Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Eskom, kan jy kers vashou by die Zuptas?

Met dié dat beurtkrag weer ons voorland is, dink Vryburger onwillekeurig terug aan Mei 2016 toe Nommer Een besoek afgelê het by Eskom se hoofkantoor, Megawatt Park (in die handel en wandel nou bekend as Mikrowatt Park). Ná ’n inspeksie ter plaatse stel hy die land toe mos heldhaftig in kennis dat beurtkrag iets van die verlede is – “nooit, ooit, ooit weer nie,” het hy plegtig belowe.

Na dese moet die ou Afrikaanse spreekwoord uitgebrei word om vir staatskaping voorsiening te maak: “Hoe kaler jonker, hoe groter pronker, al dieper die Eskom-donker . . .”

Vryburger
’n Briefie aan Eisjkom.

’n Briefie aan Eisjkom

Intussen laat ’n leser weet dat hy sy brief reg het vir wanneer die volgende Eskom-tariefverhoging in werking tree. Dit lui: “Beste Eskom,

“Dit spyt my om u in te lig dat my bankrekening tans in Fase 3 verkeer weens verpligte instandhoudingswerk op my kredietkaartrekening en huislening. As en wanneer die status na Fase 2 verlaag word, is daar ’n moontlikheid dat ’n gedeeltelike betaling gedoen kan word. Ofskoon dit nie as ’n krisis beskou moet word nie, kan Fase 3-beurtbetalings enige tyd en sonder kennisgewing in die komende jaar hervat word.

“Baie dankie vir u begrip en geduld.”

Is GOOD die nuwe OD?

Met die bekendstelling van Patricia de Lille se nuwe party, GOOD, merk Vryburger op dat die party se gekose kleur oranje is – die einste kleur van De Lille se destydse party, die Onafhanklike Demokrate (OD).

Is dít ál ooreenkoms? Of gaan GOOD, nes die OD, eintlik ’n eenvrouparty sonder ’n duidelike beleid wees wat uiteindelik weens binnegevegte deur ’n ander party ingesluk gaan word? Lyk helaas nie vir Vryburger of ons hier werklik met ’n perd van ’n ander kleur te make het nie.

’n Gehawende lugdiens

Comair het nou geduld verloor met SAL se Tegniese Dienste en het daarom die versiening van sy vliegtuie na die buiteland geskuif. Daarmee is die sukkelende lugdiens verdere miljoene aan inkomste kwyt. Dit laat Vryburger dink aan die storie oor die SAL-vlug wat erg vertraag was. Toe hulle uiteindelik in die lug is, vra ’n passasier vir die lugwaardin wat die vertraging veroorsaak het.

“Die vlieënier wou nie opstyg nie oor waarskuwingsligte wat geflikker het, rook wat uit die instrumentpaneel getrek het en ’n geraas uit een van die enjins . . .,” antwoord die lugwaardin, “. . . en dit het ons toe ’n hele rukkie gevat om ’n ander vlieënier te kry!”

vryburger@dieburger.com.

Meer oor:  Vryburger
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.