Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ernst Conradie: Waarvoor is universiteite daar?
Ernst Conradie

G’n universiteit is ’n doel opsigself nie. Dit staan in diens van iets anders. Maar wat?

As daar miskien een goeie ding is wat die onverkwiklike taaldebatte oor universiteite in Bloemfontein, Potchefstroom, Pretoria en veral Stellenbosch kan oplewer, is dit om ons opnuut te laat nadink oor hierdie vraag: Waarvoor is ’n universiteit in die eerste plek daar? En daarmee saam: Wat is die rol van ’n universiteit in Afrika en spesifiek in Suid-Afrika?

Hoe ’n mens hierdie vrae beantwoord, sal jou posisie oor die rol van Afrikaans deurslaggewend beïnvloed.

Enige universiteit speel natuurlik ’n rol met opvoeding, maar ook opvoeding is nie ’n doel opsigself nie, of is dit?

Universiteite het te make met die verwerwing, verwerking en verspreiding van kennis. Maar waarvoor is kennis daar? En gaan opvoeding regtig net oor kennis, insig en vaardigheid? Of dalk eerder oor wysheid? Maar het jy dan ’n graad nodig om wysheid te kan bekom?

Daar kan breedweg vier antwoorde op die vraag na die doel van kennis gegee word, elk met radikaal uiteenlopende gevolge vir navorsing, onderrig en leer:

  • Dalk is kennis deug sodat dit wel ’n doel opsigself is?
  • Of dalk is kennis daar ter wille van mag – politieke mag of tegnologiese krag?
  • Ander dink aan kennis as ’n instrument om geld te bekom – maar ook geld is tog alleen ’n ruilmiddel, of hoe?
  • En dan is daar nog ander wat dink kennis is daar om ander te vermaak en vermaak te word; dit moet saam met sport en kuns, net soos fiksie en televisie, plesier verskaf. Of dalk is alles net ’n grap sodat humor die doel van kennis is. Maar wie glo dít regtig?

Dis moeilike vrae dié omdat dit te na aan die waarheid kom: vir party gaan die opdoen van kennis eintlik maar net daaroor om ’n toepaslike graad (en die sosiale status wat daarmee saamgaan) te verwerf. En die graad kan jou help om goeie werk te bekom. En die werk gaan oor die salaris. Die salaris gaan wel oor oorlewing maar eintlik oor die plesier wat jy daarmee vir jouself en die mense om jou kan verseker.

Teen hierdie agtergrond kan die vraag opnuut gestel word: Waarvoor is universiteite dan daar?

Jare gelede het Prof. Hennie Rossouw in Universiteit, wetenskap en kultuur (1993) drie moontlike modelle voorgehou. Hy het onderskei tussen:

  • Die kollege-model (waar die fokus val op die breë intellektuele vorming van individuele burgers);
  • Die institusionele model (waar die fokus val op die daarstel van fasiliteite vir navorsing ter wille van die uitbreiding van kennis), en
  • Die skool-model (waar die fokus val op beroepsopleiding gegewe die eksterne behoeftes in die samelewing).

Rossouw het nie een van hierdie modelle voorgeskryf nie. Die kuns is om al drie modelle met mekaar te verweef en om te weet wat wanneer beklemtoon moet word.

Daar is talle soortgelyke ontledings van vooraanstaande denkers. Manuel Castells onderskei byvoorbeeld vier maatskaplike rolle van ’n universiteit, naamlik:

  • die ontwerp en legitimering van die dominante sosiale waardestelsels;
  • die onderrig van die dominante elite;
  • die skoling van die professionele arbeidsmag, en
  • die opbou van wetenskaplike kennis.

Teen hierdie agtergrond, skets ek vervolgens sewe moontlike opvattings van waarvoor ’n universiteit daar is. Elkeen is bra gebrekkig en word hier doelbewus gekarikaturiseer om aan te dui hoedat hierdie opvattings funksioneer in taaldebatte. In elke geval dui ek aan hoe daarvolgens oor die rol van taal gedink word:

1. Dalk is universiteite daar ter wille van godsdiens? Dit is immers so dat universiteite in die Middeleeue uit katedraalskole ontstaan het – as plekke wat mense kan help om die Bybel te lees, daaroor na te dink en daarop te reageer in die wêreld waarbinne hulle gesitueer is. Dan is taal wel belangrik, maar liefs Latyn, Grieks, Hebreeus en dalk ook die omgangstaal om daarin te kan “reageer”.

2. Dalk is universiteite in Suid-Afrika nodig om kulturele redes, bes moontlik om die vlam van Europese beskawing in “diep, donker Afrika” te laat brand. Anders word “ons” dalk deur die “see van barbarisme” verswelg, of hoe? Of dalk help dit om die middelklas te vergroot en “ons” te bewaar van die aansprake van armes en onderdruktes? Dan is taal wel belangrik, maar Engels, Duits of Frans sal meer help as Afrikaans, of hoe?

3. Dalk is universiteite daar om die status van ’n land, ’n regering, ’n heerser te demonstreer? Dit is miskien die eintlike rede hoekom biskoppe katedraalskole gevestig het. Onder apartheid was ’n intellektuele tuiste nodig. Dalk Potchefstroom ’n bietjie na regs gebalanseer met Stellenbosch ’n bietjie meer na links? Daarvoor was politieke beheer oor onderrig in elk geval nodig. Net soos wat meer politieke beheer vandag ook “wenslik” is, blykbaar ter wille van transformasie. Taal is in só ’n geval belangrik, maar liefs die taal van die heersende party – wat inderdaad die patroon is wat op baie plekke gevolg word, en byvoorbeeld op Stellenbosch gevolg is voor en ná 1948.

4. Dalk is universiteite daar ter wille daarvan om ekonomiese groei aan te wakker, om welvaart te help genereer. Dan is ’n universiteit ten beste jou plaaslike “kennisvennoot”. As alles net om geld draai, dan is dit belangrik om die taal van jou handelsvennote te leer praat: dalk Amerikaans, maar liefs ook Chinees. Op ’n mikrovlak is universiteitsopleiding vir baie jong Suid-Afrikaners natuurlik die sleutel tot (ekonomiese) sukses. Engels is dan die beste beskikbare instrument vir die wat hoop op opwaartse maatskaplike mobiliteit.

5. Miskien is universiteite daar ter wille van die voortgesette vooruitgang van die mens as spesie? Immers, die omwentelings oor landbou, koolstofgebaseerde nywerhede en inligtingstelsels het gevolg op die uitbreiding van kennis en nuwe tegnologie wat daarmee saamgegaan het. Is vooruitgang dus ’n doel opsigself? Waarheen? Volstoom vorentoe na ’n ekologiese tragedie? In elk geval, as dit is waaroor ’n universiteit gaan, moet alles liefs in Engels geskied, gegewe die heersende taal waarin navorsing gekommunikeer word (net soos die rol van Latyn voorheen en Grieks nog vroeër). Dan moet almal heimlik daarna strewe om óók die “Harvard van Afrika” te word en dié wat dit nie kan maak nie moet liewers afgegradeer word na ’n kollege. Dan geld navorsingsuitsette (met die klem op geld) en -indekse, maar die bestes kan helaas nie getel of geweeg word nie.

6. Dalk is universiteite regtig daar om die waardigheid van die intellektuele elite te demonstreer, as iemand dit dalk misken het. Dan is ’n universiteit die beste manier om te wys hoe jou taal en kultuur tot hoogbloei kan kom. Alles anders (medisyne, ingenieurswese, landbou, ekonomie) is daaraan ondergeskik want die lewe gaan tog nie oor geld, welvaart of plesier nie, of hoe? In daardie geval moet elke universiteit liefs eiesoortig wees, as ’n bakermat vir en toonbeeld van taal en kultuur (kuns, musiek, sport). Dan moet daar beslis ruimte wees vir ’n paar oorwegend Afrikaanse universiteite, maar liefs ten minste een vir elke amptelike landstaal? Insluitende gebaretaal?

7. Of dalk het universiteite primêr ’n sosiale funksie. Dit is die plek waar mense vir die lewe voorberei word. Jy moet jou voorberei vir ’n bepaalde werk, maar ook om jou met ander invloedryke mense te omring, die besluitnemers van môre. Dalk is dit soos in die ou dae die beste plek waar die elite vriendskappe kan smee, kan jol, ’n bietjie kan “uithaak”, sport kan beoefen, koor kan sing en waar jy hoop om jou toekomstige man of vrou te ontmoet. Watter taal dan gebesig moet word, hang seker af van met watter mense jy te doen wil kry. In ’n eksklusiewe klub is dit beter om jou met mense soos jyself te omring, wat jou taal praat, hoewel ’n paar ander ook toegelaat kan word ter wille van die interessantheid. Net nie te veel van hulle nie, anders sal die volk se tradisies daaronder ly.

Stellenbosch staan volgens oorlewering vir ’n idee. Maar watter idee is dit nou eintlik? Nie een van bogenoemde idees is juis baie aantreklik nie, maar dit word kwistig veronderstel aan alle kante van die debat. Dit is nietemin duidelik dat die rol van taal grootliks deur die dieper, onderliggende vrae beïnvloed word: Waarvoor is ’n universiteit daar? Wat is die rol van ’n goeie universiteit in Afrika? Waarvoor deug kennis? En wat is die doel van opvoeding? Wie weet, dalk is openbare debat hieroor opnuut moontlik? Want dit gaan nie regtig oor “die taal” of enige taalbeleid nie, of hoe?

Dit gaan óók nie regtig oor die befondsing van universiteite nie. Die dieper debat wat die studente se voortgaande protes oproep is eweneens dit: waartoe dien ’n universiteit, veral in die konteks van Afrika.

  • Ernst Conradie is senior professor, departement godsdiens en teologie, UWK en tans navorsingsgenoot by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (Stias).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.