Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
F. W. Reitz – standvastig en vurig tot die dood

Geskiedenismaker, vurige dienaar van die Afrikanerkultuur en gewild onder sy mense – dit was Francis William Reitz, gebore op 5 Oktober 1844 in Swellendam. Sy pa, met dieselfde name, was ’n Kaapse politikus.

Fransjohan Pretorius

Ná sy studies aan die South African College in Kaapstad en die Inner Temple in Londen word Reitz in 1867 as advokaat toegelaat. Ses jaar later word hy voorsitter van die pas ingestelde appèlhof in die Vrystaatse republiek en trou met Blanka Thesen, ’n Noorweegse immigrant van Knysna. Twee van hul bekende seuns sou Hjalmar en Deneys wees.

In 1875 word Reitz hoofregter. Hy sorg vir die totstandkoming van ’n rondgaande hof en die hooggeregshof in Bloemfontein. Sy besoeke met die rondgaande hof verseker dat hy die beskouings en lewens­wyse van die Vrystaters leer ken en begryp.

Die Britse anneksasie van die Zuid-Afrikaansche Republiek in 1877 en die Eerste Anglo-Boereoorlog wakker Reitz se Afrikanergevoel aan. In 1881 is hy medestigter van die Afrikanerbond in die Vrystaat, wat uit Engelse geledere in die republiek kritiek ontvang. As Bondsvoorsitter staan hy op die voorpunt van die ontwaking van die Afrikaner se nasionale bewussyn.

Ná die dood van sy eggenote in 1887 trou hy ’n jaar later met Cornelia Mulder.

Met die dood van Jan Brand in 1888 word Reitz met ’n volstrekte meerderheid tot staatspresident van die Vrystaat verkies. As vurige republikein werk hy vir nouer samewerking met pres. Paul Kruger se ZAR, met wie hy in 1889 ’n militêre en handelsverbond sluit.

Een van sy groot bydraes is Vrystaatse spoorwegontwikkeling, wat handel ’n groot hupstoot gee en kommunikasie verbeter. In 1892 word Kaapstad via Bloemfontein met Pretoria verbind.

Siekte dwing Reitz in 1895 om as staatspresident te bedank.

Hy lewer as voorstander van die ontluikende taal Afrikaans ’n belangrike bydrae op kultuurgebied. Met sy gedig “Klaas Gezwint en zijn paert” gee hy reeds in 1870 ’n omsetting van Robert Burns se “Tam O’Shanter’s Ride”.

Sy foutiewe aanspraak dat die Londense Konvensie van 1884 soewereine status aan die republiek verleen, word egter deeglik deur die Britse regering uitgebuit.

Ná 1875 ondersteun hy die Genootskap vir Regte Afrikaners geesdriftig en is ’n gereelde medewerker aan Die Suid-Afrikaanse Pa­triot. As volksdigter gee hy die geestigheid en idioom van die landelike spreker met ’n fyn aanvoeling weer.

Ná verskeie Europese reise verbeter Reitz se gesondheid sodanig dat hy in 1898 as staatsekretaris van die ZAR aangestel word. Dit bring reuse-verantwoordelikheid mee in ’n stadium wat die ZAR in die rigting van oorlog met Brittanje beweeg.

Sy foutiewe aanspraak dat die Londense Konvensie van 1884 soewereine status aan die republiek verleen, word egter deeglik deur die Britse regering uitgebuit.

Reitz is nóú betrokke by die opstel van die ultimatum aan Brittanje. Wanneer die Anglo-Boereoorlog in Oktober 1899 uitbreek, word sy werklas enorm. Ná die Britse besetting van Pretoria in Junie 1900 is die ZAR-regering te velde. In hierdie twee jaar van ontbering is Reitz se moed, geloof en blymoedigheid ’n inspirasie vir almal rondom hom. Verbitterd teken hy die Vrede van Vereeniging. Met Uniewording in 1910 word hy president van die senaat. Op 27 Maart 1934 sterf hierdie standvastige man met sy kragtige oortuiging.

  • Pretorius is emeritus-professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.
Meer oor:  Terugblik  |  Menings  |  Vrystaat  |  Staatspresident  |  Stemme  |  Afrikanerbond  |  Anglo-Boereoorlog  |  F. W. Reitz
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.