Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Fees van vrae, antwoorde en nog meer vrae

Soveel woorde. Soveel vrae. Soveel menings. Soveel antwoorde. Of geen antwoorde nie. Soveel ja-nees, soveel jy móét dit sien, soveel gaan kyk tog na dié of daai.

Ons dorp hou Woordfees. Woorde, klank en kleur. Dis altyd so met ’n fees, die jaarlikse inneem en opdam van inligting, indrukke en plesier. Besoekers van Nederland en Duitsland beskryf dit as ’n Afrikaanse fees, maar hier hoor jy Engels, Xhosa en selfs Vlaams.

Elke jaar is ons verbaas oor die genieting, die drang en die sweet-afvee. En menings. “Hierdie jaar is die vloekwoorde oral te hoor, maar mense loop nie meer uit nie.” Of: “Hier is so baie jongmense hierdie jaar – ’n goeie teken, nè?”

Ook: “Wil oumense regtig kyk na stukke oor oumense met al hul lawwigheid en siektes en komplikasies?” (Die antwoord blyk ja te wees – oumense gaan kyk na ander oumense se dinge.)

Op ’n dag verdedig Zapiro sy reg om aanstoot te gee. Herinner ons aan die ontstigtende spotprent van Jacob Zuma en sy kalante rondom die verkragting van Vrou Justitia.

Later lewer André Odendaal ’n onvergeetlike optrede van ’n drinker in sy eensaamheid. Oorkant die teater bak Koelsoem en Flori “soet goete” voor ’n waarderende gehoor. Die aand weerklink klanke, kitare, sang en algemene opruiery dwarsdeur die dorp.

Ons verwonder ons. Niemand praat meer van ’n boerebasaar nie. Die gespreksvenues is vol. Almal wil Sandra Prinsloo sien. Die bands bly nie agter nie.

Niemand praat meer van ’n boerebasaar nie.

Aangrypend is die kwessie van bruin wees. Sylvia Vollenhoven, gerekende aktivis, verklaar haarself nou ’n Khoi-San. Dié vurige, welsprekende vrou herinner ons dat die Khoi-San die eerste mense was wat teen die koloniste opgetree het.

Willa Boezak, steeds aktivis, verwerp die kleurbeskrywing. In die koloniale tye was dit peo­ple of colour; onder apartheid was dit kleurling. Boesak noem ons ’n potjiekoskultuur.

Kabbols Joggom, ook bekend as Hubert Matthews, ’n vurige en aangename vuurvreter van Macassar, verwerp ook die woorde kleurling en bruin. Hy het ’n boek geskryf met die titel Die mooiste Kaap met die vieslikste geheim. Hy is eers ’n mens, dan ’n Khoi-San.

In hierdie Praat Saam-bespreking bel ’n vrouestem. Die vermenging van bruin en wit is teen die Bybel. ’n Asemintreksug gaan deur die gehoor. Die jongman langs my, witter as ek, vertel dat sy ma ’n sogenaamde baster was wat met ’n Duitser getrou het. Hoe beskryf hy homself nou?

Elders troos prof. Anthony Butler dat ons land polities en ekonomies nog nie op die afdraande-spiraal is nie. Prof. Jannie Rossouw, ernstig krities oor die land, reken ons het darem nog tot 2059 voor ineenstorting.

Tony Leon wonder of ’n “peace accord”nie nodig kan wees nie.

Ek kry ’n vriend op ’n bank sit. “Dink jy Daniël du Plessis is reg vir nr. 12?” O heng, dink ek, nóg ’n vraag.

Meer oor:  Vrae  |  Rubriek  |  Mening  |  Woordfees  |  Fees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.