Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Faf, Kagiso en plaaspêlle wys ons ware SA
Charles Smith

Net as jy dink Suid-Afrika sink vir altyd weg in ’n diep put van ellende en mislikheid, gebeur daar dinge wat jou weer hoop gee.

In ’n week van die Mooinooi-onthullings, ’n pa wat skuldig bevind is aan die moord op sy baba; Cyril (met ’n paar plase) wil jóú plaas ook hê, en die tragiese Hennenman-treinramp, het iets skielik gebeur.

Die eerste iets wat my laat regop sit het, was toe kaptein Faf du Plessis in die uitstekende eerste toets teen Indië op Nuweland die Proteas se snelbouler, Kagiso Rabada, omhels en teen die voorkop soen.

Sjoe, het ek gedink, in dié land waar swart en wit mekaar takel, slegsê en vermoor, is dié ’n groot oomblik. Dit was ’n gebaar met ’n kragtige boodskap wat ’n duisend toesprake en advertensies nie kan nadoen nie.

Dit het ’n Indiër geverg om die gebaar uit te lig, wat vreemd genoeg nie juis die sosiale media plaaslik laat gons het nie. Abhiskek Baxi skryf op Twitter met die foto aangeheg: “Ná jare van apartheid en rasseskeiding gevolg deur twee dekades van isolasie van internasionale krieket, is die kaptein wat sy ster-bouler soen ’n beeld wat Suid-Afrikaanse krieket op trots kan wees.”

Hul storie is simbolies van wat ons kán wees. Hulle is die jong Fafs en Kagiso’s.

In die Vrystaat was die storie met die matriekuitslae wat uitgestaan het – naas Afrikaanse kinders wat soos altyd uitstekend presteer – leerlinge van Qwaqwa, een van die armste streke in die land, wat die tweede en derde beste presteerders, Phole Mofokeng en Refilwe Selepe, opgelewer het. Die beste was Stehann van Jaarsveld van St. Andrews.

My onderhoud met Refilwe het my diep laat nadink. Sy is die dogter van ’n taxibestuurder in ’n arm gebied – daar waar ’n ma met haar drie kinders die naweek in die Sterkfontein-dam gery het. Sy het 100% in drie vakke, wat wiskunde en fisiese wetenskap insluit, behaal. En sy wil ’n dokter word om te help om die land te red. Om Qwaqwa se armes te help.

Die onderhoud met Refilwe se hoof, Segogo Molete van die Rantsane Secondary School, het my sprakeloos gehad. Die skool het ’n program om leerlinge uit arm gesinne en huishoudings sonder ouers by te staan waartoe elke onderwyser 1% van hul salarisse bydra. Die matrieks slaap, eet en leer vir ’n jaar by die skool. En hy weet van elk van die oudleerlinge wat oor die wêreld studeer om dokters, ingenieurs en landboukundiges te word.

Ek en fotograaf Mlungisi Louw is ook na Hennenman om met twee helde in die treinramp te gesels. Evert du Preez (12) en Mokoni Chaka (12) is boesempêlle. Hulle praat Afrikaans en Sesotho vlot. Hulle jol, vang vis, swem, gooi kleilat, ry perd, braai ystervark en tarentaal. En hulle práát. Heeltyd. Vertel stories. Hul storie is simbolies van wat ons kán wees. Hulle is die jong Fafs en Kagiso’s.

Ons gaan tog orraait wees. Ek glo so, ja.

Meer oor:  Charles Smith  |  Goeie Nuus  |  Rubrieke  |  Menings  |  Krieket  |  Matriekuitslae
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.