Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Fedsas se ‘commander’
Colditz glo die Here plaas dinge op sy pad om dit gedoen te kry.

Paul Colditz lê ná meer as ’n kwarteeu se betrokkenheid by die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) die leisels as uitvoerende hoof neer. Marita Herselman het met “the commander”, soos hy onder onderwyskollegas bekend staan, gesels.

Hoe het dit gebeur dat Paul Colditz ’n hoogs gerespekteerde onderwyskenner geword het? Een op wie se knoppie Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, ten tyde­ van die Covid-19-pandemie kon druk en op wie se raad sy kon staatmaak.

Colditz (67), ’n pa van vier, wou by sy kinders se opvoeding betrokke wees en hul skole in Bloemfontein help uitbou.

Dit was toe sy oudste kind, Liezl, haar skoolloopbaan aan die Laerskool Fichardtpark begin het. Eers het hy in dié skool se beheerliggaam gedien. Later is hy tot voorsitter verkies. Later het hy ook as voorsitter van die beheerliggaam van die Hoërskool Sand du Plessis gedien. En toe kies hy om in die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) te dien.

“Ek leef nie in die verlede nie. Ek leef in nou, die hede, met die oog op die toekoms.”

Dit is jare se vasbyt en die uitdra van dieselfde boodskap, antwoord hy op die vraag oor hoe hy in sy tyd by Fedsas so gereken gebly het.

“Daai boodskap gaan oor gehalteonderwys vir elke kind in die land. Of jy nou in ’n plaasskooltjie is en of jy in ’n groot voorstedelike skool is, elke kind het die reg op goeie onderrig.

“Die Grondwet praat van basiese onderrig – dit is iets soos leer lees en skryf en so aan. Maar as jy ’n suksesvolle land wil hê, moet jy góéie onderwys hê en dit moet vir elke kind in die land beskore wees.

“Dit was die ideaal toe ek betrokke geraak het by onderwys – natuurlik vir my eie kinders, om seker te maak dat die skool waarin hulle is, ’n goeie skool is. Jy help bou aan die skool.”

Eers regsman

By sy verkiesing tot voorsitter van die Laerskool Fichardtpark, in ’n onseker tyd toe model C-skole ingebring is, het hy as praktiserende prokureur soveel moontlik oor die onderwys gaan oplees. Hy wou die wetlike raamwerk verstaan.

Onderwysreg het deel van sy loopbaan geword en hy het talle hofsake in dié verband hanteer.

In 1995 raak hy by Fedsas betrokke. Daarna word hy eers ondervoorsitter en toe voorsitter. In 2006 word hy deeltyds uitvoerende hoof. “Toe het ek so twee dae in die week Fedsas-werk gedoen en drie dae ’n week prokureurswerk. Dit het naderhand drie dae ’n week Fedsas-werk geword.”

Einde April 2008, ná 30 jaar as praktiserende prokureur, tree hy uit die regsberoep en word hy Fedsas se heeltydse uitvoerende hoof.

Sy dae as prokureur was bevredigend, maar hy was lank genoeg in dié beroep, sê hy.

Hy kan wegstap van iets en nie terugkyk­ nie, daarom gaan dit ook vir hom maklik wees om einde Oktober vanjaar die Fedsas-leisels amptelik aan dr. Jaco Deacon, huidige adjunkhoof, te gee. “Ek leef nie in die verlede nie. Ek leef in nou, die hede, met die oog op die toekoms.

“Dit gaan vir my maklik wees om weg te stap en te sê ek het my kant gebring. Daar is ’n baie bekwame span mense wat Fedsas bedryf en lei.” Hoewel hy die organisasie steeds in die media sal dophou, gaan hy hoegenaamd nie inmeng of ’n spreekwoordelike stem uit die graf wees nie, sê hy.

Waar ’n wil is

Colditz sê daar was aanvanklik baie konflik tussen Fedsas en die nasionale onderwysdepartement. Vandag is daar ’n groter mate van vertroue tussen dié twee en ’n waardering vir die feit dat hulle met mekaar in gesprek kan tree en met respek van mekaar kan verskil.

“Langenhoven sê ’n hond wat bewys het hy kan byt, hoef later net te blaf.

“Aanvanklik moes ons (Fedsas) baie byt. Later kon ons net blaf, dan word daar geluister wanneer jy praat.”

Hy het in 1999 die weg gebaan vir ’n gesprekskanaal tussen die nasionale onderwysdepartement met ’n voorstel aan prof. Sibusiso Bengu, destydse onderwysminister – ’n struktuur vir beheerliggame om met die departement te skakel.

“Dié voorstel is aanvaar en ’n nasionale raadplegende forum is tot stand gebring waarin ons kwartaalliks met die nasionale departement van basiese onderwys vergader.”

Colditz sê daar het ’n goeie verhouding tussen Motshekga en ander amptenare ontwikkel.

Sy kon op sy advies staatmaak en amptenare verwys na hom as “the commander”.

Onderwyskwessies

Hy is lief vir sy moedertaal en baklei ook om ander se regte om in hul moedertaal onderrig te kry.

“Ek het baie gesprekke met die minister (Motshekga) gehad: Maak dit moontlik vir elke taalgroep om te ontwikkel soos Afrikaans ontwikkel het. Ons is ’n diverse gemeenskap in Suid-Afrika.

“Ons Grondwet sê ons moet al ons tale gelyk hanteer en dit gebeur nie.”

Indien dit nie by skole begin gebeur nie, loop die kleiner tale ’n risiko om te verdwyn.

Hy sê dit is mense met ’n passie vir taal en geskiedenis wat gesorg het dat Afrikaans as wetenskapstaal ontwikkel. Net soos wat terminologie in Afrikaans ontwikkel is, moet die ander­ tale­ ontwikkel word.

Hy het Motshekga gevra om ruimte vir die ontwikkeling van al die landstale te maak, wat glo te veel geld gaan kos.

“Hoeveel geld verloor jy deur kinders wat nie behoorlik kan lees of skryf nie omdat hulle nie in hul moedertaal kan lees en skryf nie?”

Volgens toetsing van Suid-Afrikaanse kinders is hulle ver agter vergeleke met ’n groot deel van die res van die wêreld.

“Ek is oortuig daarvan ’n groot deel van die feit dat hulle agter is, is omdat hulle nie in hul moedertaal geleer word nie, nie geleentheid het om in hul moedertaal matriek te skryf nie.”

Hy sê daar is skole in die land wat by die beste ter wêreld kan kers vashou, maar hulle is in die minderheid.

Paul Colditz in ’n Bloemfonteinse koffiewinkel, waar Beeld met hom oor sy lewenswerk en aftrede gesels het.Foto’s: Mlungisi louw

“By die meeste skole lyk dit net nie of daar ’n plan is nie. Hoekom moet onderwysers en kinders nog puttoilette gebruik?”

Dit pla hom dat die infrastruktuurprobleme by skole onopgelos bly. Hy is kwaad oor die feit dat 3 500 skole nie water gehad het toe mense weens die Covid-19-pandemie verwoed moes begin hande was nie. “Waar was die kring- en distriksbestuurders, waar was al die burokrate binne die onderwysdepartement?

“Skielik skrik hulle wakker en binne weke moet hulle sorg dat daar by 3 500 skole water is.”

Colditz kan nie verstaan waarom dit ’n krisis moes verg om iets reg te kry waarmee byna drie dekades lank gesukkel word nie.

Ander ysters in die vuur

Colditz is nie net die grootbaas van Fedsas nie; hy is ook die nasionale voorsitter van die Sanparke-ereveldwagters en voorsitter van die Vriende van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln).

Want hy is lief vir die natuur en die bewaring en uitbou van Afrikaans lê hom na aan die hart.

“Ek sal nie sê ek is dinamies nie, maar ek hou daarvan om besig te wees. Ek hou my lewe lank maar daarvan om besig te wees.”

Hy glo die Here plaas dinge op sy pad om dit gedoen te kry. Dalk is dit ’n mate van vrees dat hy nie getrou aan sy Roeper is nie, dat hy vir so baie kans sien, sê hy.

Dit was nog altyd vir hom moeilik om “nee” te sê en hy sal by sy aftrede daaraan moet werk.

Saam met die spreekwoordelike ysters in die vuur, het hy ook gereeld ’n vleisie op die vleisbraaivuur.

Wanneer hy by die huis is, braai hy. Ten tyde van die inperking het hy 227 dae agtereenvolgens ’n vleisie op die kole gehad. Hy het einde September verlede jaar ophou tel nadat sy braaiery onderbreek is toe hy en sy vrou, Kobie, van die huis af weg was en daar nie braaigeriewe was nie.

Colditz braai vir ontspanning, maar ook om sy vrou te help wat nie lief is vir kosmaak nie en met rugpyn sukkel.

“Die enigste manier van kosmaak wat ek ken, is vleisbraai.”

Hy en Kobie, ’n heeltydse orrelis en bestuurder van die musieksentrum by die Laerskool Fichardtpark, is reeds 45 jaar getroud.

’n Tevrede mens

Hy is tevrede met sy lewe soos dit nou is. “Dit is ’n fees. Ek geniet die ouderdom. Ek is tevrede met my huis, my tuin, ek is tevrede met my vrou en ek is tevrede met Bloemfontein.”

Hulle bly ná sy aftrede aan in Bloemfontein, in dieselfde huis in Fichardtpark waarin hulle sedert Desember 1978 woon. Dit is die huis waarin sy kinders, Liezl, Ansu, Martinette en Paul, grootgeword het.

Hy het ook twee kleinkinders, Marco­ en Ruhan, en hoop om ná sy aftrede meer tyd saam met sy geliefdes deur te bring.

Colditz, oorspronklik van Estcourt in KwaZulu-Natal en die tweede jongste van vyf kinders, het in Bloemfontein beland nadat hy ’n beurs gekry het om aan die Universiteit van die Vrystaat te studeer waar hy Kobie ontmoet het.

Marita Herselman is ’n verslaggewer van Netwerk24.

Meer oor:  Paul Colditz  |  Onderwys  |  Skole  |  Fedsas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.