Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Eskom en die skaapribbetjies

Beurtkrag is tos. Dit verlam die ekonomie en is seker die mees prominente simptoom van die land se infrastruktuur-verval. Maar dis darem nie nét sleg nie, skryf Leon-Ben Lamprecht. 

Illustrasie: Niel van Vuuren
Illustrasie: Niel van Vuuren

Een van die eerste dinge wat jy leer as jy ekonomie swot, is die wet van onbedoelde gevolge. 

Dis eintlik iets wat intuïtief is om te verstaan. In die breedste trekke is dit dat die aksies van mense (maar veral regerings) onverwagse, of onbedoelde nadraaie kan hê. 

’n Mens sou dit ook die ne- we-effekte van besluite kon noem. Dis iets, so is ons geleer, waaraan ekonome baie aandag gee, maar wat politici graag vermy. Want dis nie die soort onderwerp wat stemme wen nie. 

Wat my bring by beurtkrag (eintlik verkies ek die term blackout; beurtkrag is hopeloos te eufemisties en probeer dit laat klink of Eskom eintlik in beheer van sake is). 

Met die besluit (of geforseerde implementering, afhangend van jou uitgangspunt) om beurtkrag in te stel, is daar voorsienbare gevolge. 

Die ekonomie gaan pak vat, wat ons dan ook duidelik sien. Jy gaan sit met eier op jou ge-sig in die oë van die wêreld. En dit maak die burgery die moer in. 

Die onverwagse gevolge sou goed wees, soos die publiek wat in groot maat kragopwekkers aanskaf, en dan Eskom se probleme erger maak, want minder mense het dan nodig om krag te koop, en Eskom het dan minder geld, en hulle probleme raak dan erger, en so aan en so meer. 

Dis ook bekend as die kommoditeitsdoodspiraal. 

Maar nie alle onbedoelde gevolge is negatief nie. Verlede week en vandeesweek se kragonderbrekings weens onder meer – en na bewering – die nat steenkool van Mpumalanga (jy sou dink teen hierdie tyd weet die regering dié provinsie kry reën in die somer) het my laat terugdink na die vorige siklus van volgehoude beurtkrag, circa 2014. 

’n Klomp van ons het gebraai by my vriend Scoop se huis in Loevenstein. Skaap-staanrib. Ek en Scoop is verantwoordelik vir ons eie staanribbe, en het elkeen sy eie benadering, maar oor een ding stem ons saam: ’n Staanrib is mos maar ’n ding wat hou van stadig gaar word. Jy weet, soos ’n toetskrieketondersteuner op Nuweland ook daarvan hou om stadig gaar te word. 

Nog wyn word oopgemaak, en ons gesels maar krieket, of wie die Bok-losskakel moet wees, maar beslis nie oor ons vroue vergeet het van die groente nie, o nee.

Dus begin ons vroeg al braai – 16:30 die middag. Dis ook omdat ons weet beurtkrag is geskeduleer vir 20:00 daai aand. (Die een goeie ding van Eskom is dat hulle darem redelik effektief kommunikeer oor wanneer jy nie hulle produk sal kan gebruik nie.) 

Genoeg tyd dus om alles gaar te kry, en te eet en dan wyn te drink en sterre te kyk. 

Soos dit egter maar gaan by ’n braai raak mense, namate hulle meer wyn drink, minder gepla oor die beuselagtighede: soos om die kos gaar te kry. 

Want! Ten spyte van (herhaaldelike!) aanmanings van die uwe en Scoop aan ons vroue dat hulle tog moet onthou om die groente in die oond te kry alvorens die krag afgaan, word genoemde groente eers skuins voor 20:00 in die oond gedruk. 

Oplettende lesers sou agterkom dis ook die tyd wat beurtkrag geskeduleer is. 

En jou wrintiewaar, 20:00 gaan die krag af. (Dis nog ’n positiewe ding van Eskom: hulle kan nie ons steenkool droog of ons kragstasies in ’n werkende toestand hou nie, maar hulle kan die krag afsit as hulle sê hulle gaan. Hulle is in daai opsig nogal soos ’n Switserse horlosie, nè?) 

En die groente is nie gaar nie. 

Die enigste uitweg is natuurlik toe om aan te hou braai tot die krag eendag aan is, en ons die groente kan gaar maak. 

Nog wyn word oopgemaak, en ons gesels maar krieket, of wie die Bok-losskakel moet wees, maar beslis nie oor ons vroue vergeet het van die groente nie, o nee.

Die netto gevolg is dat ons omstreeks middernag gereed is vir ete. Die verdere onbedoelde gevolg is dit: daai skaapribbe was sagter as wat Pravin Gor-dhan met vakbonde omgaan. 

Ek sweer, jy het nie ’n mes nodig gehad nie – jy kon letterlik die ribbeentjies uit die vleis blaas, sou jy wou. 

Ons het geëet dat die vet blink in ons baarde en tot by ons elmboë sit. 

Leon-Ben Lamprecht
Leon-Ben Lamprecht

Die les hierin, dan: Baie dankie Eskom, want sonder julle treurigheid het ek nie daai ribbetjies geëet nie. Dit was die lekkerste ribbetjies wat ek tot nog toe die voorreg gehad het om in my gesig in te stop. 

Ek is ook seker daar is baie kinders wat tans in Mzansi rondhardloop, wat nog eendag ons land se probleme gaan oplos, wat hulle ontstaan kan naspeur na ’n bottel wyn en beurtkrag. 

Daar is ook net soveel dinge wat jy kan doen as die krag pal af is. Maar dis ’n storie vir ’n ander dag (en seker ook ’n ander publikasie?.?.?.). 

As julle my dan die geleentheid sou vergun om soos ’n dominee saam te vat: Gemeen-te, jy het nie beheer oor wat met jou gebeur nie, maar jy kan die beste van die situasie maak. 

Ek meen, mens sou seker kon argumenteer dit sal beter vir ons almal wees as Eskom eerder vir ’n jaar lank beurtkrag toepas (en dalk eerder vir ’n hele dag op ’n slag as ’n uur hier en daar) en dan intussen hulle probleme uitsorteer?. 

Maar laat ons nou nie hare kloof nie. Of asem ophou nie. 

Dus: Salute, Eskom. En dankie vir die skaap.

  • Lamprecht is ’n vryskut-skrywer. 
Meer oor:  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.