Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Eskom kan Cyril mos g’n skok

Vandeesweek sê pres. Cyril Ramaphosa hy is “geskok” oor die stand van sake by Eskom.

Soos Dawie al voorheen in dié ruimte gesê het, is dit werklik skokkend hoeveel ANC-hoës deesdae geskok is oor die gevolge van staatskaping wat reg onder hulle neuse plaasgevind het.

Kyk, jy kan seker verstaan dat Ramaphosa in die aanloop tot die verkiesing soveel as moontlik afstand tussen homself en die krisis by Eskom wil skep. Maar hoe lui die gesegde wat al aan Abraham Lincoln toegeskryf is? “You can fool all of the people some of the ­time, and you can fool some of the ­people all of the time, but you can’t fool all the people all the time.”

Dít is die feit dat die ANC as geheel, Ramaphosa inkluis, oor meer as twee dekades aandadig was aan die ondermyning van gewone Suid-Afrikaners se belangrikste skanse teen die mags­ver­grype en wanbestuur wat die Eskom-krisis veroorsaak het.

In die eerste plek het Ramaphosa reeds in 2014 as adjunkpresident in bevel gestaan van die sogenaamde “strydkamer” wat ’n ommekeer moes bewerkstellig by Eskom. Dié strydkamer het bestaan uit die departemente van energie, openbare ondernemings, die nasionale tesourie, samewerkende regering en tradisionele sake, ekonomiese ontwikkeling, water en sanitasie, asook uit Eskom en verskeie tegniese raadgewers. Met al dié instellings onder hom, sou Dawie reken, was niemand beter geplaas om presies te weet wat by Eskom aan die gebeur is nie.

Ja, Ramaphosa moes inderdaad ook die kanarie gewees het wat eerste die gifgasse van die staatskapingsmyn by Eskom moes bespeur. En nou hoor ons hy is geskok oor die stand van sake.

Die wáre stand van sake is dat Ramaphosa geweet het van die verrotting by Eskom, maar in die ANC nog nie genoeg van ’n politieke vastrapplek gehad het om die Zuptas hotagter te gee nie. Ja, hy het in dié opsig ’n gifbeker van Zuma ontvang en almal het dit geweet, Ramaphosa inkluis.

Hierdie is ’n baie belangrike punt, veral omdat span-Ramaphosa invloedryke Suid-Afrikaners bearbei om vir die ANC te stem en steun te werf ten einde sy hande te sterk. Stem vir die ANC, en bemagtig die president om die oorblyfsels en die nalatenskap van die Zuptas finaal by Suid-Afrika se agterdeur uit te vee, lui die argument. Omdat Ramaphosa verbasend goeie vordering gemaak het met sy skoonmaakproses, is dit ’n verleidelike redenasie.

Maar feit bly staan dat daar nog geen klinkklare bewys is dat Ramaphosa finaal die beperkende invloed van die Zuma-kliek afgeskud het nie. As hy in die Eskom-strydkamer aan bande gelê is deur Zuma se invloedsfeer, gaan dieselfde dan nie ná die verkiesing geld nie? Só beskou is ’n stem vir die ANC allermins net ’n stem vir Ramaphosa – dis óók ’n stem vir die Zuptas wat steeds in verskeie sleutelposisies sit.

Veral in die afwesigheid van ANC-kieslyste is dit boonop onmoontlik om te bepaal hoeveel Ramaphosa-vertrouelinge in verkiesbare posisies sit, en hoeveel Zuptas jou ANC-stem dalk in die parlement sal bring.

Dan is daar ’n ander saak wat kiesers behoort te verreken oor Eskom en Ramaphosa wat nou probeer afstand skep tussen hom en die gehate beurtkrag. Dít is die feit dat die ANC as geheel, Ramaphosa inkluis, oor meer as twee dekades aandadig was aan die ondermyning van gewone Suid-Afrikaners se belangrikste skanse teen die mags­ver­grype en wanbestuur wat die Eskom-krisis veroorsaak het. Ter sprake is die toesigfunksie van die parlement wat stelselmatig uitgekalwe is.

As ’n herhaling van staatskaping en die gevolge soos by Eskom werklik verhinder moet word, is dit van kritieke belang dat die parlement se toesighoudingsfunksie weer tande kry.

Op dié noot wens Dawie Ramaphosa weer sterkte toe, want hy skep inderdaad die indruk dat hy ’n roepingsbesef het en die land wil begin herbou.

Sterkte, want u politieke stryd teen die Zuptas is nog ver van gewonne.

Meer oor:  Dawie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.