Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Eskom se plettervat is lewensgevaarlik

Wanneer ek met sakeleiers uit verskillende sektore gesels, is daar tans positiewer gesprekke tussen politici, die staat en sakeleiers as wat ons in de­kades ervaar het.

Die regering koester die beginsel van samewerking tussen die openbare sektor en private kapitaal. Deels omrede die owerheid se sakke plat is, maar ook omdat pres. Cyril Ramaphosa en Tito Mboweni, minister van finansies, verstaan wat die vereistes is om nuwe kapitaal te lok. Of dit nou buitelandse kapitaal is (Pepsico wat Pioneer koop) of binnelandse kapitaal (Atterbury wat ’n ontwikkeling van R6 miljard suidoos van Pretoria aanpak), die beginsels van risiko, opbrengs en langtermynvertroue bly presies dieselfde.

Theo Vorster

Terwyl die president in Londen saam met ’n A-span, wat Johann Rupert ingesluit het, sy bes gedoen het om Suid-Afrika as ’n beleggingsgeleentheid aan die wêreld se fondsbestuurders en bankiers ten toon te stel, kom Eskom met ’n onverwagse plettervat!

Die gevolg van ’n laat, hoë, gevaarlike plettervat sonder arms is dat ’n rugbyskeidsregter se optrede beperk word tot die keuse tussen ’n geel- of ’n rooikaart.

Van ’n geelkaart kan ’n span nog probeer herstel en die tien minute met 14 spelers deurstoei. Maar ’n rooikaart beteken gewoonlik die einde van so ’n span se kanse in die wedstryd en in die geval van die Wêreldbeker-toernooi verskuif die fokus eensklaps na die volgende Wêreldbeker-toernooi vier jaar later voordat die fout reggemaak kan word.

Vra gerus vir Sam Warburton, Wallis se kaptein wat in die halfeindstryd in 2011 met ’n rooikaart afgestuur is, wat daartoe gelei het dat sy span met een punt uitgeskakel is (Wallis: 8, Frankryk: 9).

Die volgende paar weke is om ’n hele paar redes deurslaggewend vir Suid-Afrika:

Ons moet in Mboweni se me­diumtermynbegrotingsraamwerk op 29 Oktober ten minste duidelikheid kry oor die pad vorentoe vir Eskom, hoe die regering die wegholskuld en die staatsdiens se salarisrekening gaan hanteer en die belangrikste – Suid-Afrika se planne om groei en vertroue in die ekonomie te herstel.

Dít gebeur alles vandeesmaand.

Moody’s se besluit oor ons kredietgradering is vir 1 November aangeteken.

Suid-Afrika se skuldgradering is tans een kerf bo rommelstatus met ’n neutrale vooruitsig.

Gewoonlik is die volgende stap, indien ons vooruitsigte verswak het, om eers die vooruitsig na negatief te verander (geelkaart) en dan ses of 12 maande later die afgradering na rommelstatus (rooikaart) te bevestig as dinge steeds voortploeter.

Eskom se plettervat (laat, hoog, sonder arms en lewens­gevaarlik) op die ekonomie plaas Moody’s in ’n baie moeilike si­tuasie.

Moody’s kan gedwing word om te moet besluit tussen ’n geelkaart (negatief, maar ons gee julle nog ses maande om die regte besluite te neem) of direk ’n rommelstatus-rooikaart (jul toernooi is verby; fokus maar eerder op die volgende Wêreldbeker-toernooi, want dit gaan jare neem om julself weer te kan bewys).

En hier is waar die probleem met die plettervat en ’n rooikaart uitdop – die hele span of land word gestraf weens die fout van een speler, wat in dié geval Eskom is.

Hoe hard Ramaphosa, sy re­gering en sakelui ook al werk, hierdie Eskom-plettervat kan alles ongedaan maak en Suid-Afrika jare terugsit!

  • Vorster is uitvoerende hoof van Galileo Capital.
Meer oor:  Menings  |  Skep 'N President  |  Politici  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.