Niko10Long en Vannie Kaap se Afrikaans is nie.

Die verdelingslyn in die Afrikaanse psige skei nie net verskillende groepe nie, maar loop ook deur Afrikaanse individue. Een mens is gebore en getoë op die Kaapse Vlakte en praat die Afrikaaps van daardie geweste, maar kyk ook moontlik neer op haar annerlike Afrikaans. ’n Ander persoon is gevorm in die wêreld van Standaardafrikaans, maar is ook moontlik bewus van die potensiële engheid van sy amptelike Afrikaans.

Dié verdelings vind ook uitdrukking in die Afrikaanse politiek van die suide en die noorde, en word nog verder gekompliseer deurdat Afrikaans – in al haar gewade – gepraat, geskryf en gesing word in ’n land waarin sy en haar sprekers nie welkom is nie.

Die Skotse samelewing se erkenning van sy botsende polariteite gee aan die groep as ’n geheel een dieper Skotse gewaarwording en identiteit wat tog ’n samehorigheid en gedeelde ervaring skep. So word nuwe moontlikhede vir die Skotse nasie gevorm.

Die erkenning van die “Afrikaanse anti-syzygie” kan dieselfde vir Afrikaanses in Suid-Afrika beteken.

  • Kok is ’n dosent in politiek aan Akademia.
Meer oor:  Alida Kok  |  Slagoffer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.