Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
#FeesMustFall is net die oortjies van die seekoei
Die studentebetogings op die kampus van die Universiteit van die Witwatersrand het kookpunt bereik toe veiligheidswagte met klippe bestook is. Die kampus se veiligheidsdienste het agter die pilare van Wits se Grootsaal geskuil terwyl woedende studente bakstene en klippe na hulle geslinger het. Foto: Simon Sonnekus

Die uiteindelike doel van die studente-opstande is die omverwerping van die nuwe Suid-Afrika, nie-rassigheid en die Grondwet, skryf Theuns Eloff.

Die hele land hou die afgelope maande die drama van studente-opstande dop. Nie sedert die 1976-Soweto-opstande is sulke wydverspreide tonele in Suid-Afrika gesien nie. Dis veral historiese wit universiteite en hul bestuur wat nie die verskynsel van voortdurende en voortslepende studente-onrus en geweld ken nie. Die skade aan eiendom beloop al na raming amper R1 miljard.

Wat is die oorsake vir hierdie verskynsels? En wat dryf die nuwe jeugbeweging?

Daar het die afgelope klompie jare ’n nuwe siening onder veral die swart jeug ontstaan – een van wydverspreide ontevredenheid met hul daaglikse belewenis 22 jaar nadat die “nuwe Suid-Afrika” ontstaan het. Hulle praat van hul “geleefde werklikheid” in ’n Suid-Afrika wat hulle steeds kultureel en ekonomies uitsluit. En dis vir hulle veral sigbaar op universiteit, waar hulle saam met wit studente studeer wat ekonomies soveel beter as hulle daaraan toe is. Hulle hou die maghebbers (die universiteite en die staat) verantwoordelik vir hierdie uitsluiting, en kritiseer die hele post-1994-orde. Hulle praat van “post-apartheid-apartheid”.

Suid-Afrika steeds deur witheid oorheers

Theuns Eloff

Dit is insiggewend dat die leierskap van die beweging uit middelklas en soms bevoorregte huise kom. Dit hoef ons nie te verbaas nie, aangesien die verskynsel van “stygende verwagtinge” – my lewensomstandighede het verbeter, maar nou wil ek nog meer hê – veral onder die middelklas voorkom. Hierdie jong mense sien die Suid-Afrikaanse werklikheid deur die oë van hul ouers tydens apartheid. En hul belewenis is dat niks verander het nie.

Volgens hul belewenis word Suid-Afrika steeds deur witheid en wit bevoorregting beheer. Die (swart) regering is slegs in ’n gesagsposisie, maar nie in beheer nie. Selfs die mense in blou (die polisie) tree teen hulle op om nie die “wit” orde te versteur nie.

’n Mens kan amper van ’n “f . . wit”-kultuur praat, soos wat graffiti en T-hemp-woorde lui.

En hieruit volg ’n sterk anti-wit-sentiment. ’n Mens kan amper van ’n “f . . wit”-kultuur praat, soos wat graffiti en T-hemp-woorde lui. En dit word nie as rassisme beskou nie, maar hoogstens as (geregverdigde) vooroordeel.

Steve Biko en Frantz Fanon

Die filosofiese wortels van hierdie beweging kom uit verskeie oorde. Steve Biko se swart bewussyn het ’n rol gespeel. Maar die Franse dokter-joernalis-filosoof Frantz Fanon het ’n sterker rol gespeel. Die anti-wit- en dekolonialiseringstemas kom uit sy werk in die laat 50s toe Algerië onafhanklikheid van Frankryk gekry het. “Dekolonialisering” word baie in die geledere van die nuwe jeugbeweging gehoor, en dit behels dat in die samelewing (en ook die universiteite) alles wat (nog) koloniaal (lees: wit en Westers) is, moet verdwyn. Dit sluit simbole, standbeelde, boeke en die kurrikulum in.

Die nuwe swart jeugbeweging wil die geleentheid gegun word om, sonder die inmenging en teenwoordigheid van wit mense, oor hul benadeling en geleefde werklikheid te praat.

Die nuwe swart jeugbeweging wil die geleentheid gegun word om, sonder die inmenging en teenwoordigheid van wit mense, oor hul benadeling en geleefde werklikheid te praat. Dit word “veilige ruimtes” genoem, en mag net deur dié wat dieselfde rassebelewing het, binnegegaan word. Daarom word rektore beveel om te “sit as jy met ons praat” en word wit studente die geleentheid geweier om in debat te tree.

’n Ander tema wat prominent is, is dié van “okkupasie”. Die swart benadeeldes moet die wit ruimtes van universiteitskampusse en senaatsvergaderings (Wits) oorneem en in besit neem. Verlede Vrydag het een van die leiers van #FeesMustFall by Wits, Mcebo Dlamini, verklaar dat hulle nie meer vir Adam Habib as rektor erken nie en hy het homself tot tussentydse rektor verklaar. Iets soortgelyks het ook vroeër op die Vaaldriehoekkampus van die NWU gebeur.

Dan is daar die byna religieuse ywer waarmee die nuwe jeugbeweging verwag (nee, eis) dat alle ander studente en dosente moet ophou studeer en werk en hulle in hul stryd vir ’n beter samelewing steun. Dit word gesien in die sluiting van kampusse deur studente (soos by die Universiteit van Kaapstad) en die intimidasie van die meerderheid studente en personeel wat durf waag om met hul studies en werk voort te gaan.

Geweld bars los op die kampus van die Universiteit van die Witwatersrand. Foto: Simon Sonnekus

Geweld deel van die filosofie

Fanon word ook gebruik om die gebruik van geweld te regverdig. Geweld is ’n noodsaaklike element van protes om “vrees by die status quo” in te boesem. Natuurlik regverdig die studente hul geweld ook deur te sê dat die owerhede en polisie hulle daartoe gedryf het, maar geweld as ’n beginselopsie is reeds deel van die filosofie. Soos ons gesien het, word vuur ook baie prominent in die geweldsoptrede gebruik.

Op grond van hierdie filosofiese standpunte het die EFF op baie kampusse (veral waar hy die studenteraad beheer) begin om die situasie partypolities uit te buit. Ernstige verskille tussen ander studente-organisasies soos Sasco en die ANC-jeugliga dra verder tot onstabiliteit by. Maar ek sien, anders as sommige politici, nie ’n onheilspellende “derde mag” in die nuwe jeugbeweging nie.

Kritiek op die nuwe jeugbeweging is nie moeilik nie. In ’n grondwetlike demokrasie is die gebruik van geweld heeltemal onaanvaarbaar. Hier is ook ’n vervanging van die Grondwet (en die ANC) se nie-rassigheid, wat gevaarlike en polariserende gevolge kan hê. En die jeugbeweging sluit gesprek, debat en kompromie (ten minste in hierdie stadium) heeltemal uit. Hulle eis volkome oorgawe en omverwerping van die huidige orde. Hulle is in geheel teen “rainbowism”.

Omverwerping van die nuwe Suid-Afrika

Dis vir die breë spektrum van die Suid-Afrikaanse leierskap belangrik om hierdie verskynsel te verstaan, anders sal dit nie korrek gekonfronteer en bestuur word nie. Klasgelde en gratis hoër onderwys is slegs die oortjies van die seekoei. Die uiteindelike doel is die omverwerping van die nuwe Suid-Afrika, nie-rassigheid en die Grondwet. Daarom sal daar nooit aan die werklike eise voldoen kan word nie – die doelpale sal in elk geval voortdurend geskuif word. Op mediumtermyn sal universiteitsbesture en -rade dit moet besef as hulle die akademiese jaar, maar ook die wese van ons universiteite, wil red. En die regering sal sterker leiding moet gee – dit gaan oor meer as klasgelde.

* Theuns Eloff is uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting.

Meer oor:  Theuns Eloff  |  Feesmustfall
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.