Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ewige lewe se troos te midde van die dood

In dié tyd van Covid-19 staar die dood ons soveel te meer in die gesig. Dit is sigbaarder, en dit is meer deurlopend op ons radar en in ons binnekringe.

Mense drink in hierdie tyd soveel te meer uit ons talryke godsdienstige en sekulêre geloofsbronne, en die Christelike geloofstradisie is een van hierdie bronne.

Johannes, die apostel van liefde, bied liefderyke insigte en troos. Hy vertel dat God se liefde vir ons daarin gesien word dat Jesus aan die kruis gesterf het sodat ons die ewige lewe kan hê (Johannes 3:16).

Hierdie ewige lewe is nou reeds ons erfdeel. Ewige lewe beteken ek ervaar die lewe in verbondenheid met Christus, die lewe van die hoogste kwaliteit, oorvloedige, vervullende lewe (Johannes 10:10).

Ewige lewe kry ook inhoud in hierdie woorde van Jesus: “Ek is die Opstanding en die Lewe. Wie in My glo, sal lewe al het hulle ook gesterwe. En wie in My glo, sterf nie die ewige dood nie.” (Johannes 11: 24-25) En as Johannes oor Jesus se hemelvaart praat, beskryf hy dit as die fees van God se gasvryheid (Johannes 14:2).

In die huis van God is daar baie woonplek; daar is plek vir almal.

Jesus vaar op om vir ons in die hemel plek voor te berei. In die huis van God is daar baie woonplek; daar is plek vir almal. En oor sovele jare heen sing gelowiges van daardie hemelse woonplek: “Sal die kring daarbo volmaak wees; eenmaal weer, eenmaal weer? In die beter hemelwoning, by die Heer, by die Heer?”

In die voorlaaste boek van die Bybel vertel die skrywer van die ewige lewe (Openbaring 21:1-5). Dit is ’n lewe waar mense konkreet ervaar God woon by ons, God vee alle trane van ons oë af, daar is geen dood meer nie, geen droefheid meer nie, geen geween meer nie, geen moeite meer nie.

Die see – destyds as simbool van bedreiging, risiko, onvoorspelbaarheid, vreemdheid, vernietiging en ontembaarheid – sal ook nie meer daar wees nie.

Die troos van ewige lewe te midde van dood beteken egter nie vir Johannes romantisering van die dood en wêreldvermyding nie. In een van sy briewe skryf hy oor die etiek en lewenswyse van mense wat die ewige lewe wat die liefdevolle God skenk, omarm.

Sulke mense weet die lakmoestoets vir die ewige lewe is wat ek doen as ek my medemense sien gebrek ly. Sluit ek my hart vir hulle, of betoon ek liefde op konkrete, sigbare wyse?

En Johannes weet ons hoef nie intellektuele selfmoord te pleeg om van hierdie blye versekeringe te leef nie.

Hy vertel immers van die skeptiese Thomas (oftewel Didimus, wat beteken “tweeling”). Hierdie tweelingbroer van ons het krities omgegaan met sy geloof. En in sy gestoei met sy geloof het hy gereis van sien is glo tot glo is sien! (Johannes 20:29)

  • Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Nico Koopman  |  Godsdiens  |  Geloof  |  Dood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.