Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Eskom kan Cyril mos g’n skok?

Dawie was vandeesweek geskok om te hoor dat pres. Cyril Rama­phosa weer eens “geskok” is oor die stand van sake by Eskom.

Dawie

In Februarie vanjaar was hy mos ook geskok. So, die vraag ontstaan of hy steeds geskok of wéér geskok is. In die afwesigheid van elektrisiteit sal hy seker verstaan as mense skepties is oor hoe geskok hy nou eintlik kan wees.

Maar hoe lui die gesegde wat al aan Abraham Lincoln toegeskryf is? “You can fool all of the people some of the ­time, and you can fool some of the ­people all of the time, but you can’t fool all the people all the time.”

In die eerste plek het Ramaphosa reeds in 2014 as adjunkpresident in bevel gestaan van die sogenaamde “strydkamer”, wat ’n ommekeer moes bewerkstellig by Eskom. Dié strydkamer het bestaan uit die departemente van energie, openbare ondernemings, die tesourie, samewerkende regering en tradisionele sake, ekonomiese ontwikkeling, water en sanitasie, asook uit Eskom en verskeie tegniese raadgewers.

Met al dié instellings onder hom, sou Dawie reken, was niemand beter geplaas om presies te weet wat by Eskom aan die gebeur is nie.

Ja, Ramaphosa moes inderdaad ook die kanarie gewees het wat eerste die gifgasse van die staatskapingsmyn by Eskom moes bespeur. En nou hoor ons hy is al weer geskok oor die stand van sake. Te dik vir ’n daalder.

Die wáre stand van sake is dat Ramaphosa geweet het van die verrotting by Eskom, maar in die ANC nog nie genoeg van ’n politieke vastrapplek gehad het om die Zuptas hotagter te gee nie.

Suid-Afrikaners se common sense loop nie op elektrisiteit nie.

Ja, hy het in dié opsig ’n gifbeker van Jacob Zuma ontvang en almal het dit geweet, Ramaphosa inkluis.

Maar dié verskoning geld tog nie meer nie, of hoe? Hý is mos nou die president. Dis sý werk om te weet en reg te maak waar dit verkeerd gaan.

Hy moet ook ophou wegskram van verantwoordelikheid deur Suid-Afrikaners om verskoning te vra oor wat hulle met die jongste vlaag beurtkrag “oorgekom het” (befallen them). Dis mos nou nie asof beurtkrag uit die bloute hier opgedaag het as ’n soort natuurramp of 11de Bybelse plaag nie.

Die ANC-regering het oor baie jare heen sélf dié krisis veroorsaak deur ’n kombinasie van die onbesonne toepas van regstellende aksie, gebrekkige beplanning, hopelose instandhouding, wydverspreide korrupsie en staatska­ping. Ramaphosa móét dit erken, en dan eerder die mense om verskoning vra dat die ANC hulle “oorgekom” het.

Ofskoon Dawie geen twyfel het aan die erns waarmee Ramaphosa die krisis bejeën nie, moet hy werklik nie Suid-Afrikaners se intelligensie met dié soort woordspeletjies onderskat nie.

Intussen wag die nasie nou met ingehoue asem dat daar inhegtenisnemings volg noudat die president “sabotasie” voorgehou het as oorsaak van die vlaag beurtkrag waarin ons vir die eerste keer ooit fase 6 bereik het. Dis nou bo en behalwe die “nat steenkool”.

In 2006 het Alec Erwin, indertyd minister van openbare ondernemings, mos ook beweer probleme by Koeberg is aan sabotasie te wyte.

“Daar sal opgetree word. Enige inmenging in enige elektrisiteitsinstelling is ’n baie ernstige misdaad – dit is sabotasie,” was Erwin se uitdruklike woorde. Ons wag nou nog vir die skuldige om in hegtenis geneem te word, maar indien dit wel sabotasie was, het Eskom kennelik nie veel gedoen om hul veiligheidsmaatreëls op te skerp nie.

Dawie het wel simpatie vir Ramaphosa, want diegene wat sê hy doen niks, het gewoon nie ’n idee van watter groot gemors hy by sy voorganger geërf het nie. Maar asseblief, mnr. Ramaphosa, los maar die verontskuldigings.

Suid-Afrikaners se common sense loop nie op elektrisiteit nie.

Meer oor:  Beurtkrag  |  Cyril Ramaphosa  |  Dawie  |  Elektrisiteit  |  Eskom  |  Uit My Politieke Pen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.