Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
'Wat 'n vrou moet wees' - Die 1ste Afrikaner-feminis

Hoe vroulikheid en manlikheid in Afrikaner-nasionalisme figureer, bepaal uiteindelik wie onthou word en wie nie, skryf Christi van der Westhuizen.

Skets: Hanlie Malan

Net voor Vrouemaand verby is, is dit gepas om by die eerste feministiese boek in Afrikaans stil te staan. Vrou en Feminist, of Iets oor die Vrouevraagstuk het in 1921 verskyn, geskryf deur Marié du Toit, nogal met Nasionale Pers as uitgewer. (Die ekstra “t” aan feminis is ’n Hollandse oorblyfsel, wat ook elders in haar boek opduik.)

Dat Du Toit die skrywer van ’n boek oor die f-woord was, is deels interessant weens haar veel meer beroemde familielede: sy was die dogter van Stephanus Jacobus du Toit, bekend as vroeë kampvegter vir die Afrikaanse taal, en suster van Jakob Daniël du Toit, oftewel die digter Totius.

Hoewel haar boek uitsonderlik was en terselfdertyd minstens vyf herdrukke gehad het, geniet haar broer en pa aansienlik groter bekendheid in Afrikanerdom.

Hul aansien het op die oog af te doen met hul aktiwiteite as kulturele entrepreneurs in die uitbouing van Afrikaner-nasionalisme, insluitende hul vertaling van die Bybel in Afrikaans.

Maar as mens die lens wyer trek, gaan dit in groot mate oor hoe vroulikheid en manlikheid in Afrikaner-nasionalisme figureer. Dít bepaal uiteindelik wie onthou word, en wie nie.

Sy bied ’n alternatiewe visie van vryheid aan.

Die hewige ideologiese gevegte van die eerste helfte van die 20ste eeu in Suid-Afrika, ook tussen mense wat hulself in die Afrikaanse taal wou uitdruk, is half vergete. In ’n familie soos die Du Toit’s sien ons hierdie strominge teen mekaar indruis. Maar wat uiteindelik behoue bly om tot die illusie van ’n eenvormige Afrikaner-identiteit by te dra, is die manspolitiek van Afrikaner-nasionalisme.

Totius het gedigte geskryf in bundels met titels soos Uit Donker Afrika en met reëls soos: “Trekker met sy roer, sy os, sy wa, sy Boek/wat in die binneland sy dure vryheid soek.” Totius se Afrikaner is duidelik manlik en beweeg in ’n manlike wêreld.

Gegewe die trant van die gedig, verwag ’n mens dat die trekker se lys van besittings ook “sy vrou” sou insluit. Tog nie. Klaarblyklik mag vroue nie eens in daardie kapasiteit Totius se nasionalistiese missie binnedring nie. Uiteraard was hy dan ook destyds daarteen gekant om vroue die stemreg te gee, en het ’n kommissie in die Gereformeerde Kerk gelei wat in 1920 ’n aanbeveling daarteen gemaak het, skryf Christina Landman.

In Vrou en Feminist trek Du Toit implisiet te velde teen haar broer se posisie oor stemreg. Sy bied ’n alternatiewe visie van vryheid aan. Eers beskryf sy die vroulike toestand: “Alle oorspronklikheid en verskeidenheid is verdring in ’n doodse alledaagse groef. Wie weet watter talentvolle vroue Afrika al kon gehad hê was dit nie vir die verlammende, dodende idee wat hier heers omtrent wat ’n meisie en vrou moet wees.”

Die voorblad van Du Toit se boek.

Du Toit vat “vroueverguisers” aan wat meen dat feminisme ’n “vreemde invloed” is en stel haar eis om vryheid: “vrouens wat nou ywer vir nog meer vryheid en regte (is nie) ‘gekweek’ onder vreemde invloede nie, soos hier gesê word deur vroueverguisers, maar dat ons soos alle kreature gebore is met ’n sterk vryheidsgevoel.”

Haar boek is dus nie net ’n betoog om stemreg nie, wat uiteindelik in 1930 aan wit vroue toegestaan is, maar ook om ekonomiese onafhanklikheid vir vroue, wetsbeskerming vir vroue binne en buite die huwelik, gelyke onderwys en betaling, ensovoorts.

Sy konfronteer die gesin as sentrale instelling in Afrikaner-nasionalisme: vroue word met die gesin vereenselwig terwyl dit ’n instelling is waarin hulle as mindere geposisioneer word. Daarteenoor kan mans identiteite skep wat afsonderlik van die gesin staan. Vroue moet hul eie lewe kan lei en verantwoordelikheid daarvoor kan neem, eis sy.

Vir Du Toit sluit onafhanklikheid in om die keuse uit te oefen om nie te trou nie, ’n posisie wat haar uitsonderlik maak vir haar tyd, gewis in Suid-Afrika: “Is dit nie reeds ’n waarborg vir gelukkiger huwelike nie as ’n meisie, terwyl sy onafhanklik is deur haar werk, kan wag om te trou totdat sy seker is dat sy dit wel wil ... nie te trou vir ’n bestaan of deur nood gedrywe nie, wat meestal lei tot ongeluk ...”

Prof. Christi van der Westhuizen

In ’n ander tersluikse aanval op haar broer se idee van vroulikheid bestee Du Toit ook heelwat ruimte aan wat sy noem die “erg eensydige” en “inkonsekwente” ophaling van die Bybel teen vroue. As “die enigste Afrikaner-Calvinistiese feminis”, soos Landman haar noem, het sy die idee van vroue as die “eienaardige, gevaarlike werk van die Skepper” verwerp.

Vir Du Toit is die alternatief tot ’n “geruïneerde lewe” die aangryping van die “lewenswaarheid” dat “jy jou part in die lewe mag speel afgesien van die een ou paadjie wat afgemerk is vir miljoene van vroue”. Haar weergawe van Afrikaner-vroulikheid het persoonlike, ekonomiese en intellektuele outonomie en vryheid, politieke bemagtiging en eie morele verantwoordbaarheid behels. Geen wonder haar anderste Afrikanerheid is eenkant geskuif en uiteindelik grootliks begrawe nie.

Du Toit is in 1931 in Potchefstroom op 51-jarige ouderdom aan tuberkulose oorlede.

* Prof. Van der Westhuizen is medeprofessor in sosiologie aan die Universiteit van Pretoria, en genoot van die Democracy Works-stigting.

Meer oor:  Potchefstroom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.