Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Etiese jag van wild is deel van bewarings-praktyk
Tony Weaver

Ek was verlede week bevoorreg om te gaan luister na ’n voorlegging wat dr. George Hughes aan die parlement se omgewingskomitee gedoen het.

Hughes is ’n voormalige bestuurshoof van die Natalse Par­keraad en sy plaasvervanger, Ezemvelo KZN Wildlife. Hy is ook een van die pioniers van wildvang.

Hughes het ’n oortuigende saak vir handel in renosterhoring gestel en is ook ten gunste van etiese jag.

Hy het begin deur ons daaraan te herinner dat wild op groot skaal afgemaai is in die eerste 250 jaar van koloniale heerskappy in Suider-Afrika: “Teen 1900 was drie groot soogdierspesies al op die rand van uitwissing en elke ander groot soogdier wat enige nut ingehou het, is tot klein getalle afgemaai tot waar hulle geen verdere ekonomiese of estetiese voordeel kon bied nie.”

’n Handvol versiende mense het wel besef dat as daar nie dringend ingegryp word nie, daar geen wild oor sal wees vir toekomstige geslagte nie en teen die einde van die 19de eeu is die eerste wildbewaringsgebiede verklaar – eers in Natal by uMfolozi en toe in 1898 die Sabie-wildre­servaat, die voorloper van die Krugerwildtuin.

Die suksesse wat behaal is, beteken onder meer Suid-Afrika se private sektor besit nou tot 30% van die wêreld se renosters.

Teen die vroeë 1960’s was die herstel al so verbysterend dat dit ekostelsels bedreig het. Duisende diere moes uit die reservate verwyder word om die omgewing te beskerm, eerstens deur hulle te skiet en daarna deur hulle te vang, te verkoop of na ander bewaringsgebiede te verskuif.

“Die algehele resultaat was verstommend,” sê Hughes.

“Suid-Afrika het die grootste wildbedryf ter wêreld geskep. Ons wildbestuurders het wêreldwyd bekend geword vir die programme om die getalle van groot soogdiere te herstel.

“Die suksesse van die renosterveldtogte is miskien die mees drastiese, maar vanuit ’n biodiversiteits- en bewaringshoek nie belangriker as die herstel van lewensvatbare bevolkingsgetalle van buffels, rooibokke, hartbeeste en elande nie.”

Ek vind dit dus verontrustend en verbasend dat daar min waardering vir die land se bewaringsorganisasies is.
George Hughes

Volgens hom bestaan die “na­sionale wildtrop” uit waarskynlik meer as 20 miljoen diere. Die suksesse wat behaal is, beteken onder meer Suid-Afrika se private sektor besit nou tot 30% van die wêreld se renosters.

“Ek vind dit dus verontrustend en verbasend dat daar min waardering vir die land se bewaringsorganisasies is. Dit kom voor asof heelwat tyd daaraan bestee word om ons oor die suksesse te kritiseer,” sê Hughes.

“Die private sektor wat tyd en geld in die heropbou van groot soogdiere se bevolkings belê het, word erg sleggesê. Negatiewe houdings teenoor jag en die uitdunning van wild is volop.”

Volgens hom kan die skuld daarvoor deels gepak word op die “globalisering van wildbewaring en die opkoms van nieregeringsorganisasies. Baie van laasgenoemde het gespesialiseerde belange en gebruik sosiale media op ’n kundige wyse om hul eiesoortige evangeliese bewaringstyl verder te versprei.

“Vir die meeste professionele wildbestuurders wat weet dat suksesvolle bewaringspraktyke surplusse tot gevolg het, is dié kritiek ’n vreemde en onverwagse gevolg.

“Vir ons is wettige uitdunning en jag nie moreel onverdedigbaar nie, maar die logiese uitvloeisel van ’n eeu se harde werk en om die uitwissing van ons wild te verhoed.”

Dit was ’n oortuigende en ontnugterende voorlegging deur een van Afrika se bewaringshelde.

Meer oor:  Tony Weaver  |  Wild  |  Jag  |  Bewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.