Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
#FeesMustFall: ‘Ek rou oor leë stoele’

In ’n tyd van studente-onluste rou Anastasia de Vries oor ’n grafstil kantoor en sy verlang na die reuk van hoop en drome. 

Anastasia de Vries

Hulle staan nou leeg, die stoele in my kantoor, troosteloos, vermoed ek. So ek gaan dit een keer sê en dan gaan ek in al 11 amptelike tale hieroor swyg, kompleet soos ons regering: #FeesMustFall.

Ek, ek rou oor leë stoele. ’n Grafstil kantoor. ’n Gang sonder die klank van jongmensstemme, studente wat klop aan dosente se deure, die reuk van hoop en drome en ’n drang na goed, beter, beste.

Dis immers hier, aan die land se universiteite, waar gelykheid en geregtigheid vir ’n Kaapse Vlakte-kind of ’n kind van die diep platteland nes vir ’n ander moontlik lyk.

As daai stoele net kon praat . . . Dis soms moeilik om ’n storie soos dié te vertel. Maar, het ek geleer, nóg moeiliker om daarna te luister met jou mond toe, sonder verweer, sonder verdedig, sonder ’n eie verhaal as eggo. Net luister.

Woorde skep wêrelde, het iemand op ’n keer gesê. So jy leer fyner luister, ook na die ongesêde woorde, die swaarkry toegevou in humor en spot.

Soms is jou kantoor hul studeerkamer en soms beland jy onder die pratery deur ongemerk saam met hulle in voorhuise wat snags omgetower word tot slaapplek vir drie of vier. Of in kombuise waar ’n matras saans onder die kombuistafel ’n bed word.

Of jy weet hoe ’n sponsmatras in ’n bad slaap? Nee, jy weet nie, maar jy sluk die impuls om te vertel van erger jare se vloerslapery. Swaarkry is immers nie ’n kompetisie nie.

En jy leer om saam met hulle te skater oor die vindingrykheid van ’n ma wat met R20 se “stukkies” by die slaghuis en ’n paar aartappels ’n hele pot kos met ’n langsous kan maak.

Jy hoor van ouers wat saans ná werk “strykwerkies” of “los werkies” doen om ’n kind se klasgeld te betaal.

Jy hoor van ouers wat saans ná werk “strykwerkies” of “los werkies” doen om ’n kind se klasgeld te betaal. Hul inkomste is net-net genoeg vir hul gesin en vir ’n afknypgeldjie om ’n kind te laat leer, maar te veel om vir ’n staatsbeurs aansoek te doen.

Jy ken daai pyn, wil jy sê, maar jy het geleer om soos hulle te luister, sonder bejammering of “Jy dink jy ken pyn? Laat ek jou van myne vertel”.

Pyn is pyn, leer jy by hulle, dit ken nie kleur of trappe van vergelyking nie.

Jou kantoor is altyd so vol studente, sê iemand onlangs. En dan ruik dit na mens.

Nee, wou ek sê, dit ruik na ’n student met sy stukkende hart in sy oë wat smiddae ná klas moet werk om sy studie te betaal omdat sy enkelpa van middel vanjaar in die tronk is en die seun nou sy sibbe se versorger en broodwinner is.

Dit ruik na studente wat vanjaar op hul familie se koste móét afstudeer en wat nie die ontwrigting van ’n akademiese jaar kan bekostig nie. Dit ruik na hoop en drome en ’n drang na beter, beste.

Maar ek het dit nie gesê nie. Soms moet ’n mens maar jou eie bang wees laat lyk na ’n geween oor leë stoele. Of oor ’n troostelose kantoor.

* Anastasia de Vries is ’n dosent by die departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland.

Meer oor:  Anastasia De Vries  |  Feesmustfall
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.